Aan die noordekant van die Magaliesberg, langs die pad van Pretoria-Noord na Brits, ongeveer 17 km van die Stadhuis van Pretoria-Noord

Aan die noordekant van die Magaliesberg, langs die pad van Pretoria-Noord na Brits, ongeveer 17 km van die Stadhuis van Pretoria-Noord

Langs die pad van Pretoria na Brits, 16,8 km wes van die stadhuis in Pretoria-Noord, aan die voet van die Magaliesberge, staan ’n gedenknaald van gekapte graniet ter nagedagtenis van Jopie Fourie, wat op 20 Desember 1914 gefusilleer is weens sy deelname aan die Rebellie van 1914.

Josef Johannes (Jopie) Fourie is op 27 Augustus 1878 op die plaas Wildebeesthoek, distrik Pretoria, gebore. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog, het hy op kommando gegaan. Hy is net bokant die knie gewond wat hom later mank laat loop het. Na die oorlog het hy sy belangstelling in die politiek getoon en die beleid van generaal Louis Botha tot kort voor die Rebellie trou ondersteun.

Toe generaal CF Beyers ’n gewapende protes teen die owerheid se verowering van Duits-Suidwes aanvoor, het Jopie sy steun aan die Rebellie toegesê. Hy het egter nagelaat om uit sy kommissie te bedank. Op 16 Desember 1914 word hy na ’n hewige geveg saam met 46 ander rebelle gevange geneem.

’n Oorhaastige saamgestelde krygshof het hom op 18 en 19 Desember verhoor en veroordeel om op Sondagoggend 20 Desember 1914 om 05h00 voor ’n vuurpeloton te sterf.

’n Petisie om genade is in haas na generaal JC Smuts gebring, maar dit het misluk, en vroegdag op 20 Desember, terwyl Jopie met forse stem die Gesangvers sing: “Als wij de doodsvallei betreën, laat ons elk aardsche vriend alleen …”, klap die skote, en hy sterf, ’n martelaar vir vryheid in die hart van die Afrikanervolk.

Sy oorskot is drie keer opgegrawe en herbegrawe, die laaste keer in die heldeakker in Pretoria, waar ’n eenvoudige grafsteen opgerig is met die inskripsie: Voor God en Vaderland, die vervulling van sy wens in die dodesel.

’n Groepie Afrikaners het in 1934 besluit om by Nooitgedacht, sowat 40 km noord van Pretoria, waar Jopie twintig jaar tevore op 16 Desember gevange geneem is, ’n Jopie Fourie-monument op te rig. Die gedenktekens van graniet sowat 5 m hoog, is in die vorm van ’n suil wat op ’n voetstuk rus. Op die suil self is die ou ZAR-wapen gegraveer, terwyl op die voetstuk die volgende gegraveer is:

Komdt. Jopie Fourie. Gevang met 43 Burgers deur ’n oormag unie troepe op 16 Des. 1914. Deur ’n Veldkrygsraad op Pretoria ter dood veroordeel. Die vonnis hom bekend gemaak Saterdagaand om 10 uur, 19 Des. 1914. Doodgeskiet in Pretoria-Sentrale tronk om 5 uur op Sondagmore 20 Des. 1914. Hy het sy lewe opgeoffer vir volk en vaderland.

Met die onthulling op Sondag, 16 Desember 1934, was doktor DF Malan – wat saam met ander ’n desperate poging aangewend het om Jopie se vonnis te versag – die feesredenaar. Hy het daarop gewys dat daar ’n uiterlike sowel as fundamentele verband bestaan tussen Geloftedag en die teregstelling van Jopie. Uiterlik was daar die ooreenkoms van dieselfde jaargety, dieselfde datum en die gebeure wat die oggend vroeg plaasgevind het. Innerlik het Geloftedag ’n nuwe tydvak in die geskiedenis van die Afrikaner ingelei, terwyl Jopie Fourie die begin van ’n nuwe tydvak in die volkgeskiedenis was.

Om begryplike redes is daar in 1964 – 50 jaar na sy dood – besluit om die monument na sy geboorteplaas te verskuif. Meneer Carl Nell, van die firma Nell-Broers Grafsteenmakers, het die verskuiwing en heroprigting van die monument kosteloos onderneem. Die Voortrekkerkommando Akasia, wat die verskuiwing geïnisieer het, het met die aftakeling en heroprigting gehelp.

Op 15 Desember 1964 het die minister van Justisie, advokaat BJ Vorster, die heropgerigte monument onthul.

Die name van Jopie Fourie se medegevangenes is aan die oostelike en westelike wande van die monument aangebring.

’n Indrukwekkende program is deur die Voortrekkerkommando Akasia onder leiding van kommandant JB Blignaut gereël.

Vandag pryk daar oor die hek wat tot die terrein toegang verleen, ’n groot boog waarop geskrywe staan: Jopie Fourie-Feesterrein. Links van die suil staan ’n feeshuis waar volksfeeste van tyd tot tyd deur die Voortrekkers en Rapportryerskorps gereël word.

Bron: Van Schoor, M.C.E. 1989. Jopie Fourie. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 168–169.