Hans van Rensburg-gedenkteken in die Irene-kerkhof

Hans van Rensburg-gedenkteken in die Irene-kerkhof

In Verwoerdburg by die kerkhof langs die snelweg wat die noorde met die suide verbind, lê die grafmonument van doktor Johannes Frederik Janse (Hans) van Rensburg, kommandant-generaal van die Ossewa-Brandwag. ’n Imposante grafsuil dui die laaste rusplek aan van die leier van Afrikanerprotes en -verset gedurende die Tweede Wêreldoorlog.

Gebore onder die Vrystaatse Vierkleur op 24 September 1888 in Winburg, maak hy die Rebellie (1914) as skoolseun saam met sy vader aan regeringskant mee. Die broederoorlog en die gevegte by Mushroomvalley maak op hom ’n bepalende indruk. In Pretoria bekwaam hy hom in die regte en verwerf die doktorsgraad. Van Rensburg, ’n bewonderaar van generaal Hertzog, word na die bewindsaanvaarding van die Pakt-regering in 1924 die private sekretaris van Tielman Roos, Minister van Justisie. Hy vorder tot regsadviseur en daarna word hy agtereenvolgens ondersekretaris en later sekretaris van die Departement van Justisie. Op 1 Desember 1936 word hy aangestel as Administrateur van die Oranje-Vrystaat.

Intussen het hy ook as militêr opgang gemaak. Hy vorder in die Aktiewe Burgermag van manskap in 1928 tot luitenant in die Regiment Pretoria in 1930 en beklee met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog die rang van kolonel as bevelvoerder van Vierde Brigade. Kort voor die oorlog woon hy op uitnodiging van die owerhede militêre maneuvers in sowel Brittanje as in Duitsland by.

Hy was gekant teen die oorlogbeleid van generaal Smuts. Daar word by hom aangedring om die hoofleierskap van die Ossewa-Brandwag, te aanvaar en hy word op 1 Januarie 1941 kommandant-generaal en tegelyk die opperbevelvoerder van die ondergrondse Stormjaervleuel van die Ossewa-Brandwag.

Hans van Rensburg het homself die taak gestel om die Afrikaner militêr-defensief te mobiliseer en te dissiplineer. Op geen tydstip het Van Rensburg ooit opdrag tot enige geweldpleging gegee nie. Tegelykertyd wou Van Rensburg egter Smuts se oorlogspoging kortwiek deur hom te verplig om ’n groter troepemag in Suid-Afrika te hou wat hy anders vir die geallieerde saak in die buiteland beskikbaar sou stel.

Om na die oorlog tot die demokratiese partypolitiek te kon terugkeer, het Van Rensburg die Ossewa-Brandwag aangemoedig om in die Afrikanerparty van meneer NC Havenga op te gaan. Die verkiesingsooreenkoms tussen doktor DF Malan en Havenga in 1947 het ’n jaar later gelei tot die val van Smuts se Verenigde Party-regering na sy neerlaag in die algemene verkiesing van Mei 1948.

Na hierdie oorwinning was die Ossewa-Brandwag nie meer ’n belangrike faktor in die Suid-Afrikaanse politiek nie. Van Rensburg het egter tot 1952 as hoofleier aangebly. Hy vestig hom tot sy dood in 1966 op sy plaas Mooi Eiland in die distrik Parys.

’n Semi-militêre begrafnis is vir Van Rensburg aangebied. Terwyl vlae voor staatsgeboue halfstok gehang het, het 2000 rougangers aan die teraardebestelling deelgeneem.

Dit was by die jaarkongres van die Bond van Oudgeïnterneerdes en gewese Politieke Gevangenes in 1966 dat daar besluit is om ’n paslike grafmonument vir hierdie Afrikaner-versetleier op te rig. Die ontwerp van dier gedenkteken is toevertrou aan die kunstenares Elly Holm en die oprigting daarvan is opgedra aan die argitekte Holm en Holm. Die koste van die werk sou uiteindelik R9700 bedra.

Die klip en steen waarvan die monument vervaardig is, het gekom uit elke provinsie van die Republiek. ’n Groot wawiel, wat as plattegrond vir die grafsuil en grafsteen sou dien, is van nie-gepoleerde kwartsietklip uit Noord-Transvaal en Suidwes-Afrika afkomstig. Dit vorm ’n ronde verhoog 300 mm bokant die omliggende grondoppervlak. Die verskillende kleure van die klip dien om die wiel duidelik te vergestalt. Die wawiel verpersoonlik die Simbolies Ossewatrek van 1938, waaruit die herrysenis van Afrikanernasionalisme en die Ossewa-Brandwag gebore is.

Buite die omtrek van die wiel, teenoor elk van die tien speke, staan ’n klip afkomstig van die berg Amajuba in Natal. Om die Majuba-klippe lê ’n bekermende mat van spoelklippe wat kom van die eiland in die Vaalrivier war Van Rensburg gewoon het. Op die wiel, en effens uitstaande, lê die grafplaat van ongepoleerde Paryse graniet, 1,5 m by 1,25 m. Op die grafplaat verskyn in brons die naam, geboorte- en sterfdag van Van Rensburg, en ook die naam Ossewa-Brandwag.

’n Suil van ongepoleerde Vrystaatse graniet, afkomstig van Parys, vorm die graf se kopstuk. Die suil is 3 m hoog en elk van sy vier kante 40 mm breed en is gekap deur die firma Sinclair en Kie. Bo-op die suil rus ’n vlammebak uit metaal van Springbok se kontrei.

Teen die suil pryk aan die oostekant ’n profielbeeld van die gestorwe leier. Teen die westekant van die suil is ’n koperplaat waarop in versonke skrif ’n kort biografiese oorsig van die oorledene se lewe, strewe en betekenis verstrek word. Dis opgestel deur regter Kowie Marais, een van sy makkers gedurende die oorlogsjare.

Die onthulling van die grafsteen, toegedek in vlae van die Ossewa-Brandwag en Boererepublieke, het plaasgevind op 10 Oktober 1967. Dis waargeneem deur die Eerste Minister, advokaat BJ Vorster, wat ná Van Rensburg se dood in sy plek as erepresident van die Bond geword het.

Kort na die onthulling van die monument is daar besluit om ’n ere-akker vir oud-Ossewa-Brandwag-lede om die kommandant-generaal se graf af te muur. Daar is voorsiening gemaak vir ’n ere-akker van 99 grafte. Dis ommuur en hierin word oud-Ossewa-Brandwag-lede wat persele gekoop het, van tyd tot tyd ter aarde bestel.

Bron: Bakkes, C.M. 1989. Hans van Rensburg. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 202–203.