Eugene_Marais

deur Dawie du Plessis

Eugène Nielen Marais is op 9 Januarie 1871 in die distrik Pretoria as jongste van twaalf kinders gebore. Na ’n ietwat skamele onderwys in sy tuisdorp by rondgaande leermeesters, word hy ná die wanorde van die Eerste Vryheidsoorlog na Boshof in die Vrystaat gestuur, waar hy ’n aantal jaar skoolgaan. Op die ouderdom van dertien vertrek hy na die Paarl, waar hy in Engels skoolgaan. Die Bolandse uitspraak val hom op, en hy ontwikkel spoedig ’n hekel daaraan. Ook die verskynsel dat Afrikaners uit hoogmoed Engels in die huis praat, en nie Hollandse kerkdienste bywoon nie, verafsku hy. Moontlik hierdeur aangespoor skryf hy in hierdie tyd sy patriotiese gedigte “South Africa” en “Majuba”, wat in die Paarl District Advertiser verskyn. Die jong Marais openbaar hom vroeg as ’n besonder intelligente seun, reeds ietwat eenkant, maar ook met oorredingsvermoë en leierseienskappe. Sy skoolwerk was ’n toonbeeld van oorspronklikheid, veral wat taalvakke betref het, en hy behaal sy matriek op die vroeë ouderdom van sestien.

Terug in Pretoria begin Marais werk as klerk by ’n prokureursfirma, maar hy lewer ook gereeld joernalistieke bydraes vir Afrikaanse (oftewel Nederlandstalige!) sowel as Engelse koerante. Op negentien reeds word hy redakteur van Land & Volk, wat hy ook later koop. Dit was tydens hierdie jare van te veel werk, senuspanning, geskille as verslaggewer in die Volksraad en ’n  magdom lasteraksies dat Marais begin ly het aan slaaploosheid en neuritis. Gedurende hierdie tyd probeer hy sy kwale aanspreek op ’n wyse wat vir die res van sy lewe by hom sou spook – die gebruik van morfien. In welke mate Marais reeds die middel gebruik (of misbruik) het is nie seker nie, maar dat hy vroeg in sy twintigerjare reeds in ’n groot mate afhanklik daarvan was, is ’n voldonge feit. Die jong verslaggewer en redakteur het etlike jare voor die Tweede Vryheidsoorlog die saak van Afrikaans as skryftaal heftig in sy koerant bepleit.

Sy ontmoeting van en huwelik met Aletta (Lettie) Beyers bring ’n groot verandering in hom mee, deurdat morfien minder van ’n houvas op hom het. Hierdie verbetering word egter kortgeknip toe sy eggenote sterf met die geboorte van hul eersteling in 1895. In sy droefheid en smart wend Marais hom weereens tot die middel. Na hy ’n interessante rol as tolk tussen die Boere en die gevange Engelse offisiere tydens die Jameson Inval speel, vertrek Marais in 1896 na Londen om Regte te studeer by die Inner Temple. Die versorging van sy jong seun en naamgenoot laat hy aan familie oor. Sy belangstelling in velerlei gebiede (veral die medisyne en sielkunde, wat hy informeel op die vasteland gaan studeer) lei daartoe dat hy eers na vyf jaar sy studie voltooi.

Marais se uitgebreide en uiteenlopende belangstellings, wat al so duidelik tydens sy kinderjare na vore getree het, is ook te sien tydens sy verblyf in Europa. Hier hou hy hom besig met medisyne, sielkunde, letterkunde, die bonatuurlike, dieregedrag en –sielkunde, die ontsyfering van hiërogliewe en ook hipnose. Ná afloop van sy studie probeer hy in 1902 via Portugees Oos-Afrika wapens en ammunisie vir sy volksgenote in die Transvaal smokkel, maar die vrede word gesluit voor hy geleentheid kry om sy hulp te verleen. Na die oorlog word hy toegelaat tot die balie, en gaan hy voort met sy werk by Land en Volk. Dit is in 1905 wat sy gedig “Winternag” in koerante sou verskyn, ’n gedig wat met mening deur menige taalstryder gebruik is as bewys dat Afrikaans as skryftaal inderdaad geskik is vir die sg. hoër funksies, insluitende die letterkunde.

