230px-Louis_Botha

Generaal Louis Botha was een van die grondleggers van die Unie van Suid-Afrika. Om ’n nuwe staat uit die twee oud-Boererepublieke (met die Uitlanders van Transvaal ingesluit), die oorwegend Afrikaanse Kaapkolonie en oorwegend Engels Natal te smee, was geen maklike taak nie. Botha met sy aangename geaardheid en gewildheid onder Afrikaans- en Engelssprekendes was die aangewese persoon om dit te doen. Dit was egter net die laaste deel van ’n lang loopbaan.

Biografiese gegewens

Louis Botha is op 27 September 1862 in die omgewing van die huidige Greytown in KwaZulu-Natal gebore. Sy ouers was Voortrekkers wat in die grensgebied tussen die nuutgestigte Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR of Transvaal) en Natal gevestig het. Hy was die negende van dertien kinders. Die gesin het hulle kort na sy geboorte in die Vrystaat gevestig.

In 1880 het hy in die geheim aan die Tweede Vryheidsoorlog deelgeneem, hoewel dié oorlog nie die Vrystaat betrek het nie. In 1884 was hy deel van ’n groep Boere wat die deurslag in ’n konflik tussen twee Zoeloe-faksies deelgeneem het. In 1897 het hy volksraadslid vir die kiesafdeling Vryheid in die ZAR geword.

Botha, soos etlike ander Boeregeneraals, het deur die Tweede Vryheidsoorlog ’n roemryke leier geword. Hy het as gewone burger onder generaal Lukas Meyer by die Vryheid-kommando aangesluit. Uit die staanspoor was dit duidelik dat hy ‘n goeie oog vir militêre strategie gehad het en binne weke is hy tot veggeneraal bevorder. Met die dood van kommandant-generaal Piet Joubert in Maart 1900, het Botha hom opgevolg. In dié amp sou hy tot met die Vrede van Vereeniging in 1902 dien.

Na die oorlog was Botha ’n prominente leier in Transvaal en met die instelling van verantwoordelike regering het hy eerste minister geword. In 1910 word hy eerste minister van die nuwe Unie van Suid-Afrika. In die pos speel hy ’n belangrike rol in die Eerste Wêreldoorlog, maar sterf op 27 Augustus 1919, ’n maand voor sy sewe en vyftigste verjaardag. Emosionele uitputting en oorgewig word as redes vir sy vroeë sterfte aangedui.

Openbare lewe

Die geskiedenis neem die eerste maal van Louis Botha op 22-jarige leeftyd kennis. Die ZAR het sterk gehoop om sy grondgebied ooswaarts tot by die Indiese oseaan uit te brei, maar nie die Zoeloes of die Britse owerheid van Natal was daaroor geesdriftig nie. In 1884 het Botha gepoog om hiertoe mee te help. Die Zoeloekoning Dinuzulu is deur ’n ander hoofman, Zibhebhu, uitgedaag. Botha was deel van ’n groep Boere wat onder die latere generaal Lukas Meyer vir Dinuzulu gehelp het. Volgens ooreenkoms het hulle, toe die veldtog geslaag het, ’n stuk grond ontvang. Daar het hulle die “Nieuwe Republiek” gestig, wat later as die distrik Vryheid by die ZAR ingelyf is. Die ZAR sou egter nooit daarin slaag om sy grond tot by die see uit te brei nie.

Botha het die geleentheid gebruik om in Vryheid te gaan boer. Naas Lukas Meyer, sy senior, was hy die sterkste leiersfiguur. In 1897 word hy deur hierdie distrik as hulle verteenwoordiger in die ZAR se volksraad verkies. Hy was deel van ’n groep in die volksraad wat die “progressiewes” genoem is. Hulle het van president Paul Kruger se benadering tot die sogenaamde Uitlanders verskil. Waar Kruger politieke regte so ver moontlik van Uitlanders wou weerhou, het die progressiewes, onder Piet Joubert, geglo dat dit Brittanje ’n voorwendsel gee om vyandig teenoor die ZAR op te tree. Hulle was dus vir ’n veel meer buigsame beleid. Botha het bekend geword vir sy sterk teenstand teen die stuur van ’n ultimatum aan Brittanje. Hy het Pretoria nogtans aan die begin van Oktober verlaat, om hom vir krygsdiens aan die suidoosgrens van die ZAR aan te meld. Hierin het hy met generaal Koos de la Rey saamgestem.

Aan die begin van die Tweede Vryheidsoorlog was die Boere se strategie om hulle grense te verdedig. Grensdorpe met baie Britse soldate is beleër, sodat hulle nie aan die oorlog kon deelneem nie. Daar is ook gepoog om versterkings wat van die hawens af op pad was, te verhoed om dié dorpe te ontset. Aan die Oosfront is Ladysmith in Noord-Natal beset. Dit is in hierdie omgewing waar Botha sy vernuf in kleiner skermutselings bewys het en binne weke tot veggeneraal bevorder is. Kort daarna is hy weer bevorder om bevel oor al die oostelike magte van generaal Lukas Meyer oor te neem.

