Opstaan

Na afloop van die allerverwoestende Anglo-Boereoorlog was die Afrikaners ’n getraumatiseerde gemeenskap. Hulle was militêr verslaan, polities onmagtig, ekonomies verarm en kultureel bedreig. Die verslaentheid word beskryf deur Jan FE Celliers se gedig, “Dis al”:

Dis die blond,
dis die blou:
dis die veld,
dis die lug;
en ’n voël draai bowe in eensame vlug –
dis al
Dis ’n balling gekom
oor die oseaan,
dis ’n graf in die gras,
dis ’n vallende traan –
dis al

TC Pienaar skryf in 1904: “Die volk was moedeloos omring deur duisternis; nêrens was daar ’n straal van hoop meer nie. Duisende vaders en moeders van die opkomende geslag was daar nie meer nie, en radeloos het die jeug van die volk gesmag na leiding en hulp. Maar in die as van die verbrande wonings het die vuur nog gesmeul; in die hart van die nasie het die wil om weer op te staan, nog flou gepols.” ’n Brief, gedateer 4 Augustus 1902, aan ’n banneling in Ceylon getuig van hierdie moed en wilskrag:

“Daar is nou vrede in die land, maar nie soos ons verwag het nie. Die twee klein Republieke bestaan nie meer nie. Almal van ons, het ons wapens afgegee. Ons moes ’n briefie onderteken waarin ons Koning Edward as ons wettige Soewerein erken. Maar ons moenie treur soos een wat geen hoop het nie. Ons moet glo en hoop en vertrou. Ons besit op die oomblik vier perde, twee muile en ’n paar skape. Gister het ek ’n emmer koring gesaai. Sodra ek kan, sal ek nog saai en plant. As Pa van Ceylon af terugkom, sal ons spoedig weer ’n boerdery op die been kan bring.”

Drie Boeregeneraals, Louis Botha, Koos de la Rey en Christiaan de Wet, het in Europa geld probeer insamel vir die nood onder Afrikaners. Ten spyte van die helde-ontvangs, kon hulle in Nederland, België, Duitsland en Frankryk slegs £125 000 insamel. Simpatieke Kapenaars het £60 000 bygedra en die Britse regering het £3 miljoen geskenk. Die fondse is in die Generale Boeren Hulp Fonds gestort waarvan ’n groot deel gebruik was om weesinrigtings in Transvaal en die Vrystaat te stig.

Foto 2

Weeskinders na die Anglo-Boereoorlog

Georgina Solomon, vrou van die Kaapse parlementslid JP Soloman, het in 1905 aan die South African News geskryf dat Afrikanerkinders sonder skole was en nie in hul moedertaal onderrig mag word nie. Skoolgeboutjies wat die boere in hul armoede in skure opgerig het, was sonder nodige onderrigmateriaal en toerusting. Na die oorlog is Suid-Afrika boonop getref deur die ernstigste droogte in 50 jaar wat saamgeval het met ’n verlammende ekonomiese depressie en misoeste wat tot 1909 geduur het. Solomon vertel die aangrypende verhaal van Afrikanervroue wat hulself in spanne van nege voor ’n ploeg ingespan het, omdat daar geen osse was om die ploeg te trek nie. Toe sy oor gedeeltes van hierdie geploegde lande geloop het, het sy gevoel sy loop op heilige grond.

Die stryd om behoud van menswaardigheid en eie identiteit was ’n samebindende faktor vir die na-oorlogse Afrikaners. Afrikaners het hul plase, kerke en dorpe in ’n rekordtyd herbou. Hulle het politieke partye, skole en kultuurinstellings gestig, maar selfs in die tyd van allergrootste nood het Afrikaners getrou gebly aan hul roeping om die evangelie in Afrika te verkondig. Met pennies en sikspense van arm Afrikaners het die Vrystaatse NG Kerk in die eerste dekade na die oorlog die Manne- en Vroue-Sendingbond gestig om sendelinge na onder andere Noord-Rhodesië, Njassaland en Zambië te stuur.

In sy gedig “Vergewe en vergeet” beklemtoon Totius die sentiment. Hy gebruik as metafoor vir die oorwonne republieke ’n klein doringboompie wat deur die ossewa (Britse Ryk) platgetrap is. Hy sinspeel op Afrikaners se vermoë om die smarte van die oorlog te kon vergewe deur nie vasgevang te word in die greep van bitterheid nie, maar “met die salf van eie gom” uit die as op te staan.

Daar het ’n doringboompie
vlak by die pad gestaan,
waar lange ossespanne
met sware vragte gaan.

En eendag kom daarlanges
’n ossewa verby,
wat met sy sware wiele
dwars-oor die boompie ry.

“Jy het mos, doringstruikie,
my ander dag gekrap;
en daarom het my wiele
jou kroontjie platgetrap.”

Die ossewa verdwyn weer
agter ’n heuweltop,
en langsaam buig die boompie
sy stammetjie weer op.

Sy skoonheid was geskonde;
sy bassies was geskeur;
op een plek was die stammetjie
so amper middeldeur.

Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
want oor sy wonde druppel
die salf van eie gom.

Ook het die loop van jare
die wonde weggewis –
net een plek bly ’n teken
wat onuitwisbaar is.

Die wonde word gesond weer
as jare kom en gaan,
maar daar die merk word groter
en groei maar aldeur aan.

Afrikaans blom

Na die oorlog het Afrikaans vir Afrikaners toenemend ’n simbool van hul eie identiteit geword. Daarteenoor was taal ’n wapen in Brittanje se hand om deur verengelsing Afrikaners se kulturele identiteit te vernietig en gehoorsame onderdane te kweek. Steyn waarsku: “Die taal van die veroweraar in die mond van die verowerde is die taal van slawe.”

Soos wat Britse imperialiste die Britse Ryk se koffers gevul het met die nuutgevonde skatte uit die Suid-Afrikaanse goud- en diamantvelde en Milner met sy verbete imperialistiese aanslag gepoog het om Afrikaners te verengels, het Afrikaners in ’n rekordtyd dorpe en plase weer hervestig en meer as ’n duisend CNO-skole gestig.

Foto 3Eugène Marais se gedig, “Winternag” wat in 1905 verskyn het, was een van die belangrikste gebeurtenisse tydens die Tweede Afrikaanse Taalbeweging. Die gedig wat onder die skuilnaam “Klaas Vakie” verskyn het, het reeds al die kenmerke van moderne Afrikaans bevat. Die gedig het Afrikaanssprekendes oortuig van die skeppende vermoë en skoonheid van Afrikaans. Gustav Preller het voorspel dat indien slegs ’n paar versreëls van Afrikaans na ’n eeu sou oorleef, hierdie gedig een van hulle sal wees.

