Gideon Scheepers-gedenkteken

Gideon Scheepers-gedenkteken

Twee kilometer buite Graaff-Reinet, langs die Van Rhyneveldspasdam op pad na Murraysburg, staan ’n eensame rotsgroep wat, saam met die ander dolorietgesteentes, almal uit die kontrei, as trotse nagedagtenis van kommandant Gideon Scheepers tot ’n harmoniese geheel saamsmelt. Net soos die rotsgroep is ook Scheepers deel van die geskiedenis van die Afrikaner. Die inskripsie, “…   hy leef in hierdie land nou ewig en altyd!”, uit DJ Opperman se “Gebed om die gebeente” ter ere van dié Boerekryger, is inderdaad geldig.

Die ontwerper van die gedenkteken, meneer ECH Hough, toentertyd ’n dosent aan die Graaff-Reinetse Onderwyskollege, wou met die besondere komposisie van die vier dolorietrotse en die vlekvrye-staal-spits aan die Afrikaner se standvastigheid, sy onoorwinlikheid en sy hoop en geloof in God uitdrukking te gee. Die inskripsie is deur die Cradockse Monumentele Werke gedoen en deur meneer Tiens Germeshuizen, ’n plaaslike begrafnisondernemer, aan die Graaff-Reinetse Afrikaanse Kultuurraad, wat die gedenkteken opgerig het, geskenk. ’n Interessante feit is dat dit meneer Germeshuizen se grootvader, Jan Germeshuizen, was wat in 1908 die kiste verskaf het vir die herbegrafnis van diegene wat gedurende die Anglo-Boereoorlog in Graaff-Reinet gefusilleer is.

Op 27 Mei 1978 is die gedenkteken, skaars 100 m van waar Scheepers gesterf het, deur sy oudste lewende suster, mevrou A Beukes, onthul. Die huldigingsrede is deur die eerste minister, advokaat BJ Vorster, gelewer. Op kenmerkende manier het meneer Vorster hulde aan Gideon Scheepers gebring.

Op 18 Januarie 1902 is Scheepers deur ’n vuurpeloton in Graaff-Reinet gefusilleer, nadat hy deur ’n Britse militêre hof onder voorsitterskap van luitenant-kolonel A Sprot daaraan skuldig bevind is dat hy in die oorlog op verskeie plekke in die Kaapkolonie brand gestig, treine vernietig en nie-blankes tereggestel het. Dit word ernstig betwyfel of ’n Britse militêre hof bevoeg was om kragtens die aanvaarde gebruike van die volkereg, die doodvonnis uit te spreek oor ’n krygsgevangene wat nie ’n Britse onderdaan was nie, terwyl die oorlog nog gewoed het. In sy verdediging het Scheepers erken dat hy skade aangerig het en swart spioene laat teregstel het, maar dat dit op bevel van sy hoër offisiere geskied het.

Scheepers se lakonieke opmerking oor sy doodstraf in sy dagboek luis soos volg: “Het ek geweet dat ek so onskuldig gedood sou word, dan sou ek die vyand meer skade aangerig het.”

Teen dié agtergrond is dit geen wonder nie dat daar so ’n groot verontwaardiging in Suid-Afrika, maar ook in Brittanje en die Verenigde State van Amerika was, wat gepleit het dat Scheepers ooreenkomstig die Geneefse Konfensie behandel moes word. Vir baie Afrikaners was Scheepers se dood niks anders nie as gewettigde moord. Olive Schreiner het ’n gedig geskryf wat ’n verpletterende aanklag teen die Britse beleid was wat onder meer tot Scheepers se dood gelei het. Hoewel Scheepers op die plek van teregstelling begrawe is, is sy lyk daardie selfde nag deur Britse soldate herbegrawe. Blykbaar wou hulle verhinder dat sy kommando dit moet terugkry.

Die gedenkteken herinner vandag nog aan die dapperheid van Gideon Scheepers. Daarvoor alleen sou hy as geld vereer kon word. Hy het egter bo sy tyd uitgestyg en die simbool geword van die Afrikaner se strewe om voortbestaan. Gideon Scheepers was maar ’n jong man van 23 jaar toe hy gesterf het. Daarom is hy ook die verpersoonliking van ewige jeug wat die uitdagings van hul tyd onverskrokke tegemoet kan gaan.

Gideon Jacobus Scheepers is op 4 April 1878 in die distrik Middelburg Transvaal, gebore. Op 16-jarige ouderdom sluit hy hom by die Staatsartillerie van die ZAR aan waar hy as heliograaf opgelei is. In die Anglo-Boereoorlog het hy een van generaal De Wet se baasverkenners geword. In Maart 1901 is Scheepers tot kommandant bevorder, terwyl hy met ’n klein kommandotjie van 20 man sy opdragte in die Kaapkolonie met uitmuntende welslae uitgevoer het. ’n Ernstige maagkwaal het daartoe gelei dat hy – omdat hy mediese hulp nodig gehad het – in die hande van die Britse mag geval het. Ten tye van sy dood was hy nog ongetroud, maar verloof aan Johanna Scheepers – nie ’n familielid nie.

Bron: Hattingh, J.L. 1989. Gideon Scheepers. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 72–73.