In die Wespark-begraafplaas, DF Malan-rylaan, Johannesburg

In die Wespark-begraafplaas, DF Malan-rylaan, Johannesburg

Hy was ’n sportheld by uitnemendheid, maar hy was ook ’n Afrikaner-patriot wie se politieke denkrigting deur die Simboliese Ossewatrek van 1938 geïnspireer is; soseer dat hy deur sy aktiewe deelname gou in konfrontasie met die toenmalige Regering gekom het.

Op 23 Februarie 1942 is hy in die rug geskiet, ’n skoot wat ’n einde gebring het aan die loopbaan van Johannes van der Walt, Afrikanerheld uit die tydperk waarin deelname aan die Tweede Wêreldoorlog heftige politieke onmin in Suid-Afrika meegebring het. Op 25 Maart 1942 is hy oorlede na ’n lyding wat die eens forse liggaam van die Statebond se stoeikampioen tot ’n karige 40 kg laat wegkwyn het.

Gebore op 1 November 1908 op die plaas Witkoppen, nagenoeg 50 km buite Johannesburg, het Johannes van der Walt in die jare 1934 tot 1941 groot roem as beroepstoeier verwerf.

Gedurende die Simboliese Ossewatrek van 1938 is Johannes van der Walt gevra om een van die leiers van ’n perdekommando te wees. Hierdie gebeurtenis het ’n onuitwisbare indruk op hom gemaak, want skielik was hy nie meer net ’n stoeiheld nie, maar leier van ’n perdekommando wat besig was om hulde te bring aan ’n stoere voorgeslag.

Baie van die jong Afrikaners wat hom van die een stoeigeveg na die ander gevolg het, het voortaan saam met hom volgens eg Afrikaanse tradisie te perd oor die velde van Suid-Afrika gery. Twee pole het hulle hier met mekaar vereenselwig, naamlik die daadkrag en polsende geesdrif van die jeug aan die een kant en die strewe na Afrikaner-volkseenheid aan die ander kant. Binne hierdie klimaat het Johannes van der Walt inderdaad ’n politieke figuur geword.

Toe hy by die Ossewa-Brandwag aangesluit het, is hy aangestel as hoofgeneraal van die Witwatersrandstreek. Later het hy ’n generaal in die “Stormjaers”, die militante vleuel van die Ossewa-Brandwag, geword. Waarskynlik as gevolg van die toenemende steun wat hy van die jeug ontvang het, het Van der Walt ’n gevaar vir die Suid-Afrikaanse Regering ingehou. In Desember 1941 is hy in hegtenis geneem, omdat hy ’n ongelisensieerde pistool in sy besit gehad het. Hy is op borgtog vrygelaat, waarna hy weer in hegtenis geneem is, vermoedelik om geïnterneer te word. Met die hulp van lede van die Stormjaers, hy op 21 Desember 1941 uit die selle by Marshallplein ontsnap. Hierna het hy hom op verskeie plekke skuil gehou, totdat hy op ’n plaas by Muldersdrif in die rug gewond is.

Deur sy lydingsvolle siekbed het hy getrou gebly aan sy volk, sy land en sy godsdiens. Sy begrafnis op 28 Maart 1942 was ’n volksaamtrek wat volgens tydgenootlike bronne deur 50 000 mense bygewoon is. Sy oorskot is met die Simboliese Ossewatrek-wa, die Louis Trichardt, na die begraafplaas vervoer.

Die Transvaler het die leiding geneem met die stigting van die Johannes van der Walt-Gedenkfonds. Die doel van hierdie fonds was in die eerste plek die versorging van sy huisgesin, asook die daarstelling van ’n lewende monument ter ere van hom. Hierdie “lewende monument” sou tweërlei van aard wees, naamlik die daarstelling van ’n gimnasium waar sportmanne kon oefen, asook die oprigting van ’n gepaste grafsteen.

In September 1943 het doktor HF Verwoerd, voorsitter van die gedenkfonds, die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys genader met die voorstel dat die ingesamelde bedrag van ongeveer R8 000 oorgedra sou word aan die universiteit op voorwaarde dat die geld gebruik word vir die bou van ’n Instituut vir Liggaamsopvoeding. Op 15 Oktober 1949 is hierdie Instituut amptelik in gebruik geneem.

Enkele maande na die dood van Johannes van der Walt is ’n grafsteen op sy graf in die Wesparkse begraafplaas Johannesburg, aangebring. Die firma South African Monumental Works was vir die oprigting van die nagenoeg 3 m hoë suil verantwoordelik. ’n Mooier en gepaster grafskrif is haas ondenkbaar:

Hy het geval as slagoffer op die pad van Suid-Afrika.

Op 10 Oktober 1975 is daar by die Randse Afrikaanse Universiteit ’n gedenkplaat ter ere van die Afrikaner-sport- en volksheld onthul.

Bron: Van der Merwe, P.J. 1989. Johannes van der Walt. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 142–143.