Botha het die omgewing van die Oosfront baie goed geken. Sy oog vir verdedigende stellings was onverbeterlik. Hy het dit gebruik om vernietigende oorwinnings oor die Britse magte by Colenso en Spioenkop behaal. Die opperbevel wou egter nie toelaat dat hierdie oorwinnings met aanvalle opgevolg word nie en in Januarie 1900 moes die Boere net voor die Britse oormag ontruim.

Die eerste maande van die oorlog was vir die Boere ’n noodsaaklike tyd van herorganisering. Van die aanvoerders was al ou manne wat nie die energie vir ’n uitgerekte oorlog gehad het nie. Hulle het ook nie duidelike aanvalsdoelwitte gehad nie en geglo dat die oorlog deur hardnekkige weerstand teen Britse invalle beëindig kan word. Daar was ook nie ’n militêre kultuur wat van elke manskap gehoorsaamheid vereis het nie. Dit het sekere voordele ingehou, maar Botha was geskok om te sien hoeveel burgers hulle aan drankmisbruik en swak gedrag skuldig gemaak het. Hy het besef dat die Boere nooit ’n oorlog op die manier kon wen nie.

Louis Botha was een van die jonger geslag aanvoerders wat ’n nuwe aanslag gevolg het. Hy was so doeltreffend, dat hy met kommandant-generaal Piet Joubert se dood in Maart 1900, in dié pos aangestel is. Van toe af kon hy doeltreffende offisiere reg oor die republiek bevorder en die ander onthef. Die geleentheid wat die eerste maande van die oorlog vir hierdie soort aanvoerders gebied het, was egter verby. Hulle sou voortaan guerilla-tegnieke gebruik. Botha was suksesvol daarmee, maar het ook geslaag om enkele veldslae later in die oorlog te wen, byvoorbeeld Dalmanutha (Berg-en-dal) en Bakenlaagte. Hy het selfs daarin geslaag om, ten spyte van die groot afstande en oormag van die vyand, kontak met ander aanvoerders te behou.

Deur die loop van 1900 het die Engelse owerhede deur middel van Botha se Engelssprekende vrou, Annie, vredesonderhandelings aangeknoop. Volgens Botha was dit ’n hopelose stryd en hy was bereid om die republiek se onafhanklikheid vir vrede op te offer. Toe hy sy mede-offisiere geraadpleeg het, was hulle egter woedend. Veral die Vrystaters was ontevrede, omdat hulle maklik uit die oorlog kon gebly het; die dispuut was tussen Brittanje en die ZAR. Nou dat hulle alles op die altaar geplaas het, het hulle geredeneer, wou die Transvalers dit sommer gewonne gee. Die onderhandelings het dus doodgeloop.

Toe die Boere weer in 1902 byeengekom het om Britse vredesvoorwaardes te bespreek, was Botha nog ’n keer die kampvegter vir vrede. Hy het daarvoor gepleit dat die Boere moes vrede maak terwyl Brittanje nog gunstige voorwaardes gestel het en voor al die vrouens en kinders in konsentrasiekampe omkom. Uiteindelik het hy die oorhand gekry en vrede is op 31 Mei gesluit.

Na die oorlog het Botha ’n belangrike rol gespeel om die Transvaal en sy burgers weer op hulle voete te help. ’n Sterk bondgenootskap tussen homself, generaals Christiaan Beyers, Koos de la Rey, Jan Smuts en Christiaan de Wet het ontwikkel, om fondse vir die Boere in te samel en verantwoordelike regering vir die oud-republieke te beding. Dit het geslaag toe albei kolonies in 1907 hulle eie regerings kon kies. Vir dié doel is die Het Volk party in Transvaal onder Botha se leiding verkies. Hulle het die verkiesing gewen en Botha was eerste minister van Transvaal.

In hierdie tyd het verwydering tussen Botha en Smuts aan die een kant, en die ander generaals aan die ander kant ingetree. Botha en Smuts was beïndruk met die Britse ryk, gevlei oor die erkenning wat hulle geniet het en dankbaar oor die spoedige selfregering. Die ander generaals, saam met die jong Vrystater, generaal JBM Hertzog, het gevoel dat hulle dalk hulle eie volk se belange kon verwaarloos. Op hierdie stadium was daar egter nog nie ’n breuk tussen hulle nie.

