Voor die Uniegebou in Pretoria

Voor die Uniegebou in Pretoria

Drie standbeelde is van generaal Louis Botha gemaak. In die Botha-tuin in Durban staan ’n ruiterstandbeeld wat deur Anton van Wouw gemaak en op 14 Julie 1923 deur generaal JC Smuts onthul is. Op Stalplein, Kaapstad, is ’n ruiterstandbeeld opgerig wat deur ’n Italiaanse beeldhouer, Romano Romanetha, gemaak en op 2 Februarie 1931 deur die eggenote van sir Frederick de Waal onthul is. Die derde ruiterstandbeeld staan op die voorgrond van die Uniegebou in Pretoria. ’n Behoefte aan ’n créche in Pretoria vir weeskinders ná die 1918-griep het aanleiding gegee tot die oprigting van ’n standbeeld vir generaal Louis Botha in dié stad.

Oorspronklik was die gedagte om fondse in te samel, ten einde dié inrigting in ’n permanente tehuis vir sorgbehoewende kinders om te skep en dit na generaal Louis Botha te noem. Onder leiding van generaal JC Smuts is ’n Louis Botha-gedenkkomitee gevorm wat van 1919 tot 1922 fondse vir dié doel ingesamel het. Die openbare gevoel was egter dat Botha ’n volwaardige gedenkteken verdien en dat dit verkieslik naby die Uniegebou opgerig moet word. Hieraan het die gedenkkomitee uitvoering probeer gee, maar dit het mettertyd geblyk dat die terrein nie almal se goedkeuring weggedra het nie. Daar is vervolgens na ander terreine gesoek, maar uiteindelik is dit tóg algemeen goedgekeur dat ’n beeld op die terrein voor die Uniegebou langs Kerkstraat opgerig sou word. Die voorkeur is gegee aan ’n ruiterstandbeeld met Botha in sy hoedanigheid van kommandant-generaal van die Boeremagte in die Anglo-Boereoorlog. Die Pretoriase beeldhouer Coert Steynberg het in 1939 opdrag gekry om die beeld te maak en hy het die taak in 1942 voltooi. As gevolg van die Tweede Wêreldoorlog kon dit nie dadelik opgerig word nie.

Die beeld, 5,3 m hoog, op ’n voetstuk van 4,57 m, stel Botha voor waar hy op sy perd bo-op ’n rantjie in Suid-oos-Transvaal die omgewing bespied, met die verkyker in sy regterhand. Aan die kante van die voetstuk is ses panele aangebring waarop die belangrikste fases van sy lewe uitgebeeld is. Op 15 Augustus 1946 is dit deur mevrou Helen de Waal, Botha se oudste dogter, onthul. In die hoofrede het generaal Smuts op Botha se talle deugde gewys en onder meer sy krygsloopbaan met sy politieke loopbaan vergelyk. “Die groot krygsman”, het hy gesê, “het die groot vredemaker geword.”

Louis Botha, gebore op 27 September 1862 naby Greytown in Natal het hom op vroeë leeftyd as skitterende krygsman onderskei. Hy is as gewone burger na die gevegsfront in die Anglo-Boereoorlog maar is na net minder as twee maande in bevel van die Boeremagte aan die Tugela geplaas. Op sewe en dertig was hy die jongste Boeregeneraal in die veld. Sy suksesse as aanvoerder by die veldslae van Colenso, Spioenkop en Vaalkrans het sy naam verewig in die militêre geskiedenis van Suid-Afrika en sy welslae is bekroon toe hy in Maart 1900 as waarnemende kommandant-generaal van die ZAR aangewys is. Na die Britse verowering van die Republikeinse hoofstede het hy met welslae in Oos- en Suidoos-Transvaal geopereer tot die vredesluiting. In die heropbou van die twee voormalige Boererepublieke het hy ’n reuse-aandeel gehad, en veral deur middel van die politiek party Het Volk, die Afrikaner se aansien help herstel. Nadat Transvaal selfregering ontvang het in 1907, het hy eerste minister geword. Drie jaar later, met die Uniewording, het hy ook die eerste premier van ’n verenigde Suid-Afrika geword en in hierdie hoedanigheid tot sy dood in 1919 gedien.

Botha se versoeningsbeleid tussen die twee blanke taalgroepe, en ook sy standpunt dat Suid-Afrika voortaan onlosmaaklik aan die Britse Ryk verbind is, het hom mettertyd van ’n groot deel van sy volksgenote vervreem. Veral sy besluit dat die Unie Brittanje militêr sou steun in die Eerste Wêreldoorlog, het groot verwydering en bitterheid onder Afrikaners gebring. Dit het Botha geestelik geknou en hy het as ’n teleurgestelde man op 27 Augustus 1919 in Pretoria gesterf. Tog het hy tot aan die einde van sy lewe deel van sy volk gebly. Steynberg het probeer om met sy beeld die idee van die kommandant-generaal wat beheer uitoefen oor die Boeremagte, simbolies uit te druk. Botha is ’n kragtige figuur met ’n forse blik en ferme lippe; saam met die lewendige, gespierde perd, vorm die beeld ’n eenheid wat daadkrag uitstraal.

Bron: Brits, J.P. 1989. Louis Botha. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 198–199.