Voor die Anglo-Boereoorlog was daar ’n sterk beweging vir eenwording tussen die vier “blanke gebiede”, die kolonies van Kaap en Natal, en die twee Boererepublieke van Transvaal en die Vrystaat. Dit het nie tot stand gekom nie, omdat die republieke jaloers oor hulle vryheid gewaak het. Na die oorlog was almal onder die Britse vlag en teen 1905 het die oud-republieke ook selfregering gekry. Die vier ekonomieë het toenemend geïntegreer en politieke eenwording was amper ’n noodwendigheid. Met ’n Nasionale Konvensie in 1909 is uiteindelik ’n ooreenkoms bereik: ’n Unie met federale kenmerke. Kaapstad sou wetgewende hoofstad wees, Pretoria uitvoerend en Bloemfontein juridies. Pietermaritzburg het ’n groot som geld gekry, want uit vrees vir toestroming van Afrikaners, wou hulle geen deel van die sentrale regering huisves nie.

Die Unie van Suid-Afrika sou voortaan die politieke ruimte wees waarbinne Afrikaners hulleself sou uitleef en mettertyd vereenselwig. Aangesien die Unie uit vier Britse gebiede saamgestel is, is die grondwet daarvan as die South Africa Act deur die Britse regering aangeneem.
Grondwet-van-die-Unie-van-Suid-Afrika-1910

Afrikaners het uit die staanspoor die belangrikste poste in die Unie van Suid-Afrika beklee, tot groot frustrasie van die groot groep Britsgesinde ekstremiste. Tog het dié Afrikaners verskil oor hulle eie plek in die groter prentjie. Versoeningsgesindes, onder leiding van die premier, generaal Louis Botha en sy briljante junior, generaal Jan Smuts, het geglo dat Afrikaners in die groot Britse Ryk moes opgaan; dat dit die manier sou wees om tot hulle reg te kom.  Ander, onder leiding van generaal JBM Hertzog, het aangedring dat Suid-Afrika se belange en Afrikaneridentiteit belangriker was. Teen dié agtergrond het Hertzog in 1912 sy beroemde “Suid-Afrika Eerste” toespraak by De Wildt gehou; ’n byna rewolusionêre uitspraak vir sy tyd.
Hertzog-se-toespraak-by-De-Wildt

Die grondwet het gelyke regte vir Afrikaners en Engelse beloof, maar met die kulturele agterstand van Afrikaners, kon dit nie verwerklik word nie. Nederlands is as die Afrikaner se taal beskou en is deur die staat gewaarborg. Al meer Afrikaners het besef dat Afrikaans eintlik die volkstaal van die Afrikaner was en dat dit net Engels sou bevoordeel om aan Nederlands vas te klou. Die aanvaarding van Afrikaans as amptelike taal het dit vir Afrikaners moontlik gemaak om hulleself uit armoede en ongeleerdheid op te hef. Die opkoms van Afrikaans en bemagtiging van Afrikaners daardeur, is inderdaad een van die twintigste eeu se groot suksesverhale. Een van die groot kampvegters vir Afrikaans was dr DF Malan, oudpredikant wat die politiek betree het en nog diep spore sou trap. Die volgende dokument is ’n toespraak wat hy in 1925, met die verkryging van amptelike status vir Afrikaans, gelewer het.
DF-Malan-oor-Afrikaans-as-amptelike-taal

Met ’n verkiesingsoorwinning in 1924 het generaal Hertzog het Eerste Minister in die plek van generaal Smuts geword. Vir hom was dit uiters belangrik dat die onafhanklikheid wat Suid-Afrika toenemend geniet het, ook formeel erken moes word. In praktyk was die Suid-Afrikaanse parlement nie meer onderhorig aan dié van Brittanje nie. Hulle was eintlik gelykes onder die Britse Kroon. By die jaarlikse Rykskonferensie (waar regeringshoofde van al die selfregerende Britse gebiede beraadslaag het) het hy in 1926 ’n goed begronde betoog gelewer. Dit het daartoe gelei dat die betrokke Britse minister, Lord Balfour, openbaar verklaar het dat Suid-Afrika en ander “dominiums” (Kanada, Australië en Nieu-Seeland) onafhanklik van Engeland staan. Die teks van sy verklaring word hier weergegee omdat dit kort en kragtig is, hoewel die Statuut van Westminster in Brittanje en die Statuswette in Suid-Afrika formele beslag daaraan gegee het.
Balfour-verklaring

