Die gedenksuil is op die terrein van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Voortrekkerstraat, Philippolis

Die gedenksuil is op die terrein van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Voortrekkerstraat, Philippolis

Tobias Ballot Muller is op 13 Augustus 1884 op George gebore. Sy vader was professor CFJ Muller, in lewe hoogleraar aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch. Sy moeder was Johanna Louw.

Hy was ’n onvermoeide bevorderaar van die Afrikaanse kultuurlewe. Hy was ’n kragtige voorvegter vir die erkenning van die Afrikaanse taal op elke gebied en studenteleier in die Tweede Taalbeweging, soos die feit getuig dat hy een van die stigters en eerste voorsitter van die Stellenbosse tak van die Afrikaanse Taalvereniging (ATV) was.

In 1910 het Muller na Utrecht vertrek, waar hy in 1913 sy doktorale eksamen in die teologie met lf afgelê het. Na sy terugkeer in 1913 het hy dadelik weer die leiding in die ATV geneem en deur middel van dié vereniging hom met bekwaamheid, diepe oortuiging en geesdrif vir die erkenning van Afrikaans op alle gebiede beywer. As hulpprediker op Stellenbosch het hy dit prakties gedemonstreer deur in 1914, ten spyte van ’n storm wat om sy kop losgebars het, die eerste preek in Afrikaans te lewer.

In 1916 is hy die leerstoel in Wysbegeerte aan die Victoria-Kollege aangebied. Byna gelyktydig is hy as predikant na die Nederduitse Gereformeerde gemeente op Philippolis beroep. Na ’n innerlike worsteling het hy die beroep na Philippolis aangeneem waar hy die volgende twee jaar met ywer sy kerklike pligte verrig het, maar ook soos voorheen die Afrikaanse saak met groot oortuiging bevorder het. Hy het onmiddellik Afrikaans in die kerkdiens ingevoer, en hy was ook die eerste predikant wat ’n huweliksplegtigheid in die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrikaans voltrek het. Voorts was hy lid van die eerste kommissie wat aangestel is om die Bybel in Afrikaans te vertaal.

Toe Tobie Muller op die jong ouderdom van 34 jaar op 25 Oktober 1918 in die groot griepepidemie sterf, was dit ’n groot skok en terugslag vir die gemeente Philippolis. Kort na sy dood het gemeentelede en vriende besluit om ’n gedenksuil vir die ontslape jong leraar op te rig. Op 26 Oktober 1922 is die gedenksuil onthul. Die onthullingsrede is waargeneem deur dominee J Blignault, waarin hy onder meer die volgende gesê het: “Tobie Muller was een van die geleerdste en skranderste Afrikaners van sy tyd – ’n intellektuele reus – en verkwikkend was dit om te sien hoe kinderlik sy geloof was. Hy het geloof in God gehad, geloof in sy volk en geloof in die toekoms. Tobie Muller was ’n held en as ’n held het hy gesterwe. U doen goed as u sy gedagtenis in eer hou. U eer daardeur u God. Tobie Muller was ’n besondere gawe van God aan die Afrikaanse volk.”

Die lyne van die doek wat die wit suil bedek het, is deur sy twee kinders, Christoffel en Tobie, ontknoop. Die volgende woorde is aan die voorkant van die suil gegraveer:

Opgerig tot die nagedagtenis van dr. Tobias Ballot Muller. Predikant van Philippolis van 13 Oktober 1916 tot 25 Oktober 1918. Alhier gestorwe tydens die algemene griepepidemie in die ouderdom van 34 jaar, toe hy as toegewyde dienskneg van sy Heer sy herderlike pligte getrou en volhardend vervul het. Aan die linkerkant van die gedenkteken is die volgende inskripsie aangebring: ’n Model vir jong Suid-Afrika. Kinderlik gelowig, sterk van karakter, brandend van vaderlandsliefde, vol van hoopvolle idealisme. Aan die regterkant is die volgende woorde gegraveer: Met skitterende verstandelike talente toegerus, het hy gebuig vir die hoë majesteit van die Ewige en Almagtige, en sy kennis diensbaar gestel aan die ere van God. Op die agterkant van die gedenkteken verskyn die volgende twee teksverse: Kostelik is in die oë van die Heer die dood van Sy gunsgenote, Ps. 116:15; en: Gedenk u voorgangers wat tot u Woord van God gespreek het, en volg hulle geloof na, terwyl u aanskou die uitkoms van hulle wandeling. Hebr. 13:7.

Hierdie gedenksuil is voorwaar ’n merkwaardige hulde van ’n gemeente van die Here aan een van Sy jongste diensknegte – ’n hulde wat tot eer strek van die gemeente en van die Afrikanervolk.

Doktor Tobie Muller het in sy kort lewe ’n nederigheid van karakter geopenbaar wat vir hom ’n plek in die hart van sy jong volksgenote verower het. In die geloofsbelydenis van ’n nasionalis skryf hy onder meer: “Laat Jong Suid-Afrika sy nasionale geloofsbelydenis onderteken, nie met sy naam, maar met sy lewe en dan het ons niks te vrees vir die toekoms nie.”

Bron: Van Zyl, D.J. 1989. Tobie Muller. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 80–81.