Genl. Christiaan Frederik Beyers (1869-1914)

Sir Arnold Theiler
May 3, 2017
Carl von Brandis
May 3, 2017

(Geskryf deur JL Hattingh, soos verskyn in Historia Junior)

Voor die Hoërskool Voortrekker te Boksburg is ’n meer as lewensgroote borsbeeld van genl. CF Beyers. Van hierdie geëerde leier, wat ’n gewone inwoner van Boksburg was, bestaan daar, sover as dit bekend is, geen ander monument in ons land nie. Daarom is die monument die trots van die skool. Terselfdertyd vorm dit ’n bydrae tot die verering van ons land se groot helde.

Christiaan Frederik Beyers is op 23 September 1869 in die Kaapkolonie gebore en het naby Stellenbosch grootgeword. Saam met hom het aan die toentertydse Victoria Kollege, wat later die Universiteit van Stellenbosch geword het, die latere bekende genl. JC Smuts en dr. DF Malan, albei gewese eerste ministers van ons land, gestudeer. Afgesien daarvan dat Beyers hom op akademiese gebied goed van sy taak gekwyt en bo die gemiddelde gepresteer het, was hy ook ’n geesdriftige en goeie rugbyspeler. Gedurende 1891, toe hy hom as jong man in die Zuid-Afrikaansche Republiek gevestig het, het hy die Transvaalse span teen die besoekende Britse toerspan verteenwoordig.

Nadat hy hom in Pretoria as prokureur bekwaam het, het hy na Boksburg verhuis om daar sy beroep uit te oefen. Tot op die stadium was hy nog geen burger van die republiek nie, omdat nuwelinge in dié staat veertien jaar moes wag om genaturaliseerde burgers te kan word. Die Jameson-inval, vroeg in 1895, het Beyers egter gehelp om gouer vir burgerskap te kwalifiseer, omdat hy as vreemdeling sy bereidwilligheid getoon het om sy nuwe land teen gevare te help beskerm.

Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog in 1899 het Beyers net pas sy dertigste verjaardag agter die rug gehad en het hy hom aan die oorlogsfront as gewone burger bevind.

By verskeie geleenthede het hy op die slagveld as ’n potensiële leier na vore getree en dus geleidelik as militaris opgang gemaak. Hy is eers tot veldkornet bevorder en toe Pretoria vroeg in Junie 1900 deur die Britse magte beset is, was Beyers een van die offisiere wat die minste van oorgawe wou weet.

Slegs ’n jaar nadat die oorlog begin het, was hy reeds assistent-kommandant-generaal van al die kommando’s in Noord-Transvaal.

Onmiddellik het hy met ’n ferme beslistheid sy nuwe amp aanvaar. As ’n nuwe leier van kommando’s waarin die gees van slapheid reeds diep gevreet het, het dit hom nie lank geneem om die aanvanklike misnoeë onder die ouere leiers oor sy aanstelling te oorkom nie. As diep oortuigde Christenmens het hy gereeld godsdiensoefeninge en bidure laat hou, jong burgers vir hulle aanneming laat voorberei en ’n strenge dissipline gehandhaaf. As skerpsinnige bevelhebber het hy etlike suksesse behaal met manskappe wat vroeër in die oorlog tot weinig in staat was. Daarby het hy met enige persoon wat moedeloos geraak het vir dit waarvoor hulle geveg het met die doodsvonnis of ’n hoë boete weer tot getrouheid aan die volksaak en owerheid gedwing. Hiermee het hy gou alle swakheid onder sy burgers die kop ingeslaan, terwyl sy vasberadenheid en minsaamheid alom geëer is.

Toe die oorlog byna twee jaar later sy einde genader het, was genl. Beyers alom bekend en beroemd. Hy is tydens die vergadering te Vereeniging waar die Boere-afgevaardigdes gedurende Mei 1902 byeengekom het om die vredesvoorstelle te bespreek, tot voorsitter verkies.

Die oorlog is beëindig. Die tyd van opbou het aangebreek. Die jare het verbygegaan en toe die nuwe verenigde land, die Unie van Suid-Afrika, in 1910 tot stand gekom het, was CF Beyers ’n man van forse gestalte. Sy ou oorlogskamerade het ’n hoë dunk van sy militêre bekwaamheid gehad. Sy vermoë om stilweg die beste uit sy onderhoriges te haal, het die land se leiers genoop om hom as die pas gestigte weermag se eerste kommandant-generaal aan te stel. As eerste in bevel van ’n nuwe weermag het hy reusewerk verrig. Ongelukkig was die hele Europa teen die helfte van 1914 ’n kruitvat en die skietvoorval in Serajewo was die vonkie vir die ontploffing.

Die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het ook nuwe probleme vir Suid-Afrika beteken. Onder die gewone bevolking en in hoë regeringskringe was die vraag of die Unie sou moes deelneem of buite die oorlog mag staan. Oral was verdeelde gedagtes. Omdat Beyers as kommandant-generaal van die weermag nie sy weg oopgesien het om vir sy eertydse vyand in die bresse te tree nie, het hy sy pos as hoof van die weermag neergelê. Kort voor lank het hy hom by die groep rebelerende burgers van die land gevoeg. Tydens een van hulle ontvlugtings het genl. CF Beyers in die vol Vaalrivier verdrink en so aan die einde van sy jong en belowende lewe gekom (8 Desember 1914).

Ten tye van sy dood was hy nog maar vyf en veertig jaar oud.