Reeds voor die Anglo-Boereoorlog was armoede onder Afrikaners ’n toenemende probleem. Met ekstensiewe boerdery as enigste beroep, ’n weersin om in ander se diens te tree en beperkte grond, was dit net ’n kwessie van tyd voor armoede sou toeslaan.  Goudmyne het uitkoms gebring, maar met beperkte opleiding was Afrikaners net geskik vir die mees swak betaalde poste. Die huiwerende krisis is deur oorlog verhaas en in 1914, met die Rebellie, nog vererger. Die internasionale magnaat en weldoener, Dale Carnegie, het fondse vir ’n omvattende ondersoek van die “arm blanke-probleem” beskikbaar gestel. Na afhandeling daarvan, moes dit prakties aangepak word. Deel van ’n omvattende poging, wat ook die stigting van besighede soos SANLAM en Volkskas (vandag ABSA) ingesluit het, was ’n “Volkskongres,” wat in 1934 in Kimberley gehou is. Die voorsitter daarvan was dominee William Nicol en sy voorwoord tot die verslag van hierdie kongres word onder weergegee.
Voorwoord-tot-verslag-van-die-Volkskongres-oor-Armblankes

’n Merkwaardige verskynsel was die intellektuele diepte wat Afrikaners se kultuurlewe, veral in sekere kringe, bereik het. So ’n groep was die “Dertigers”, ’n groep Kaapse skrywers wat in die 1930′s aktief geraak het. Onder hulle was NP van Wyk Louw die invloedrykste, maar sy broer WEG Louw, Elisabet Eybers, Hettie Smit en ID du Plessis het elk ’n belangrike rol gespeel. Vir hulle was dit belangrik dat Afrikaanse kultuurprodukte vir geen ander taal ter wêreld moes terugstaan nie. ’n Mens moes nie maar tevrede wees omdat iets Afrikaans is nie, dit moes werklik spreek van gehalte en vakmanskap. Np van Wyk Louw het uitgeblink as digter en dramaturg. Sy prosa was oorwegend nadenkende opstelle, waarin hy diepsinnigheid en openheid by mede-Afrikaners bevorder het. Een van die sprekendste daarvan is sy opstel oor die “oop gesprek” wat hier weergegee word.
Die-Oop-gesprek-deur-NP-van-Wyk-Louw

Die Nasionale Party het in 1914 tot stand gekom om Afrikanerbelange te bevorder en Suid-Afrika eerste te stel. Die party het in 1924 aan bewind gekom, maar die ekonomiese krisis vanaf 1929 het hulle gedwing om koalisie met die Suid-Afrikaans Party van Smuts te sluit. ’n Groep onder Dr Malan wou dit nie aanvaar nie en het die republikeinse “Gesuiwerde” Nasionale Party gestig. Die verkiesing van 1948 was die eerste geleentheid om naby ’n oorwinning te kom en die party moes hom oor elke deel van die landsbestuur verantwoord. Mnr Paul Sauer het ’n kommissie gelei om ’n “naturelle”-beleid te formuleer. Rasseskeiding is destyds deur alle partye voorgestaan, maar die NP sou dit meer doelgerig toepas. So is die woord “apartheid” gebore. As mens dit in konteks beskou, het dit gevestigde gedagtes herbevestig. ’n Opsomming daarvan het in die koerant “Die Transvaler” verskyn.
NP-se-rassebeleid-in-1948