Hy verhuis in 1907 na die ongerepte Waterberg, waar hy die gedrag van bobbejane, termiete en slange intensief bestudeer; iets wat onwetend, deur hom en sy volk, van hom ’n wêreldleier op die gebied sou maak. Hy doen ook navorsing wat betref hipnose, slanggif, diere se geslagspatrone en oorerflike geheue. Hy begin ook ’n perdetelery. Tydens sy verblyf in die Waterberge word hy aangestel as myndokter, maar hy word algemeen in die distrik bekend as “Die Wonderdokter” – iemand wat mense genees nie slegs deur konvensionele geneeskunde nie, maar ook deur hulle te “mesmerááis” (onder hipnose te plaas). Later sou hy ook vrederegter word. Toe die nuus van die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog en die gepaardgaande Rebellie die Waterberge bereik, deel die meeste Boere in dié geweste ook die hoop op die herstel van die Republieke – Eugène Marais inkluis. As vrederegter kan hy egter nie op kommando mee nie, maar hy gee sy spogperd Twyfelaar aan ’n vriend. In 1916 begin hy skryf aan sy beplande magnum opus, met die titel The Soul of the Ape.

Marais keer terug na Pretoria in 1917 waar hy as juris werk. Uit sy pen verskyn vroeg in die twintigerjare verskeie artikels in Die Brandwag en dié se byblad, Die Banier, sowel as in Die Boerevrou. Onderwerpe sluit in hipnose; die woestynvlug van die Herero’s; ’n “voëlparadys” in die Waterberge; die reënkoningin Modjaje; die heldedade van Racheltjie de Beer en Annie Lotrie; slanggif; oud-Egipte; sy bootreis aan die monde van die Save; en die sielkunde van die mens sowel as die primate. Ook gedigte, waaronder die bekende “Skoppensboer” verskyn in hierdie tyd. In Die Boerevrou publiseer hy ook sy merkwaardige Dwaalstories, met hul beroemde aanvangsgedigte.

Na ’n kort verblyf op Erasmus (Bronkhorstspruit), woon hy van 1922 tot 1927 op Heidelberg, waar hy heg bevriend raak met dokter AG Visser, en laasgenoemde se digterstalent ontdek en hom aanmoedig om te skryf. In sy laaste jare skryf hy gaandeweg minder poësie, en hy wend hom tot die skryf van romans, kortverhale, uitsonderlike natuurwetenskaplike werke, en selfs drama. Marais se vermoë om te skryf het maar selde na vore getree, aangesien hy meeste van die tyd in ’n staat van depressie verkeer, aangehelp deur sy morfinisme. Opflikkerings was daar wel, en in hierdie kort tydperke het hy sy werk gelewer. Onvoltooide gedeeltes is met aanhoudende motivering en ondersteuning deur naastes tot voleinding probeer bring, maar dit was nie altyd suksesvol nie. Sy studie oor rysmiere word in ’n vyftiendelige artikelreeks genaamd Die Siel van die Mier in die Huisgenoot gepubliseer. Op merkwaardige wyse word hierdie werk deur die wêreldberoemde Belgiese Nobelprys-wenner Maurice Maeterlinck geplagieer. As Vlaming sou hy Afrikaans maklik kon verstaan. Marais se werk doen hy voor as sy eie – hy wat nog nooit in sy lewe ’n termiet gesien het nie!

Marais maak in 1936 ’n einde aan sy lewe wanneer hy homself met ’n haelgeweer op sy vriend Gustav Preller se plaas skiet. Lydend aan onttrekkingsimptome, sonder die vooruitsig van sy middel in die hande te kry, leen hy die geweer onder die voorwendsel “om ’n slang te skiet” wat klaarblyklik in die hoenderhok boer. Marais is begrawe in die Heldeakker in Pretoria, en sy grafskrif lui eenvoudig, maar veelseggend:

“Digter, skrywer, natuurkenner.”

Verdere leesstof:

•    Cloete, T.T.  1963. Eugène N. Marais. Kaapstad: Nasou.
•    D’Assonville, V.E. 2008. Eugène Marais en die Waterberge. Faerie Glen: Marnix.
•    Du Randt, W.S.H. 1969. Eugène Marais as prosaïs. Kaapstad: Nasou.
•  Du Toit, F.G.M. 1940. Eugène N. Marais: sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Amsterdam: Swets & Zeitlinger.
•   Marais, J.L. & Marais, R. 1998. Eugène Marais. (In Van Coller, H.P. red. Perspektief en profiel – ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Pretoria: Van Schaik. pp. 657-671).
•    Mieny, C.J. 1988. Leipoldt en Marais: onwaarskynlike vriende. Pretoria: Joan Lötter Publikasies.
•    Nienaber, P.J. 1951. Eugène Marais: die groot eensame. Johannesburg: Afrikaanse Pers-boekhandel.
•    Nienaber-Luitingh, M. 1962. Eugène Marais. Kaapstad: Human & Rousseau.
•    Rousseau, L. 2000. Die dowwe spoor van Eugène Marais. Pretoria: Protea.
•    Rousseau, L. 2000. Eugène Marais and the Darwin Syndrome. 2de uitg. Pretoria: Protea.
•    Rousseau, L. 2005. Die groot verlange: die verhaal van Eugène Marais. 4e uitg. Pretoria: Protea.