In die Engelenburghuis, Arcadia

In die Engelenburghuis, Arcadia

Nicolaas Petrus van Wyk Louw is op 11 Junie 1906 op Sutherland in die Kaapprovinsie gebore. Hy het op Sutherland skoolgegaan tot sy dertiende jaar, waarna die gesin na Kaapstad verhuis het. In 1923 gaan hy na die Universiteit van Kaapstad, waar hy die grade MA en BEd behaal het.

Na die voltooiing van sy studie het hy ’n jaar in Steynsburg skoolgehou. In 1929 is hy aan die Kaapse Universiteit aangestel as lektor in die Fakulteit Opvoedkunde, ’n os wat hy jare lank beklee het tot sy vertrek na Nederland aan die begin van 1950.

In 1935 het hy sekretaris geword van die Vereniging vir die Vrye Boek, wat ’n paar puik uitgawes die lig laat sien het, soos onder meer Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan. Saam met sy digterbroer, WEG Louw en HA Mulder, het hy in 1945 die letterkundige tydskrif Standpunte gestig.

In 1950 aanvaar hy ’n leerstoel aan die Gemeentelike Universiteit van Amsterdam. In 1958 keer hy terug na Suid-Afrika om hoof te word van die Departement Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Witwatersrand, ’n betrekking wat hy tot sy dood op 17 Junie 1970 in Johannesburg beklee het.

Eredoktorsgrade is deur die Universiteit van Stellenbosch, Utrecht en Rhodes aan NP van Wyk Louw toegeken. Hy was ook ’n erelid van die Koninklike Nederlandse Akademie.

Van Wyk Louw is in sy roemryke loopbaan as skrywer en digter vyf keer met die Hertzogprys bekroon: in 1937 (poësie) vir die bundel Alleenspraak, wat hy deel met ID du Plessis; in 1940 (poësie) vir Die halwe kring; in 1958 (kritiese prosa en essays) vir Die mens agter die boek, Maskers van erns, Lojale verset en Berigte te velde; in 1960 (drama) vir Germanicus en in 1965 (poësie) vir Tristia.

Buiten die vyf Hertzogpryse wat Van Wyk Louw verower het, het verskeie ander onderskeidings hom ook te beurt geval, byvoorbeeld die Akademieprys vir Radiodrama van die SAUK vir Dagboek van soldaat. In 1963 ontvang hy ook die CNA-prys vir Letterkunde vir die digbundel Tristia.

Ander bekende werke van Van Wyk Louw is onder meer Die dieper reg (1938), Raka (1941), Gestaltes en diere (1942), Kruger breek die pad oop en ander hoorspele (1964), Die pluimsaad waai ver (1962), Liberale nasionalisme (1958) en Dias (1952).

In die Engelenburghuis, tuiste van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns in Pretoria, staan daar ’n bronsbeeld van NP van Wyk Louw. Die borsbeeld, wat 32,5 cm hoog is, is gemaak deur Moses Kottler.

Kottler het ’n figuratiewe styl (met duidelike beïnvloeding deur die kubisme) nagevolg. In sy vrye werk gee hy die voorkeur aan die uitbeelding van Bantoe- en Kleurlingfigure, veral vroue- en kinderfigure. Hy het egter ook talle werke in opdrag uitgevoer en het veral beelde en borsbeelde van Afrikanerleiers, soos generaal CR de Wet en generaal JBM Hertzog en ook van NP van Wyk Louw met ’n forsheid wat byna van heldeverering spreek, geskep.

Hierdie sprekende borsbeeld herinner ’n mens aan wat NP van Wyk Louw vir die Afrikaner beteken het. Van Wyk Louw het tot met sy dood in 1970 ’n sentrale plek in die Afrikaanse literêre lewe ingeneem. As digter, as dramaturg en as literêre teoretikus, het hy wye aansien geniet. As leier van die Dertigers, het Van Wyk Louw die Afrikaanse letterkundige toneel meer as vier dekades lank oorheers. Daarom word slegs professor Louw as enkele voorbeeld gebruik om ook die andersins groot bydrae van talle skrywers in Afrikaans te verteenwoordig.

NP van Wyk Louw het deur sy kuns internasionale status aan Afrikaans gegee en in sy tyd is hy as die belangrikste lewende digter in die Dietse taalgebied beskou, wat die plek van Afrikaans onder wêreldtale verseker het, ondanks die feit dat dit die jongste Germaanse taal ter wêreld is. Van sy werke is vertaal in Engels, Frans, Duits, Italiaans en vier Bantoetale.

Aangesien die doelstellings van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns onder meer die handhawing en bevordering van die Afrikaanse taal, letterkunde en kultuur is, is dit paslik dat die borsbeeld van hierdie belangrike Afrikaner-kultuurleier in die Engelenburghuis bewaar en uitgestal word.

Bron: NALN, N.P. van Wyk Louw. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 206–207.