 

Koud is die windjie, en schraal!
En blink in die doflig en kaal –
zó wijd as die Heer se genade –
die velde in sterlig en schade.
En hoog op die rande,
verspreid in die brande,
is die gras-zaad aan’t roere zo’s wenkende hande.

O! treurig die wijsie
op d’ooswind se maat,
zo’s die stem van ’n meisie,
in haar liefde verlaat!
In elke gras-blaar se vouw
blink ’n druppel van douw,
en vinnig verbleek dit tot rijp in die kou.

Foto 4

Die woorde van DF Malan aan die voet van die Taalmonument

Teen 1908 het die Afrikaanse taalstryd op vele terreine vlamgevat. DF Malan het as voorsitter van die Afrikaanse Taalvereniging op 13 Augustus 1908 ’n leidinggewende toespraak gehou met die tema: “Dit is ons erns!” Hierdie toespraak was ’n antwoord op Onze Jan Hofmeyr se vraag: “Is het ons ernst?” en Gustav Preller se artikelreeks: “Laat’t ons toch ernst wezen!” Malan antwoord: “Iedre lewende, kagtige taal word gebore op die bodem van die volkshart … Geen taalgeleerde kan ’n lewende taal maak nie, ewemin as wat ’n skeikundige lewe in sy laboratorium kan skep.” Hy moedig jong Afrikaners wat hul taal lief het aan om hul talente te gebruik om Afrikaans as skryf- en kultuurtaal te ontwikkel.

Afrikaners het begin om Afrikaanse liedere, prosa en poësie te skryf. Afrikaanse Debatsverenigings is gestig. Koerante soos Vriend des Volk (Vrystaat) en De Volkstem (Transvaal) het Afrikaans ontwikkel tot ’n joernalistieke taal. Kultuurvereniginge soos die Transvaalse Afrikaanse Taal Genootskap (1905) en die Vrystaatse Afrikaanse Taal Vereniging (1906) het die weg berei vir lewenskragtige Afrikaanse dramas en verhoogproduksies. Nadat die vroeëre publikasie van die GRA, Ons Klyntji, gestaak is, het die eerste Afrikaanse tydskrifte die lig gesien. Die Brandwag het in 1910 in Pretoria en Ons Moedertaal in 1914 op Stellenbosch verskyn.

In 1909 is die Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst gestig. Die doel van die Akademie was die bevordering van Afrikaans as hoëfunksietaal. Die Akademie het in 1914 die Hertzogprys ingestel, wat vandag nog die prestige- letterkundige prys is. Die prys het ontstaan ná ’n taalstryd-hofsaak in die Vrystaat. Hertzog het met sy onderwyswette gelyke behandeling vir Hollands en Engels op skool verseker. ’n Paar skoolinspekteurs se weiering om die wet uit te voer het tot ʼn hewige debat en ’n lastereis gelei wat Hertzog verloor het. Hy moes ook die hofkoste betaal. As teken van ondersteuning het Afrikaners geld ingesamel om die boete en onkostes te betaal. Die fondse wat oor was, het Hertzog aan die Akademie geskenk om ’n prys in te stel vir die bevordering van die Afrikaanse letterkunde. Die eerste Hertzogprys is in 1916 vir Totius se digbundel Trekkerswee toegeken.

Op aandrang van CJ Langenhoven het die Kaapse Provinsiale Raad in 1914 Afrikaans as ’n laerskooltaal erken. Die Vrystaat en Transvaal het later in 1914 dieselfde besluit. Afrikaans het ná die Langenhoven-ordonnansie van 1914 spoedig ’n onderrigtaal geword. Top- Afrikaanse skole het in al die provinsies tot stand gekom; Jan van Riebeeck in Kaapstad, Helpmekaar in Johannesburg, die Afrikaanse Hoër Seunskool en die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria. In Bloemfontein is die Oranje Hoër Meisieskool en die Sentrale Hoërskool gestig.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het besef dit is noodsaaklik om Afrikaans behoorlik te standaardiseer. Die Akademie het op sy jaarvergadering in Julie 1914 in Bloemfontein ’n voorstel van Langenhoven aangeneem om ’n spellingkommissie in te stel. Dié moes spelreëls aanbeveel sodat daar ’n eenvormige spelling kon kom. Eenvormige spelreëls sou veral vir die skrywers van skoolboeke van groot waarde wees. In 1915 het die Spelreëls verskyn en in 1917 die eerste uitgawe van die Afrikaanse Woordelijs en Spelreëls wat ’n wesenlike bydrae gelewer het om Afrikaans as skryftaal te standaardiseer.

Die toenemende behoefte om in Afrikaans te lees en te skryf het tot die totstandkoming van die Nasionale Pers gelei asook die verskyning van Die Burger op 26 Julie 1915 onder die redakteurskap van ’n voormalige NG Kerk predikant, DF Malan. Die eerste sin van die eerste hoofartikel vertel iets van die onderliggende emosie van die geloofsdaad: “De Burger is ’n kind van de smart en van de hoop”. Die Nasionale Pers het met ’n uitgewery begin. In 1916 het Die Huisgenoot as gesinstydskrif verskyn. Dit was eers ’n maandblad en het in 1923 ’n weekblad geword. In 1917 het Nasionale Pers Die Volksblad in Bloemfontein oorgeneem. Na die Rebellie is Ons Vaderland as ’n noordelike koerant gestig. Dit is uitgegee deur die Noordelike Drukpers Maatskappy Beperk wat in September 1915 gestig is. Daaruit het die Afrikaanse Pers Beperk ontstaan wat ontwikkel het tot die persgroep, Perskor. In 1919 het die eerste Afrikanervroueblad, Die Boerevrou, met Mabel Malherbe as redaktrise verskyn.

Die Unie van Suid-Afrika

Foto 5

Generaal Louis Botha as Eerste Minister

Dag en datum, skaars agt jaar na die Vrede van Vereeniging, kom die Unie van Suid-Afrika op 31 Mei 1910 tot stand. Die oudstryder en Boeregeneraal, Louis Botha, word verkies as eerste minister. Die politieke toneel van die Unie-kaart sou vir die volgende 50 jaar deur die premierskap van drie Boereoorloggeneraals, naamlik Botha, Smuts en Hertzog oorheers word.

Volgens die Unie-grondwet is die voormalige vier selfregerende kolonies as provinsies binne die Unie saamgevoeg. Die regeringstelsel was gebaseer op die Britse Westminster-stelsel waar die parlement ten opsigte van binnelandse sake onafhanklik was, maar ten opsigte van buitelandse sake onderworpe was aan die Britse parlement en buitelandse beleid. Dit het die tafel gedek vir Suid-Afrika se betrokkenheid by twee wêreldoorloë. Binne die monargale-demokratiese stelsel het die goewerneur-generaal in Britse kolonies die Britse monarg as staatshoof verteenwoordig.

