In Kerkstraat, Bethulie

In Kerkstraat, Bethulie

Op 16 Desember 1938 was dit presies honderd jaar na die gedenkwaardige Slag by Bloedrivier. Om daardie gebeurtenis en die Voortrekkergeskiedenis te herdenk, is twee eeufeesvierings beplan wat op die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument in Pretoria en die Bloedriviermonument sou sentreer. Die viering in Pretoria was die verantwoordelikheid van ’n Volksfeestekomitee, wat deur die regering in oorleg met die Sentrale Volksmonumentekomitee, saamgestel is. Doktor EG Jansen was voorsitter van hierdie komitee. Die Bloedrivier-Eeufeeskomitee onder voorsitterskap van meneer L Spies LV, was vir die fees by Bloedrivier verantwoordelik.

As sy bydrae tot die Eeufeesverrigtinge het die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) aangebied om twee stinkhoutwaens te maak, wat dan op die simboliese “Pad van Suid-Afrika” na die twee feesterreine sou reis om die lewe van die Voortrekkers in herinnering te roep. Op aanbeveling van die Volksfeestekomitee is besluit dat die waens sou dien as poswaens vir die vervoer van spesiale eeufeeskoeverte en as vervoermiddel vir oudhede wat langs die pad aan die Trek oorhandig word, vir bewaring in die Voortrekkermuseum te Pretoria. Die opset met die hele gedagte van die Trek was beperk: dit sou ’n gesellige en rustige rekonstruksie van die Trekkerslewe wees.

Die Ossewatrek het egter in ’n magtige volksdemonstrasie verander. In plaas van die verwagte 10 000 posstukke, is meer as 100 000 deur een spesiale wa vervoer en moes ’n hele paar vragmotors gebruik word om die oudhede te vervoer. In plaas van twee trekroetes was daar op die ou end veertien roetes, wat byna elke dorp in Suid-Afrika op die weg van die twaalf waens geplaas het. Waar osse die waens nie vinnig genoeg kon vervoer nie, is van vragmotors gebruik gemaak.

Op elke dorp wat die waens aangedoen het, was ’n plaaslike reëlingskomitee vir die feesviering verantwoordelik. Vanaf die oomblik toe die waens op 8 Augustus 1938 deur tien duisend mense aan die voet van Van Riebeeck se standbeeld gegroet het, het die Trek in ’n tog van ongekende geesdrif verander. Nie net op die dorpe nie, maar oral langs die pad het mense in groot getalle versamel en het die aanblik van die waens ’n roering deur die skares gestuur.

Rondom die waens is feesgevier soos nog nooit tevore in die geskiedenis van Suid-Afrika nie. Die eenvoudige waentjies het vir die Afrikaner die sinnebeeld van sy geskiedenis en sy nasieskap geword. Vir ’n volk wat op politieke gebied in ’n broedertwis gewikkel was, het die waentjies die boodskap “soek mekaar en vind mekaar” gebring.

Die ongekende geesdrif het langs die trekpad op velerlei wyses tot uiting gekom. Vanaf Worcester het daar op haas elke dorp ’n monumentjie of klipstapel verrys om die Trek te herdenk. Voortrekkerkleredrag het die kenmerk van die feestelikhede geword en mans het welige baarde gekweek. Die Vierkleur het lustig gewapper, vleisbraaivure het die pioniersgees wakker geroep en Afrikaanse liedjies en volkspele het die Afrikanervolk bewus gemaak van sy kultuurrykdom. Op Oudtshoorn is besluit om “Die Stem van Suid-Afrika” as die toekomstige volkslied te aanvaar, en daarvandaan het die besluit soos ’n vloedgolf oor die land gespoel. Dieselfde het gebeur met die besluit dat die Kruger-standbeeld van Stasieplein na Kerkplein in Pretoria verskuif moes word. Byna elke dorp of stad het die name van die Voortrekkerleiers aan strate of pleine gegee. By elke fees is daar ’n oproep om eenheid onder die Afrikanervolk gedoen.

