Thomas Ochse Honiball (1905-1990) was ’n Afrikaanse strokiesprenttekenaar, algemeen beskou as die vader van hierdie genre in Afrikaans. Hy studeer argitektuur by die Universiteit van Kaapstad, waarna hy na Chicago in die VSA vertrek. Hier kom hy in aanraking met die Amerikaanse strokiesverhale, wat veral in nuusblaaie verskyn. In Suid-Afrika werk hy eers as vryskuttekenaar, waarna hy D.C. Boonzaaier by Die Burger as vaste politieke spotprentkunstenaar opvolg. Sy skeppings soos Oom Kaspaas, Jakkals en Wolf, en die Adoonse van die Magaliesberge, verskyn in die Huisgenoot en Landbouweekblad.