Afrikaners het die Uniale bedeling nie gelate aanvaar nie. Die wonde van die Anglo-Boereoorlog was nog te rou. Kort na Uniewording het politieke tweespalt in die kabinet uitgebreek vanweë verskille tussen Hertzog en Botha. By Hertzog het Suid-Afrika se belange die swaarste geweeg, terwyl Botha en Smuts Brittanje se belange voorop gestel het met hul eenstroombeleid van konsiliasie, versoening, vergewe en vergeet. Hertzog het sterk ondersteuning van ander Boeregeneraals soos De la Rey en De Wet gekry. De Wet het op ’n komposhoop uitgeroep: “Ek staan eerder te midde van my volk op ’n mishoop as tussen vreemdelinge op ’n skitterende verhoog.” Die verskillende politieke rigtings het binne vier jaar tot ’n skeuring in die Botha-kabinet en die stigting van die Nasionale Party in 1914 gelei.

Die nuwe Uniale grondwet het nagelaat om die grootste deel van die Suid-Afrikaanse bevolking, naamlik die swart bevolking, se politieke aspirasies aan te spreek. Die direkte gevolg van die versuim was die stigting van die ANC in 1912 met die doel om verset teen die regering te mobiliseer. Beide die Nasionale Party en ANC was nasionalistiese bewegings wat die beskerming van groepsbelange vooropgestel het. Die twintigste eeu is voortaan gekenmerk deur die stryd tussen Britse imperialisme, Afrikanernasionalisme en Afrika-nasionalisme.

Die 1914-Rebellie

Afrikaners was in beginsel gekant teen die gedagte om Brittanje in ’n oorlog te steun teen ’n land wat hulle nog nooit enige kwaad aangedoen het nie. Die vonkie by die kruitvat wat Suid-Afrika laat ontplof het, was die besluit van die Unie-parlement in September 1914 om in ooreenstemming met ’n versoek van Brittanje aktief tot die oorlog teen Duitsland toe te tree en die Duitse kolonie Suidwes-Afrika aan te val. Onder leiding van voormalige Boeregeneraals soos Christiaan de Wet, het Afrikaners teen die besluit gerebelleer. Die gebeure het tot intense spanning en selfs skeuring in Afrikanergeledere gelei.

Op 15 September 1914 is De la Rey in ’n padblokkade op pad na Potchefstroom doodgeskiet. Een van die mees omstrede en verdelende kwessies was Smuts se hardnekkige besluit om ten spyte van pleitroepe om begenadiging toe te laat dat Jopie Fourie op grond van sy deelname aan die Rebellie op 20 Desember 1914 tereggestel word.

Afrikaners was geskok oor die daad waar ’n Afrikaner ’n mede-Afrikaner ter dood veroordeel het. Baie Afrikaners kon Smuts dit nooit vergewe nie. Jopie Fourie het ’n martelaarstatus gekry en ’n naoorlogse simbool geword van Afrikaners se republikeinse strewe. Toe Smuts in 1948 sy setel in Standerton verloor, het iemand uit die skare geroep: “Nou is Jopie Fourie gewreek!” Jan FE Celliers beskryf die impak van die teregstelling met die woorde:

Foto 6Daar trek ’n koeël, met spoed, met spoed;
Hy’s nat van Afrikaner-bloed,
en smart die boodskap wat hy voer;
hy kom uit Afrikaner-roer,
hy kom deur Afrikaner-hart.
Maar met die roue en die smart
bring hy die hart se kragte oor.

Slaap sag, trou hart, so wreed deurboor,
want, trekkend, trekkend jaar en stond,
sal steeds die koeël sy boodskap sprei;
en waar hy tref, heel nooit sy wond;
en wat hy tref, dit heilig hy!

Die mislukking van die Rebellie het die demokratiese tradisie in Suid-Afrika herbevestig. Afrikaners het besef dat die Suid-Afrikaanse regering nie deur gewapende geweld omvergewerp sal word nie, maar by die stembus verslaan moet word. Die Rebellie het aan Afrikaners getoon dat die era van die Boererepublieke vir altyd verby was. Die republikeinse ideaal sou alleen deur ’n grondwetlike demokratiese proses verwesenlik word.

Die Helpmekaar-beweging

Op die oog af was die Rebellie ’n mislukking. Rebelleleiers soos Beyers het in die Vaalrivier verdrink. De Wet het ses jaar tronkstraf en £2000 boete gekry en Kemp ’n £1000 boete en sewe jaar tronkstraf. Een van die belangrikste gevolge van die Rebellie was die totstandkoming van die Helpmekaar-beweging.

Die Botha-regering het deur die skadeloosstellingswet hulself van enige eise gevrywaar en geen bydrae gelewer om enige skade te vergoed nie. Die gesamentlike boetes en die eise teen die Rebelle het ongeveer £400 000.00 beloop. Baie Afrikanergesinne het totale verarming en ekonomiese ondergang in die gesig gestaar. Afrikaners het tot die besef gekom dat hul eie verantwoordelikheid moes neem om ’n groot deel van hul gemeenskap van die bedelstaf te red. Die Helpmekaar-beweging is gebore uit die pleitroep van JD Kestell: “Laat ons mekaar en ook ander help.” Kestell het die geboorte van hierdie spontane beweging soos volg beskryf: “Daar ontstaan iets in die volkshart in 1915. Dis ’n gees, wat iedereen in sy mag kry. Niemand het hom geskep nie; niemand kon hom teëhou nie. Niemand het hom verwag nie; niemand het voorspel hy sou kom nie. Maar hy het gekom. Hy het ons volk oorweldig, soos niks anders dit nog gedoen het nie. Dis ’n magtige stroom wat bruis oor die hele land. Ons gee aan hom ’n naam: hy is Die Helpmekaar.”

Steyn het einde 1916 in sy heel laaste toespraak, oomblikke voor sy onverwagse dood, voor die Oranje Vrouevereniging-kongres verklaar: “Die Helpmekaar is uit God gebore. Dit is die enigste geval in die wêreld waar ’n volk wat in opstand was, homself ingespan het om die skade te vergoed en selfs deur opponente bygestaan word. Die mens wat so ’n beweging teenstaan, is geen vriend van sy volk nie.”