Teen 1909 het pogings om al vier selfregerende kolonies (Transvaal, Kaapkolonie, Natal en die Oranjerivierkolonie in ’n unie te laat saamsmelt, momentum opgebou. Dit het in 1910 werklikheid geword, maar die eerste verkiesing sou eers in 1911 gehou word. Die Britse goewerneur-generaal moes dus sonder ’n verkiesing ’n eerste minister aanwys om ’n regering saam te stel. Daar is sterk gewik en geweeg tussen Botha, en die eerste minister van die Kaap, John X Merriman.

Die Britse regering was nie ten gunste van Merriman nie, omdat hy ’n sterk teenstander van die Britse oorlog teen die Boererepublieke was. Hulle het gevoel dat Botha meer vatbaar vir hulle planne sou wees en hy is uiteindelik aangestel. In 1911 het sy party (eintlik ’n samestelling van die Afrikanerpartye in al vier kolonies) die verkiesing gewen. Botha het egter die setel wat hy self beveg het, verloor. Hy is toe in ’n ander een verkies.

As eerste minister het Botha ’n beleid van “konsiliasie” tussen Engelse en Afrikaners gevolg. Dit het beteken dat hy Nederlands as taal in onderwys en die staatsdiens opgeoffer het. Dit het tot soveel spanning gelei, dat Hertzog in 1914 van Botha se Suid-Afrikaanse Party (SAP) weggebreek het en die Nasionale Party (NP) gestig het.

In 1914 het nog ’n krisis Botha en sy regering getref. Oorlog het tussen Brittanje en Duitsland uitgebreek (die Eerste Wêreldoorlog is dit later genoem). Brittanje het van Suid-Afrika verwag om deel te neem en gevra dat hulle Duitswes-Afrika (vandag Namibië) moes verower. Botha, gesteun deur Smuts, wou graag aan die oproep gehoor gee, maar invloedryke Afrikaners soos De Wet, De la Rey en Beyers was daarteen gekant. Binne enkele weke was daar ’n gewapende protes, of rebellie, wat Botha moes onderdruk voor hy Duitswes-Afrika kon aanval. Hy was self die aanvoerder toe sy goed toegeruste mag generaal De Wet se arm en swak toegeruste rebellemag oorwin het. De Wet is later in hegtenis geneem. De la Rey het gesterf toe hy vir die polisie weggejaag het en hulle hom met ’n lid van ’n berugte rowerbende verwar het. Beyers het later in die Vaalrivier verdrink, toe hy van die regeringsmagte probeer ontvlug het. Nog ’n rebelleleier, Jopie Fourie, het nie uit die weermag bedank nie. Toe hy in hegtenis geneem is, is hy tereggestel.

Na die Rebellie onderdruk is, het Botha die Duitsers in Duitswes-Afrika maklik oorwin. Hy is na Europa waar hy verder aan die militêre bedrywighede deelgeneem het. Hy was ook deel van die vredesonderhandelings by Versailles. Sy mening was dat die voorwaardes veels te straf op Duitsland was, maar Geallieerdes was so wraaklustig, dat Botha dit moes aanvaar.

Botha se lang afwesigheid uit die land, het nie sy party se gewildheid goed gedoen nie. Tog is hy met sy terugkeer as ’n held verwelkom. Slegs enkele weke later, op 27 Augustus 1919, het hy gesterf. Dit is onmoontlik om te sê wat sy bydrae sou wees as hy langer geleef het.

Besondere bydrae

Louis Botha het ’n buitengewoon aangename persoonlikheid gehad. Daarmee het hy sterk lojaliteit onder sy burgers, maar ook medegeneraals, opgebou. Dit, tesame met sy eerlikheid, het ook die Britse owerhede beïndruk. Daarom het hulle besluit om hom met die heropbou van Transvaal te vertrou, liewer as die sogenaamde Joiners, Boere wat aan Britse kant geveg het.

Botha was die regte mens op die Unie van Suid-Afrika saam te snoer. Dit was ’n eenheid van mense en gebiede met uiteenlopende belange en kon maklik uitmekaar spat. Botha se bydrae wat die langste gehou het, is die suksesvolle loodsing van hierdie Unie.

Afrikaner nasionaliste het gewoonlik nie ’n baie gunstige oordeel oor Botha nie. Dit is inderdaad waar dat hy bereid was om sy volk se kulturele belange ondergeskik aan die Britse ryk te stel. Die manier waarop ’n mens sy bydrae beoordeel, sal grootliks afhang van hoe belangrik die behoud en herwinning van ’n Afrikaner identiteit geag word.

Slot

Louis Botha was een van die eerste Afrikaners wat wêreldwyd bekend geword het en met groot agting bejeën is. Sy grootste erfenis is die Suid-Afrikaanse staat, iets wat byna honderd jaar na sy dood nog steeds bestaan. Die vraag is, soos in Botha se tyd, of dié staat genoeg ruimte vir al sy verskillende kultuurgroepe maak.