Jan Marais_klein

Jan Marais-standbeeld

Op die Jan Marais-plein van die Universiteit van Stellenbosch, omring deur universiteitsgeboue, en bo-op die nuwe gesonke ondergrondse JS Gericke-biblioteek, staan die groot standbeeld van Jan Marais, weldoener van die Universiteit van Stellenbosch, die Afrikanervolk en die onderwys in die algemeen. Die granietstandbeeld, wat op ’n wit marmervoetstuk staan, en self ’n donkergrysmarmervoorkoms het, is in ’n staande posisie en front na die ooste, en sy hand rus op sy bors.

Johannes Henoch Marais is op 8 September 1851 op die plaas Coetzenburg in Stellenbosch gebore. Na sy opleiding aan die Stellenbosch-Gimnasium het hy as negentienjarige saam met sy broers na die Vaalrivier-diamantdelwerye gegaan om daar sy geluk te beproef. Met sy terugkeer in 1892 het hy Coetzenburg van sy moeder gekoop en hom daar op boerdery toegelê. In 1899 is hy as kandidaat van die Afrikanerbond vir die kiesafdeling Stellenbosch tot lid van die Kaapse Wetgewende Vergadering gekies – ’n posisie wat hy tot en met die Uniewording beklee het, waarna hy tot sy dood op 30 Mei 1915 by Montagubad Volksraadslid vir Stellenbosch was.

Vir die Afrikanersaak het hy veel beteken: hy was ten nouste betrokke by die oprigting van De Burger (later Die Burger) in 1914-1915; deur sy bewilliging van beurse en lenings aan die Victoria-Kollege om Afrikanerstudente se studies, veral in die Hollandse taal, moontlik te maak, het hy baie gedoen om die Afrikanersaak te bevorder, en deur middel van skenkings het hy die oprigting van sekere geboue aan die Victoria-Kollege moontlik gemaak. Sy grootste bydrae toe die Afrikanersaak en onderwys in die algemeen was egter sy nalatenskap van £100 000 (R200 000) vir die stigting van ’n universiteit op Stellenbosch. Danksy hierdie weldaad, is die stigting van die Universiteit van Stellenbosch in 1918 moontlik gemaak – die eerste Afrikaanse universiteit in Suid-Afrika. Afgesien van hierdie belangrike nalatenskap, het hy ook groot bemakinge gedoen aan verdienstelike sake, soos die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch, die Instituut vir Dowes en Blindes op Worcester en die Kindersendinghuis in Kaapstad. Met die restant van sy boedel is ’n sterk fonds, Het Jan Marais Nationale Fonds, gestig waaruit baie Afrikaner- en nasionale sake tot vandag gewaardeerde steun ontvang.

In 1949 het by die Raad van die Universiteit van Stellenbosch die gedagte ontstaan om ’n marmerbeeld vir Jannie Marais te laat oprig ter ere van sy weldade aan die Universiteit van Stellenbosch en die groot bydraes wat hy tot die Afrikanervolk en opvoeding in die algemeen gelewer het. Die beeldhouer Coert Steynberg is opdrag gegee om die marmerstandbeeld te maak. Dit is in 1950 voltooi en in dieselfde jaar tussen die universiteitsgeboue op die Jan Marais-plein opgerig.  Op 10 Oktober 1950 is die standebeeld deur sy eggenote, mevrou EJH Marais, onthul. Die hooftoespraak by dié geleentheid is deur doktor K Bremer, senator en vise-kanselier van die Universiteit van Stellenbosch, gelewer. In sy toespraak het doktor Bremer verwys na die onskatbare dienste wat Jannie Marais aan die opvoeding in Suid-Afrika en die Afrikanervolk gelewer het. Sy weldade aan die Universiteit van Stellenbosch en vir die land en volk is verewig en word deur eenvoudige, maar veelseggende woorde op die standbeeld in herinnering gehou:

J.H. Marais, Ons weldoener

By sy begrafnis op 3 Junie 1915 uit die moederkerk op Stellenbosch het professor JI Marais onder meer gesê: “Stellenbosch zou haar rechterhand moeten vergeten als zij vergeten zou word wat Jan Marais voor haar was.” Die treffende huldeblyk het nie alleen vir Stellenbosch gegeld nie, maar ook in ’n hoë mate vir Suid-Afrika.

Bron: Van Zyl, D.J. 1989. Jan Marais. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 42–43.