Voldoende fondse was ingesamel om al die uitstaande eise van die Rebelle te betaal. Die organiseerders het die oorskot van sowat £60 000.00 pro rata onder die verskillende provinsies verdeel om ’n beursfonds vir hulpbehoewende Afrikanerstudente te skep. Teen 1962 het hierdie fonds R5 miljoen Helpmekaarlenings beskikbaar gestel waarmee 2441 onderwysers, 205 predikante, 461 geneeshere, 376 landboukundiges, 168 natuurwetenskaplikes, 119 ingenieurs, 354 ekonome en 159 regsgeleerdes hul kwalifikasies verwerf het. In hierdie hele periode het die Helpmekaarfonds nie een sent aan slegte skuld verloor nie. Vandag kan voornemende studente hulp kry van die Noordelike- en Suidelike Helpmekaarfonds.

Die Helpmekaar-beweging was ’n aansporing om Afrikaanse ondernemings te stig deur die konsolidasie van spaarkapitaal. In 1918 het Sanlam, Santam en die KWV tot stand gekom. Dit alles het Afrikaans bevorder omdat die taal daarmee ekonomiese waarde verkry het. Sanlam se prospektusse, polisse, briewe en leesstof is in sowel Afrikaans as Engels opgestel, en daarvoor moes nuwe Afrikaanse versekeringsterme geskep word. Op die wyse het Afrikaans die status as hoëfunksie- ekonomiese taal bereik.

Afrikaans as amptelike landstaal

In 1918 het drie Afrikaanse universiteite tot stand gekom, naamlik Stellenbosch, Kaapstad en die Universiteit van Suid-Afrika wat uit ses kolleges bestaan het. Dié kolleges het later selfstandige universiteite geword, naamlik die Universiteite van Pretoria, Vrystaat, Natal, Witwatersrand en Rhodes. Die Afrikaanse kolleges kon vanaf 1918 Afrikaans as onderrigtaal gebruik. In dieselfde jaar is ook die eerste professors vir die vak Afrikaans aangestel, naamlik DF Malherbe in Bloemfontein en Johannes Smith in Stellenbosch.

Afrikaans het in die twee dekades na die oorlog van kombuistaal tot ’n volwaardige universiteitstaal gegroei. Potchefstroom was die eerste universiteit wat volledig Afrikaans was, en Stellenbosch betreklik gou daarna. Die Universiteit van Pretoria het in 1932 Afrikaans geword, en die Universiteit van die Vrystaat aan die einde van die veertigerjare. Baie akademici het vrywillig reusebydraes gelewer om Afrikaanse vaktaal te ontwikkel. Die bekende digter en regter, Toon van den Heever, het onder andere ’n belangrike bydrae gelewer om Afrikaans as regstaal uit te bou.

Foto 7

Generaal JBM Hertzog

Hertzog word in 1924 eerste minister, nadat Smuts by die stembus verslaan is. Die redakteur van Die Burger, DF Malan, het minister van Binnelandse Sake, Volksgesondheid en Onderwys geword. Een van Malan se eerste take was om Afrikaans as amptelike landstaal goed te keur. Dit sou beteken dat die grondwet gewysig sou moes word. Gedurende Februarie 1925 het Malan ’n mosie by die Volksraad ingedien om Nederlands met Afrikaans as amptelike landstaal te vervang.

Op 8 Mei 1925 tydens die gesamentlike sitting van die Volksraad en Senaat verklaar hy: “Daar is vir die Hollandsprekendes in Suid-Afrika eintlik maar net een taal wat in die volste sin van die woord hulle eie is, en dit is die Afrikaanse taal.” Malan het sy dank betuig teenoor die welwillendheid van die Engelssprekendes wat nie die mosie teengestaan het nie. Op 22 Mei 1925 is die wetsontwerp deur die goewerneur-generaal geteken en het Afrikaans ’n amptelike landstaal van Suid-Afrika geword.

Die staatsdiens was wel oorwegend Engels, maar Afrikaanssprekendes se getalle het stadig maar seker in staatsinstellings gegroei. Afrikaans het mettertyd net so noodsaaklik as Engels geword om aangestel en bevorder te word in die beroepswêreld. Afrikaans het nog meer ekonomiese waarde gekry. Twaalf jaar later, in 1937, verklaar Malan: “ʼn Nasie kan nie sonder sy taal bestaan nie. Die geboorte van ons taal in so kort tydjie is ’n wonderwerk wat nie sy gelyke in die wêreldgeskiedenis het nie.”

’n Eie landsvlag

Tydens die Britse Rykskonferensie van 1926 het Brittanje die selfbeskikkingsreg van sy kolonies erken. Die Britse parlement het met die Statuut van Westminster die besluite van die Rykskonferensie bekragtig. Brittanje het afstand gedoen van alle staatkundige seggenskap oor Suid-Afrika en hulle in status as sy gelyke erken. Suid-Afrika het aan sy kant deur die Statuswet sy posisie as ’n soewerein onafhanklike land staatkundig aanvaar. Dit was ’n historiese deurbraak wat as Hertzog se grootste nalatenskap beskou kan word. Sy ideaal van “Suid-Afrika eerste!” het praktiese gestalte gekry. Die hoeksteen vir latere Republiekwording is gelê en die weg gebaan om eie nasionale simbole te skep.

DF Malan moes as Minister van Binnelandse Sake die wetsontwerp vir ’n eie nasionale vlag hanteer. Na ’n lang en verdelende vlagstryd het die parlement in Oktober 1927 die oranje, blanje, blou-vlag met die klein vlae van die Boererepublieke en die Union Jack in die middel, as amptelike landsvlag aanvaar. Daar is goedgekeur dat die wet op 31 Mei 1928 in werking sou tree. Dit is simbolies dat Suid-Afrika 26 jaar na die Vrede van Vereeniging en 18 jaar na die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika sy eie vlag gekry het.

Die positiewe en emosionele impak van ’n eie vlag word die duidelikste geskets in die “Vlaglied” wat CJ Langenhoven in 1926 geskryf het:

Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra:
Wat beteken jou vlag dan Suid-Afrika?
Ons weet hy’s die seël van ons vryheid en reg
vir naaste en vreemde, vir oorman en kneg;
die pand van ons erf’nis, geslag op geslag,
om te hou vir ons kinders se kinders wat wag;
ons nasie se grondbrief van eiendomsland,
uitgegee op gesag van die Hoogste se hand.
Oor ons hoof sal ons hys, in ons hart sal ons dra,
die vlag van ons eie Suid-Afrika.

“Die Stem van Suid-Afrika”

Foto 8 CJ Langenhoven het in 1921 “Die Stem van Suid-Afrika” in sy bundel Eerste Skoffies op die pad van Suid-Afrika gepubliseer. Gedurende 1931 het die FAK ’n kompetisie geloods om ’n geskikte volkslied vir Suid-Afrika te vind. Uit die ingestuurde gedigte het die keuringskomitee eenparig Langenhoven se gedig “Die Stem” aanbeveel.