Op die terrein van Laerskool Cottesloe

Op die terrein van Laerskool Cottesloe

Meer as honderd gedenktekens is langs die trekpad aangebring. Die drie wat hier afgebeeld word, weerspieël die gees van hierdie gedenktekens. Die gedenktekens op Worcester is die eerste wat opgerig is en het eintlik as patroon gedien vir die meerderheid gedenktekens. Die feesgangers is vooraf genooi om deel te neem aan die klipstapeling op Saterdag 13 Augustus 1938 voor die Drosdy. Dié gedagte is geïnspireer deur die talle klipstapelings wat by besondere geleenthede in die Afrikaner se geskiedenis gebou is, en waarvan dié by Paardekraal op 14 Desember 1880 die belangrikste was. Twee maande later is die klippe na die Tuin van Herinnering op Kerkplein, voor die Moederkerk, geneem, waar die stadsraad dit in ’n monument ingemessel het. ’n Fries in klip uitgekap en met ’n ossewa daarop afgebeeld, vorm die sentrale sluitstuk van die monument. Die volgend woorde is op die voetstuk aangebring: Ossewa-Voortrekker-Eeufees 1838-1938. ’n Huldeblyk. Roemryke Voorgeslag – Dankbare Nageslag. 28.10.1938.

Twee ander gedenktekens wat as voorbeelde van die invloed van die ossewa en die klipstapeling dine, is dié te Bethulie en in Cottesloe in Johannesburg. Met die ossewaens se besoek aan Bethulie op 13 Oktober 1938 is ook ’n klipstapel in Kerkstraat opgerig. Die klippe is later in ’n reghoekige vorm toegebou met ingemesselde klippe aan die voorkant. Bo-op is ’n Voortrekkerwaentjie wat deur HJJ Myburgh, van Bethulie, in brons gegiet is, aangebring.

Die eenvoudige gedenktuin in Cottesloe het ’n besondere geskiedenis, omdat dit die werk was van Oudstryders uit die Anglo-Boereoorlog. Onder leiding van ’n Oudstryder, wat onderwyser was aan die Laerskool Cottesloe, ene Jooste, is ’n saamtrek by die skool gereël toe die Voortrekkers op 3 Desember 1938 op pad na die fees in Crosby, by die skool verbygegaan het. Elke Oudstryder moes ’n klip, steen of gedenkplaat met sy naam daarop saambring, en dié is uiteindelik in die monumentjie ingemessel. Sommige inskripsies was so dof dat dit nie meer leesbaar is nie. Vanaf Annetweg, net by die gasfabriek verby, is die gedenkteken duidelik in die rantjie sigbaar.

Simboliese Ossewatrek 2 klein

Op die terrein van die Hoër Seunskool Helpmekaar

Die vierde voorbeeld is ook uit Johannesburg afkomstig en hou verband met dieselfde fees van 3 Desember 1938. Voordat die ossewa die Laerskool Cottesloe aangedoen het, het hy by die Hoër Seunskool Helpmekaar stilgehou, waar die hoeksteen van ’n miniatuur-Voortrekkermonument onthul is. Die monumentjie self is op 19 Augustus 1939 deur Totius onthul. Dit is deur Gerhard Moerdijk ontwerp en deur die firma Lupini-broers teen ’n koste van £600 (R1200) gebou. In 1955 moes dit afgebreek in weggebêre word om plek te maak vir ’n aanbouing by die skool. Op 16 September 1960 is dit weer in gebruik gestel. In 1948 het boosdoeners die waentjies rondom die struktuur afgebreek en gate in die traliewerk van die vensters gekap, vermoedelik uit wraaksug oor die Nasionale Party se oorwinning in die algemene verkiesing.

Bron: Kapp, P.H. 1989. Simbolies Ossewatrekgedenktekens. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 266–268.