JC Smuts

Kaapstad, by die ingang na die Tuine

Jan Christiaan Smuts wat op 24 Mei 1870 in Riebeeck-Wes gebore is, het op 11 September 1950 in Pretoria gesterf.  Vier standbeelde van hierdie omstrede Afrikaner – Boeregeneraal en Britse veldmaarskalk – is opgerig om hom te gedenk. Nie een is deur Afrikaners as sodanig onderneem nie, hoewel baie bydraes gedoen het.

As Eerste Minister van Suid-Afrika van 1919 tot 1924 en weer van 1939 tot 1948; as leiersfiguur in die Britse Statebond en die Volkebond, en as ’n sleutelfiguur in die Geallieerde oorlogspoging en die Eerste en Tweede Wêreldoorlog, was generaal Smuts in voortdurende botsing met Afrikaner-nasionalisme. Tog het hy bewus of onbewus Afrikaner gebly in die groot internasionale wêreld waarin hy beweeg het.

As briljante student op Stellenbosch en in Cambridge het hy die adel van die Afrikaner in hom gedra. As staatsprokureur in Transvaal ná Junie 1898 het hy naby die hartklop van die Afrikanervolk gelewe en as vegter en aanvoerder in die Tweede Vryheidsoorlog (Anglo-Boereoorlog) die inval in die Kaapkolonie gelei. As stigterslid van Het Volk in Januarie 1905, het hy van die herstel en opkoms van die Afrikaner uit sy verplettering gedroom. Maar sedert die Onderwyswet van 1907 het hy geleidelik van hierdie hartklop wegbeweeg, omdat hy die diepste strewe en ideale van die Afrikaner nie ten volle kon begryp nie. As internasionale staatsman het hy aansien vir sy land en volk verseker, maar kon hy die onwrikbare vasberadenheid van die Afrikaner om net homself te wees, nie waardeer nie.

Die eerste standbeeld vir generaal Smuts is op 24 Mei 1954, presies 84 jaar na sy geboorte in Durban onthul. Dit is ’n bronsbeeld van die generaal in die uniform van ’n veldmaarskalk en dit staan in die stadstuin in Smithstraat by die oorlogsmonument. Dit is ’n lewensgroot beeld, geskep deur die Italianer, professor A Lapi. Op die drie meter hoë voetstuk is reliëfbeelde uit Smuts se geskiedenis deur Nils Solberg geskep.

Op Westminster Square, voor die parlementsgebou in Londen, is ’n lewensgrootte beeld deur Jacob Epstein in 1956 onthul. Die figuur is op sy een voet gebalanseer en die hele liggaam is vorentoe geleun asof hy aan die stap is. Smuts vertoon ietwat broos, sonder krag en energie.

In die Kompanjiestuin in Kaapstad staan ’n ander Smutsbeeld, deur die Britse beeldhouer Sydney Harpley. Dit is een van die mees omstrede beelde in ons geskiedenis, want die onthulling van hierdie bonkige struktuur in 1964 het ’n storm van verontwaardiging uitgelok. Die werk is veroordeel vas ’n groteske wanvoorstelling van Smuts. Die standbeeld is opgerig deur ’n komitee wat spesiaal vir dié doel in die lewe geroep is. Hulle het ’n kompetisie vir die ontwerp van ’n standbeeld uitgeskryf en dié beoordelaars het uiteindelik Harpley se beeld gekies.

Só groot was die verontwaardiging oor dié uitbeelding dat ’n nuwe komitee saamgestel is om ’n meer realistiese beeld te laat maak. Die beeldhouer, Ivan Mitford-Barberton, se inskrywing is aanvaar. Die beeld is ’n informele uitbeelding van Smuts in die natuur met ’n edele, sterk Boeregesig, ’n energieke houding en ’n lewenskragtige blik in sy oë. Die beeld is 5,3 m hoog, geplaas op ’n voetstuk wat 1,5 m hoog is en is aan die bopunt van Adderleystraat by die ingang tot die Tuine en naby die Parlementsgebou opgerig. Dit is in Januarie 1974 onthul.

JC Smuts-standbeeld

By die Uniegebou in Pretoria

Op die grasperk wes van die Uniegebou staan ’n borsbeeld van generaal Smuts, deur die beeldhouer Danie de Jager. Die beeld is geplaas binne ’n raamwerk van sewe meter hoë sandsteenkolomme wat deur argitek Hans Botha só ontwerp is dat dit met die Uniegebou harmonieer. Die omringende tuine is so uitgelê dat die paadjies op die standbeeld gerig is. Die standbeeld is op 27 September 1975 deur die Staatspresident, doktor N Diederichs, onthul.

Kort na Smuts se dood in 1950, is ’n komitee gestig om ’n gedenkteken op te rig. Die komitee se fondsinsameling was so suksesvol dat hulle in 1960 die grootste deel van die oprigting van Jan Smutshuis kon bekostig. Die gebou is by die Universiteit van Witwatersrand en huisves sedertdien die Instituut vir Internasionale Aangeleenthede. Die standbeeld by die Uniegebou is ook uit hierdie fondse bekostig.

Bron: Kapp, PH. 1989. “J.C. Smuts”. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, p. 30.