Langenhoven het ML de Villiers versoek om die gedig te toonset. De Villiers beskryf die toonsetting soos volg: “Ek onthou nog goed dat dit een van daardie goddelike dae was waarvoor die Boland bekend is. Daar sit ek in my studeerkamer in Simonstad. Ek kyk uit oor die blou van onse hemel, oor die diepte van die see – en aan die oorkant van Valsbaai sien ek die pragtige en magtige gebergtes, waar die kranse antwoord gee … Voor my sien ek wat Langenhoven aangevoel het. Ja ineens sien ek dit in een beeld. Die note van my musiek moes opgaan na die blou van onse hemel, en dit moes terug en afkom na die diepte van ons see … en dan antwoord die berge.” In 1937 het die FAK-keurkomitee eenparig besluit dat ML de Villiers se toonsetting die beste uit 40 inskrywings was.

DF Malan het die verband tussen ’n vlag en ’n volkslied so verduidelik: “As ’n nasie ’n eie vlag het, en die volk sien met sy oog daardie vlag bo sy land waai dan spreek dit tot sy hart oor die noodsaaklikheid van vaderlandsliefde. Wanneer ek geen lied het nie, geen volkslied nie, dan gee my hart geen antwoord daarop nie. Gelukkig het Suid-Afrika ’n Langenhoven te voorskyn gebring en kan die Suid-Afrikaanse volk in hul gemeenskaplike vaderlandsliefde hul eenheid vind ten spyte van hul tweeheid. Dit kan so gebeur: Daar is ’n stem … Dit is geen stem van hierdie of daardie bepaalde persoon of groep nie, en komende uit hierdie of daardie bepaalde aard nie. Dit is die Stem van Suid-Afrika!” Na volgehoue vertoë is “Die Stem” op 2 Mei 1957 tot enigste amptelike volkslied verklaar. Die kopiereg van “Die Stem” het aan die FAK behoort. In 1957 is dit oorgedra aan die Suid-Afrikaanse regering.

Na 1994 het “Die Stem” se gewildheid nie onder Afrikaners afgeneem nie. Gedurende 2013 was “Die Stem” ’n kategoriewenner van Maroela Media/KykNET se Grootste Afrikaanse liedjie-kompetisie. Vir Afrikaners is “Die Stem” as kultuurlied steeds simbool van ’n eie identiteit. “Die Stem” staan in die teken van Afrikaans wat na die Anglo-Boereoorlog gegroei het van kombuistaal tot kanseltaal, van tuintaal tot ’n taal wat deur middel van musiek en liriek Afrikaners se diepste verlange verwoord. Deur die amptelike erkenning van “Die Stem” as volkslied het Suid-Afrikaners in die vorige eeu as landsburgers verenig deur ’n lied wat fokus op Suid-Afrika eerste. Na 1994 het “Die Stem”, waarvan ’n paar reëls in die nuwe Nasionale lied opgeneem is, weer ’n rol gespeel om Suid-Afrikaners te verenig. Afrikaners koester veral die laaste strofe as toekomsgebed van vertroue wat vra dat dit wat vir kosbaar is uit die verlede “vir ons kinders erwe bly”.

Die Bybel in Afrikaans

Die Eerste Taalbeweging het sy geboorte te danke aan die begeerte om die Bybel in Afrikaans te vertaal. Arnoldus Pannevis het die taalstryd afgeskop met ’n artikel wat op 7 September 1872 in De Zuid-Afrikaan gepubliseer is met die opskrif: De Bijbel in het Afrikaans. Daar moes egter nog baie water in die see vloei voor daar met ’n Afrikaanse Bybelvertaling begin kon word.

NJ van der Merwe het namens Wepener se kerkraad twee beskrywingspunte na die 1916-Vrystaatse Sinode gestuur, naamlik:

1.    “’t Afrikaansch op den kansel
2.    Het vertalen van den Bijbel in het Afrikaansch”

Die Sinodale Regskommissie het aanvanklik ’n kompromie tussen die uiteenlopende standpunte probeer bewerkstellig deur aan te beveel dat “zij de gebruik van Afrikaansch op den kansel nier afkeurd, maar dat zij twijfelt of die tijd nu gekomen is om den Bijbel in het Afrikaansch te vertalen”. In gehoorsaamheid aan Christus se laaste opdrag, besluit die Vrystaatse Sinode “tot het vertalen van den Bijbel in Afrikaansch”. Die Sinode sou ook poog om die hulp van die ander provinsies, asook van die Hervormde en Gereformeerde Kerke te vra om so ’n vertaling so wyd as moontlik aanvaarbaar te maak.

Foto 9

JD Kestell besig om die Bybel in Afrikaans te vertaal. Hy het onder andere die bekende 1 Korintiërs 13 in Afrikaans vertaal.

Die eerste vergadering van die Afrikaanse Bybelvertalingskommissie het op 9 Augustus 1916 plaasgevind. Die voorsitter was JD Kestell en NJ van der Merwe het as sekretaris gedien. JD Kestell was leraar te velde van die Oranje-Vrystaatse magte tydens die Anglo-Boereoorlog. Hy het nooit ’n wapen gedra nie. Sy boek Met die Boerekommando’s, bly een van die aangrypendste verslae oor wat oorlog alles aan gewone mense kan doen. Hy was geskool in die klassieke en het tale soos Duits en Frans vlot gepraat. In 1909 bring hy ’n arbeidskolonie, Goedemoed, op die been. Hy bring weeshuise tot stand en beywer hom vir moedertaalonderrig in skole. Kestell was ’n stigterslid van die Akademie vir Wetenskap en Kuns. Van 1916 tot 1934 was hy voorsitter van die beheerkommissie van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein en is later ook aan die voet van die Vrouemonument begrawe. In 1920 volg Kestell vir Johannes Brill op as die tweede rektor van die Universiteit van die Vrystaat. Die reeds bejaarde Kestell reis in 1921 en 1922 na 42 Vrystaatse dorpe om die inwoners aan te moedig om hul kinders na die Universiteit te stuur.

Op 5 Maart 1917 besluit De Raad van Kerke dat: “Nederlands nooit de spreektaal van ons volk worden zal maar dat gelijk Afrikaansch sedert jaren het middel tot gemeenskaplike middel onder ons volk geweest het.” Hiermee erken De Raad van Kerke die beginsels dat die Bybel in elkeen se moedertaal gelees en gehoor moet word.

Die vertaalwerk was ’n gesamentlike poging van al die Afrikaanse kerke. Die eindvertalers was JD Kestell, JD du Toit (Totius), BB Keet, HCM Fourie en EE van Rooyen. Van Mei 1933 tot Desember 1934 is 266 875 Bybels uit Londen na Suid-Afrika verskeep. Die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap het verklaar dis ’n rekord vir die verkope van enige eerste uitgawe in ’n nuwe taal. Op Sondag, 27 Augustus 1933, is die Bybel in elke gemeente van die drie Afrikaanse kerke amptelik in ontvangs geneem.

