Die bolyfbeeld van Jan Celliers staan by die skool wat sy naam dra, naby die Dieretuin, in Onder-Parkrylaan, Parkview, Johannesburg.

By die Laerskool Jan Celliers in Parkview, Johannesburg

By die Laerskool Jan Celliers in Parkview, Johannesburg

Jan Francois Elias Celliers, Afrikaanse digter, skrywer en dramaturg, is op 12 Januarie 1865 op Wagenmakersvallei, Wellington, gebore. Hy gaan skool in Kaapstad, Stellenbosch en Pretoria. In 1887 gaan hy na Nederland waar hy vir landmeter studeer. Terug in die Transvaal doen hy ’n tyd lank landmeterswerk, en hy kry toe ’n aanstelling as Staatsbiblioteek.

Toe die Anglo-Boereoorlog in 1899 uitbreek, gaan hy op kommando. Na die oorlog vertrek hy en sy gesin na Europa. Hy woon ’n paar jaar lank in Switserland, waar hy sy eerste belangrike gedig, “Die vlakte” skryf. Hierna bly hy nege maande in Nederland.

In 1907 keer hy terug na Suid-Afrika en neem aktief deel aan die taalstryd. Hy word aangestel as vertaler in die Departement van Binnelandse Sake. In 1919 word hy aangestel as buitengewone professor in die letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, en hierdie amp beklee hy tot 1929. Die dood van sy vrou in 1926 was vir hom ’n groot skok, aangesien sy ’n sterk invloed op sy lewe en werk uitgeoefen het. Jan Celliers is op 1 Junie 1940 in Johannesburg oorlede.

Die volgende werke het uit sy pen verskyn: Die vlakte en ander gedigte (1908), Die rivier (1909), Unie-kantate (1910), Martjie (1911), Die saaier en ander gedigte (1918), Jopie Fourie en ander nuwe gedigte (1920), Die lewenskim (1923), Die groot geheim (1924), Liefdeslewe (1924). Hy het ook ’n paar dramas en ’n bundel verhale geskryf en romans uit Frans vertaal.

Jan Celliers was een van die groot skrywers wat Afrikaans op die voorgrond gebring het. Buiten die groot aandeel wat sy gedigte en skryfwerk in die stryd om die erkenning van Afrikaans as taal gehad het, werk hy ook mee aan die stigting van De Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst (1909) en die oprigting van die eerste Afrikaanse literêre tydskrif, Die Brandwag (1910).

Die bronsbeeld van Jan Celliers staan in die portaal van die Jan Celliers-skool. Die beeldhouer was die bekende Coert Steynberg, en een van die skool se ouers, ’n meneer Van Rensburg, het ’n paslike houtvoetstuk vir die beeld gemaak. Die digter se naam is onder aan die beeld aangebring.

Die Skoolkomitee van die Jan Celliers-skool was van mening dat, aangesien die skool se naam van hierdie gevierde volksdigter dra, dit die plig en voorreg van die skool is om Jan Celliers se naam in ere te hou. Daarom is daar in 1946 ’n begin gemaak met die Jan Celliers-museum.

Die komitee was egter nie tevrede met net die museum nie. Hul ideaal was om ’n standbeeld van Jan Celliers voor die hoofgebou van die skool op te rig. As gevolg van ’n gebrek aan fondse en ander probleme, is uiteindelik besluit om net ’n bolyfbeeld van die digter te laat maak, wat dan met die mondigwordingsfees van die skool onthul kon word.

Die koste van die beeld is grootliks gedek deur die groot bedrag wat die Beeldfonds uit die nalatenskap van wyle doktor AB Theron, ’n oudskoolkomitee- en stigterslid, ontvang het.  Die Beeldfonds is verder aangevul deur bydraes van verskeie Afrikaanse skrywers en digters en spesiale bydraes van ouers.

Die beeld is op 30 Januarie 1950 onthul deur mevrou Marie Stegmann, Jan Celliers se dogter. Die beeldhouer Coert Steynberg was ook by die plegtigheid teenwoordig.

Volgens professor PJ Nienaber, wat as spreker by dié geleentheid opgetree het, het Coert Steynberg “daarin geslaag om die siel van die digter in die beeld terug te roep”. Uit professor Nienaber se onthullingstoespraak blyk die waarde en betekenis van hierdie beeld duidelik: “Ons glo dat hierdie borsbeeld die leerlinge van die Jan Celliers-skool blywend sal inspireer; dat hulle almal die skool sal verlaat met die weerklank van sy vaderlandse gedigte in hulle siel, dat sy gees hulle doelbewus op die pad van Suid-Afrika sal hou.”

Bron: NALN. 1989. Jan F.E. Celliers. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 140–141.