Arbeidsgenot, die woning van CJ Langenhoven

Arbeidsgenot, die woning van CJ Langenhoven

Vir CJ Langenhoven, geliefde volkskrywer en digter van “Die Stem van Suid-Afrika, bestaan daar in ons land verskeie bakens.

Cornelis Jakob Langenhoven is op 12 Augustus 1873 op Hoeko naby Ladismith (Kaap) gebore. Hy matrikuleer in 1892 op Riversdal, en na sy studie aan die Victoria-Kollege op Stellenbosch, het hy op Ladismith as prokureur gaan praktiseer. In 1903 het hy hom, eweneens as prokureur, op Oudtshoorn gevestig. Deur private studie het hy die graad LLB verwerf en in 1912 is hy as advokaat tot die Hooggeregshof van die Kaapkolonie toegelaat. Die joernalistiek het hom egter gelok en in 1912 aanvaar hy die redakteurskap van die Oudtshoornse koerant, Het Zuid-Westen.

In sy studentejare was Langenhoven ’n bewonderaar van Engels en het hy verklaar dat dit die toekomstige taal van Suid-Afrika sou wees. Sy “letterkundige bekering” was onverwags, en van toe af word hy ’n vurige kampvegter vir Afrikaans en een van die belangrikste opbouers van ons letterkunde.

Sedert 1914 was hy agtereenvolgens lid van die Kaapse Provinsiale Raad, die Volksraad en die Senaat. In 1914 het die Kaapse Provinsiale Raad, op sy voorstel, besluit om Afrikaans in die laerskool in te voer. Langenhoven het dit as sy lewensroeping beskou om Afrikaans as amptelike taal erken te kry, en onder meer deur sy beywering is Nederlands in artikel 137 van die Unie-Grondwet as tweede amptelike taal naas Engels deur Afrikaans vervang.

Daar is dikwels van Langenhoven gesê dat hy sy volk leer lees het. As een van Suid-Afrika se vrugbaarste en gewildste skrywers, skryf hy onder meer: Ons weg deur die wêreld (1914); Sonde met die bure (1921); Herrie op die ou tremspoor (1925); Skaduwees van Nasaret (1927) en Die pad van Suid-Afrika (1921). Al sou hy ook niks anders geskryf het nie, sou sy naam nogtans verewig gewees het as die digter van ons Volkslied, “Die Stem”. Op 15 Julie 1932 is Langenhoven op Oudtshoorn oorlede.

Langenhoven se bydrae tot die kultuurlewe van die Afrikaner is deur verskeie gemeenskappe oor die lengte en breedte van Suid-Afrika hoog gewaardeer. Geen wonder dus dat talle biblioteke en veral skole na hom genoem is nie. Die meeste gedenktekens van Langenhoven tref mens egter in Oudtshoorn aan, die dorp waar Langenhoven jare lank gewoon en gewerk het.

Hier is een van die belangrikste bakens die Langenhoven-Gedenkbiblioteek en Kultuursentrum, met ’n fries bokant die ingang wat tonele uit Langenhoven se boek, Die Krismiskinders, voorstel. Die tuin van die biblioteek is so beplan dat daar voldoende ruimte is vir beelde van Langenhoven-karakters. Op 11 Augustus 1973, tydens ’n groot Langenhovenfees, is daar dan ook so ’n beeld, naamlik dié van Vader Tyd, onthul. Die beeld, wat 3 m hoog is, is ’n skepping van mejuffrou June te Water. Die inwydingsplegtigheid is deur die toenmalige administrateur van Kaapland, meneer AH Vosloo, waargeneem.

Die graf van Langenhoven is ook op Oudtshoorn. ’n Groot, mooi afgewerkte grafsteen van wit Italiaanse marmer, ongeveer 900 mm hoog, staan nou as huldeblyk van Oudtshoorn vir dié volkskrywer.

Op die grafsteen staan uitgebeitel en met lood gevul, dié woorde;

Cornelis Jakob Langenhoven
Gebore op 12 Augustus 1873
Oorlede 15 Julie 1932

en effens aan die regterkant die versie uit Grey’s Elegy deur hom in Afrikaans vertaal, wat Langenhoven versoek het om dit eendag op sy grafsteen te laat sit:

Soek nie om sy verdienste ná te gaan
sy swakhede te delf uit hierdie grot
(Albei rus daar waar vrees met hoop bestaan)
Die boesem van sy Vader en sy God.

Die bekendste baken van Langenhoven is egter Arbeidsgenot, sy woning op Oudtshoorn. In 1903 het die Langenhoven-egpaar dié woning betrek en die res van hul lewe daar gewoon.

Mevrou Langenhoven het tot met haar dood in 1950 hier aangebly. Kragtens haar testament, het Arbeidsgenot dáárna volksbesit geword. Die Langenhoven-Gedenkfonds is toe onder voorsitterskap van doktor EG Jansen gestig. Uit hierdie fonds is ’n bedrag van £1500 (R3000) beskikbaar gestel vir die aankoop van die huis om dit dan as ’n Langenhoven-museum in te rig. Ook sou die Gedenkfonds verantwoordelik wees vir die onderhoud van Arbeidsgenot. Vandag nog sien die huis en tuin uit soos wat mevrou Langenhoven dit nagelaat het.

Op 21 April 1955 is Arbeidsgenot amptelik vir die publiek oopgestel. Die plegtigheid is deur die toenmalige goewerneur-generaal, doktor EG Jansen waargeneem.

Arbeidsgenot is ’n lewende herinnering aan CJ Langenhoven, die man vir wie dit ’n lewenstaak was om die Afrikaner op sy grootste skat, Afrikaans, te wys.

Bron: NALN. 1989. Arbeidsgenot – die woning van CJ Langenhoven. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 62–63.