Foto 10

Al was die stryd vir ’n Afrikaanse Bybel verstrengel met die Afrikaanse taalstryd het die Afrikaanse kerke nie net die evangelie in eie taal ontvang nie. Met hul sterk roepingsbewustheid het Afrikaners sendingstasies regoor Suider-Afrika gevestig met die doel om die evangelie as blye boodskap aan miljoene mense in nood te verkondig. Veral GBA Gerdener, in Sendingwetenskap in Stellenbosch, het die grondslag van die 1935-Sendingbeleid gelê met die ideaal van selfuitbreidende, selfregerende en selfversorgende inheemse kerke. Daar is vanaf die vertrekpunt uitgegaan dat in ’n kontinent met verskillende bevolkingsgroepe en verskillende vlakke van beskawingspeil, daar verskillende behoeftes aan godsdiensbeoefening is. Die evangelie moet in die navolging van Matteus 28 aan alle nasies verkondig word, maar met inagneming van elkeen se kultuurpraktyk en  -behoeftes.

Die Afrikaanse Bybelvertaling was die eerste tree van vele ander Bybelvertalings in Afrika-tale wat sou volg. Die voorreg om God se Woord in eie taal te mag lees en te hoor, het na 1933 ook momentum gegee aan die ontwikkeling van Afrikaans op bykans elke lewensterrein. Afrikaanse mense het met die verskyning van die Bybel skielik 66 boeke in hul eie taal gekry – van poësie, prosa, profesieë en selfs regstaal. So is die drome en ideale van die ou taalstryders ook verwesenlik. Een van die mooiste voorbeelde van Bybelse Afrikaans is Totius se beryming van Psalm 8:

Daar is geen land so ver of woes geleë,
geen strand, o Heer, of wilde waterweë,
geen hemelsfeer in die oneindigheid —
of oral blink u Naam en majesteit.
U het, o Heer, wat troon oor alle dinge,
uit kindertaal en stem van suigelinge
u mag gegrond, sodat die mens moet swyg
wat, hoog van hart, uit wraakbegeerte dreig.

As ek, o Heer, u nagtelike hemel
daarbo aanskou, die tint- en glansgewemel;
hoe, deur U toeberei, die skugter maan
met stille gang oor sterrevelde gaan —

wat is die mens dan dat U hom gedenk het,
die mensekind wat U so ryk beskenk het!
Met eer en heerlikheid is hy gekroon,
skaars minder as die eng’le om u troon.

Ja, daar’s geen land so ver of woes geleë,
geen strand, o Heer, of wilde waterweë,
geen hemelsfeer in die oneindigheid —
of oral blink u Naam en majesteit.

Arm Afrikaners

Sedert die twintigerjare het Afrikaners toenemend begin verstedelik. Die verwoestende droogte van 1933 en ’n wêreldekonomiese krisis, wat ook bekend staan as Die Groot Depressie, het die armoedevraagstuk onder stedelike Afrikaners verdiep. Nie alle Afrikaners het destyds goeie skoolopleiding gehad nie, met die gevolg dat werkloosheid onder Afrikaners ’n groot probleem geword het. Baie Afrikaners het vroeg die skool verlaat om op die paaie, spoorweë of in die myne te gaan werk.

Foto 11Aanvanklik was daar geen eenstemmigheid oor hoe om die groeiende armoede onder die verstedelikte Afrikaners te benader nie. Die algemene siening was dat die verarmde Afrikaners self verantwoordelik was vir hul omstandighede en dat die Afrikaanse kerke die probleem as deel van hul barmhartigheidswerk moes hanteer. Die persepsie het veral onder Engelssprekendes bestaan dat armoede ’n direkte gevolg was van Afrikaners se intellektuele vermoëns.

Die omvattende Carnegie-ondersoek van 1929 het egter die weg gebaan vir ’n nuwe oplossing. Die ondersoek het getoon dat die groeiende armoede nie arm Afrikaners se skuld was nie. Dit was eerder die gevolg van politieke, ekonomiese en maatskaplike prosesse waaroor hulle min beheer gehad het. Die ondersoek het ook bevind dat alhoewel arm Afrikaners ongeskoold en ongeletterd was, hulle beslis nie dom was nie. Die intelligensietoetse van die Carnegie-kommissie het getoon dat arm kinders se intelligensie baie goed vergelyk met die welgestelde deel van die bevolking. Die Carnegie-kommissie het aanbeveel dat die oplossing vir die armoedevraagstuk in gehalte onderwys, industriële vaardighede en werkskepping gevind moet word. Die Carnegie-verslag het met reg gewaarsku dat armes nie van liefdadigheid afhanklik gemaak moes word nie.

DF Malan het die denkraamwerk van die Carnegie-ondersoek verdiep deur aan te dring dat armes uit isolasie gered moet word en weer deur die Afrikanermiddelklas opgeneem word. Hy het ook daarop gewys dat die armes nie “as voorwerpe van barmhartigheid” behandel moet word nie, omdat dit hulle “afdruk in stigma van minderwaardigheid”. Tydens die Eeufeesherdenking het Malan op 16 Desember 1938 by Bloedrivier verklaar: “Die slagveld is verskuiwe. U Bloedrivier lê in die stad. Die Afrikanerdom is weer op trek, op sy nuwe Groot Trek. Dis nie soos ’n honderd jaar gelede ’n trek weg van die middelpunte van die beskawing af nie, maar ’n trek terug – terug van die platteland na die stad.” Die reeds bejaarde Kestell het die versugting uitgespreek dat die Eeufeesjaar ook ʼn “magtige reddingsdaad” vir Afrikaners moet bring. Hy het klem gelê op Afrikaners se aanvaarding van eie verantwoordelikheid teenoor hul armes met die beginsel van: “’n Volk red homself.”

Foto 12Die impak van die Carnegie-ondersoek se aanbevelings word die duidelikste weerspieël in die besluit van die FAK se reëlingskommissie vir die 1939-kongres dat ’n omvattende liefdadigheidsplan nie die uitkoms van die kongres moet wees nie. Teen dié tyd het Afrikaners besef dat ekonomiese opheffing die belangrikste voorwaarde vir kerklike, kulturele en wetenskaplike voortbestaan is. Grietjie Verhoef beskryf die nuwe benadering as ’n besigheidsfilosofie, eerder as ’n oproep tot opheffingswerk: “Die fokus het verskuif vanaf ’n verwagting dat die owerheid op nasionale vlak moes ingryp om te red, na ’n rasionele, doelgerigte selfbemagtigingsprogram van die vestiging van eie besighede waardeur ekonomiese doelwitte verwesenlik kon word.” Die denkraamwerk waarin die Eerste Ekonomiese Volkskongres in 1939 plaasgevind het, het neerslag gevind in konkrete besluite wat geneem is en met praktiese dade uitgevoer is. Afrikanerkoopkrag en -kapitaal is suksesvol gemobiliseer en belangrike instellings soos die Afrikaanse Handelsinstituut, Federale Volksbeleggings en die Reddingsdaadbond is gestig.

Die sleutel tot die suksesvolle aanpak van armoede bly steeds goeie onderwys, doelgerigte vaardigheidsopleiding, ’n gesindheid van helpmekaar en samewerking. Arm Afrikaners is nie ’n unieke verskynsel nie. Wat wel uniek is, is dat die Afrikaner waarskynlik die enigste volk ter wêreld is wat daarin geslaag het om twee keer in een eeu, na die Anglo-Boereoorlog en in die dertigerjare, uit die vernietigende gevolge van armoede op te staan.

Ontwikkeling van kulturele identiteit

Foto 13

Gedenkplaat by NALN, Bloemfontein, tydens die FAK se halfeeufees.

In die twintiger- en dertigerjare het Afrikaners begin om hulself op kulturele gebied in instellings te organiseer. Hennie Aucamp beskryf die kritiese rol van kultuurorganisasies met die stelling: “In krisistye is kultuur geen luukse nie, maar die hoogste vorm van selfbehoud. Kultuur staan vir interne orde en interne orde is die fondament van alle beskawing.” Afrikanerkultuurorganisasies soos die Afrikanerbroederbond (1918), FAK (1929), ATKV (1931) en Die Voortrekkers (1931) is gestig. Ten spyte van erge politieke verdeeldheid was daar by Afrikaners van die vroegste tye af ’n behoefte aan ’n vorm van eenheid. Alhoewel die eenheidsideaal op politieke gebied buite bereik gebly het, kon Afrikaners op kulturele terrein grootliks eenheid bewerkstellig. Die erfenisjoernalis, Marthinus van Bart, skryf dat dit nie taal is wat mense saambind nie, maar gemeenskaplike kultuur. Onderliggend aan die kulturele eenheid is die beginsel dat daar op kulturele terrein geen plek vir partypolitiek is nie. Dit skep die voorwaarde en ruimte waar Afrikaners oor grense heen hande kan vat en saamwerk, soos met die 1938-ossewatrek.

Kort na die Anglo-Boereoorlog het talle Afrikaners begin om die Groot Trek-gebeure te herinterpreteer. Die motivering om oor die Voortrekkers te skryf was vir Kestell te wyte aan ʼn onvriendelike onderwysstelsel wat poog om Afrikanerkinders se verbintenis met hulle verlede los te maak. Dit het hom gegrief dat Afrikanerkinders slegs die Britse Ryk geskiedenis leer. Die gevolg was dat hulle die name van al die Britse konings kon opsê, die datums van al die vernaamste veldslae van die Britse Ryk op die punte van hulle vingers ken, “maar hulle het nie die flouste idee gehad van wie Piet Retief, Hendrik Potgieter of Andries Pretorius was nie.” Die eeufees herdenking van die groot Trek was vir baie Afrikaners ʼn kulturele en emosionele hoogtepunt.

Foto 14 Soos wat die ossewaens oor die ou  Trekroetes beweeg het, het daar ʼn ongekende geesdrif en volksliefde by Afrikaners wakker geword. Vir baie Afrikaners was die wonderjaar ʼn herontdekking van hulle identiteit, kultuur, religieuse verlede, tradisies en politieke ideale. ‘n Bruisende geesdrif het onder Afrikaners posgevat. DF Malan het jare later die gebeure in die idioom van volksidealisme as volg beskryf: “Toe die wiele van die Ossewatrek oor die uitgestrekte vlaktes van Suid-Afrika hul boodskap tot die Afrikanervolk gebring het, en toe onder die magtige inspirasie van ʼn heldhaftige verlede die innerlike, maar tog sluimerende kragte ontwaak het, het dit die Afrikaner saamgebind tot ’n eenheid en dit omskep tot ’n magtige reddingsdaad.”

Foto 15 Die bruisende geesdrif het neerslag gevind in talle plek-, skool-, dorp- en straatname soos Piet Retief, Louis Trichardt, Voortrekkerhoogte, Voortrekker hoërskool. Vandag is daar min dorpe wat nie ʼn Voortrekker-, Retief- of Potgieter straat het nie. In bykans elke dorp is sement ossewaspore en Eeufeesgedenktekens steeds sigbaar.

Kultuurorganisasies het ’n belangrike bydrae gelewer om uitdrukking te gee aan Afrikaners se kulturele identiteit deur Afrikaanse musiek te publiseer soos die FAK Sangbundel (1937); die vestiging van ’n Afrikaanse radiodiens (1937); die reël van kultuurfeeste soos die simboliese ossewatrek (1938) en die Van Riebeeckfees (1952); en fondse in te samel vir die bou van die Voortrekkermonument en ander erfenisterreine.

Afrikaans is al van vroeg in die twintigste eeu op grammofoonplate gehoor. In 1931 het die maatskappy, Colombia, bekend gemaak dat byna 55 000 van Chris Blignaut se plate binne die eerste drie maande uitverkoop is. Van sy treffers op die plaat was “Ou Ry-perd” en “O, die donkie”.

In 1931 het Afrikaans ook sy eerste klankrolprent gekry. Dit was: Moedertjie, ’n 32-minuut lange verwerking van JFW Grosskopf se eenbedryf In die wagkamer.

Foto 16

MER

Miemie Rothmann of ook bekend as MER word algemeen beskou as een van die grootste Afrikaners van die vorige eeu. Sy staan bekend as een van die uitnemendste Afrikaanse prosaïste, vurige stryder vir die bemagtiging van vroue en pleitbesorger vir armes. As vroueredaktrise van Die Burger het sy nuwe Afrikaanse woorde soos toebroodjie, katjiepiering en bloureën geskep wat vandag nog gebruik word. Sy was die enigste vrou op die Carnegie-kommissie en ook ʼn wenner van die Hertzogprys. Op haar 100ste verjaarsdag het die BJ Vorster haar oor die radio gelukgewens.

 

Die strewe van NP van Wyk Louw en die ander tydgenote was om Afrikaanse letterkunde en poësie tot dieselfde peil as dié van ander Westerse kultuurvolke te bring. Op versoek van Anna Neethling-Pohl het Van Wyk Louw Die dieper reg met die oog op die hoeksteenlegging van Die Voortrekkermonument in 1938 geskryf. In Die dieper reg gaan dit nie oor die grootheid of die kleinheid van die Voortrekkers se dade nie, maar oor die suiwerheid waarna hulle gestrewe het – dít maak die dieper reg van hul voortbestaan uit. Daar was so ’n toeloop na die opvoering dat dit vyf keer op een dag herhaal is! Nederlandse kritici het Van Wyk Louw se werk hoog aangeslaan. In 1948 het die Universiteit van Utrecht ’n eredoktorsgraad aan Louw toegeken as blyk van die Nederlandse wetenskap se groot waardering vir die ontwikkeling in die Afrikaanse letterkunde.

Teen 1959 was Afrikaans gevestig as wetenskapstaal by vier Afrikaanse universiteite. Afrikaans was in die staatsdiens, geregshowe, letterkunde, rolprente en die uitsaaibedryf gevestig. Die FAK het in 1959 die Wonder van Afrikaans-feeste gereël waarmee die halfeeufees van die Akademie vir Wetenskap en Kuns herdenk is. Die taalfeeste is van 6 April tot 30 Mei 1959 gevier. Engelsmedium-, bruin en swart skole het ook aan die feesprogramme deelgeneem. Die afsluitingsfees by die Voortrekkermonument is deur 60 000 mense bygewoon en die hoofspreker, eerste minister HF Verwoerd, het Afrikaans “die taal van ons wonderlike toekoms” genoem.

Die Tweede Wêreldoorlog

Foto 18

‘n Suid-Afrikaanse vrywilliger help geallieerde soldate om gasmaskers aan te sit.

Foto 17

Jan Smuts

Jan Smuts word ’n tweede keer in 1939 eerste minister nadat Suid-Afrika besluit het om aan Brittanje se kant teen Duitsland te veg. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was hy ’n Britse veldmaarskalk en dien in die imperiale oorlogskabinet onder leiding van Winston Churchill. Die  aansien wat hy geniet het word gesien in die besluit dat indien Churchill tydens die oorlog tot sterwe sou kom, Smuts aangewys sou word as die waarnemende Eerste Minister van Brittanje. Hy was ’n medestigter van die Verenigde Nasies.

Soos met enige oorlog het die Tweede Wêreldoorlog ook ’n uitkoms vir arm Afrikaners gebied. Baie Afrikaners het in Noord-Afrika en Italië gaan veg.

Foto 19

Dan Pienaar

Dan Pienaar was bekend as Suid-Afrika se gewildste generaal aangesien die welsyn en veiligheid van sy manskappe vir hom belangriker was as die bevele van sy meerderes. Onder sy leiding neem die Suid-Afrikaanse troepe deel aan die slae van Sidi Rezegh en Gazala. In Egipte het hy hom onderskei in die Slag van El Alamein. Dit was die keerpunt van die oorlog in Noord-Afrika waar die Geallieerde magte die Duitsers onder leiding van veldmaarskalk Rommel sou vernietig. Pienaar sterf Desember 1942 in ’n noodlottige vliegtuigongeluk. Hy word begrawe op Voortrekkerhoogte en die woonbuurt, Dan Pienaar, in Bloemfontein word na hom vernoem.

 

Afrikaners kies demokrasie teenoor nasionaal-sosialisme

Foto 20 Op tuisfront het baie Afrikaners nie die oorlog ondersteun nie. Soos in 1914 was dit vir baie Afrikaners ondenkbaar om onder die Britse vlag te veg na die leed en lyding van die Anglo-Boereoorlog. Die Ossewabrandwag het kort na die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog ontstaan as ’n protesbeweging teen Suid-Afrika se deelname aan die oorlog. Die Ossewabrandwag het aanvanklik vinnig veld gewen, maar hul pro-Duitse benadering sou Afrikaners vinnig vervreem. Leiers van die Ossewabrandwag het gehoop dat ’n Duitse oorwinning ’n nasionaal-sosialistiese Afrikanerrepubliek, vry van Brittanje, kon bewerkstellig. Om die rede is die Ossewabrandwag met sy grondwet, organisasiestrukture en afdelings soos die Stormjaers geskoei op die outokratiese strukture van die Duitse Nazi-party. Die Ossewabrandwag het aktief vir Hitler ondersteun deur spioenasie en propaganda. Die bekendste Afrikaanse spioen gedurende dié tydperk was die Olimpiese bokser, Robbie Leibrandt.

Nasionale Afrikaners soos DF Malan, CR Swart, JG Strijdom, PW Botha en vele ander, het hulle vinnig van die Ossewabrandwag se nasionaal-sosialistiese gesagstaat gedistansieer. Vir die nasionaliste was daar geen ander alternatief as om ’n demokratiese grondwetlike roete te volg om ’n Suid-Afrikaanse Republiek tot stand te bring nie. Op 3 Junie 1941 verklaar Malan as leier van die Nasionale Party: “Ons mag nie vergeet dat ons hele geskiedenis nog altyd in die rigting was weg van diktatorskap oor liggaam en gees en weg van ’n gedwonge eenheidstelsel wat vir ons eie nasieskap en vir ons gewetensvryheid en vir ons menslike regte geen plek gehad het nie.” Tydens die Nasionale Party se Uniale kongres in 1942 verklaar hy: “Ons verwerp die diktator-beginsel, wat ’n essensiële kenmerk is van die totalitaristiese ideologieë en vir die massas van die volk geen ander funksie meer het nie as om bevele uit te voer en op te hou om self te dink en te vra.” Nazi-radiostasies het Malan en sy partygenote deurentyd veroordeel, verkleineer en bespot, maar Afrikaners het Malan se leiding gevolg en in groot getalle uit die Ossewabrandwag bedank. Na afloop van die oorlog was die Ossewabrandwag feitlik geen rolspeler meer in Afrikanerpolitiek nie.

Foto 21

Generaal Smuts teken die stigtingsdokumente tydens die totstandkoming van die Verenigde Nasies.

Na die Tweede Wêreldoorlog het die uurglas van die generaals se kaart vinnig leeggeloop. Ten spyte van Suid-Afrika se prestasies tydens die Tweede Wêreldoorlog en Smuts se internasionale aansien as medestigter van die Verenigde Nasies het die Smuts-regering op die tuisfront ongewild geword. Die regering se onbeholpe hantering van oudsoldate se werkloosheid, hul onvermoë om oplossings te bied vir die Suid-Afrika se rassevraagstuk en hul blinde oog vir die opkoms van kommunisme, het Afrikaners vinnig vervreem. Nie eers die besoek van die Britse koningsgesin in 1947 kon die bruisende Afrikanernasionalisme stuit nie. Op 26 Mei 1948 is Smuts se Verenigde Party deur Malan se Nasionale Party by die stembus verslaan.