Generaal Christiaan Beyers is ’n Afrikanerheld wie se nagedagtenis mettertyd vervaag het. Tog was hy een van die mees prominente aanvoerders tydens die Tweede Vryheidsoorlog en ’n sterk leier in die tyd wat daarop gevolg het. Na uniewording het hy, as eerste kommandant-generaal, die grondslag vir die Suid-Afrikaanse Weermag gelê.

Beyers het ’n diep indruk op sy tydgenote gemaak. Sy tragiese dood tydens die Rebellie van 1914 het gemoedere hoog laat loop. Verskeie mense wat naby aan hom was, het hulle kinders na hom vernoem. Beyers is as voornaam gebruik en die meisiesnaam Beyra bestaan steeds in sekere families. Die bekendste draer van Beyers se naam was die latere geestelike leier, dr. Beyers Naudé. Ook ’n skrywer van jeug- en spanningsverhale, C.F. Beyers Boshoff, is na hom vernoem. In Pretoria dra ’n skool, in Boksburg ’n voorstad en in Pretoria-Noord ’n straat sy naam.

Dit is eienaardig dat iemand wat so hoog geag is, byna in vergetelheid kon raak. Selfs in 1941 skryf sy biograaf, dr. G.D. Scholtz, dat hy tot dié studie beweeg is deur sy gebrek aan kennis van Beyers. Hierdie profiel wil bydra om generaal Beyers se plek in die algemene geheue te herstel.

Biografiese gegewens

Christiaan Frederik Beyers is in 1869 naby Stellenbosch gebore. Hy was deel van ’n prominente en welvarende familie van Bolandse wynboere. In sy tienerjare tref ’n finansiële ramp hulle gesin toe sy pa geld belê in ’n bank wat weke later moes sluit. Kort na dié terugslag sterf sy pa en die boerdery moes sonder hom voortgaan. Hoewel hy hard op die plaas moes werk, kon hy skool voltooi en aan die Victoria Kollege (later die Universiteit van Stellenbosch) studeer.

In 1889 begin die volgende fase in Beyers se lewe wanneer hy op soek na werk Pretoria toe vertrek. As Kaapse burger kon hy geen vaste betrekking by die staat kry nie, hoewel sy kwalifikasies sterk in aanvraag was. Agterdog dat Kapenaars te Britsgesind was, was algemeen onder dele van die Republikeinse bevolking.

Mettertyd het Beyers as prokureur gekwalifiseer en in 1894 ’n praktyk in Boksburg geopen. In hierdie tyd is hy met Mathilde Konig getroud. Sy was ’n gesofistikeerde vrou wat, naas Afrikaans en Engels, ook vlot in Duits en Frans was. Hulle huwelik was kinderloos, maar saam het hulle ’n bedrywige sosiale lewe gehad. Beide was diep godsdienstig.

In 1896 was Beyers ’n vrywilliger teen die Jameson-inval. Daarmee het hy gekwalifiseer om ’n burger van die republiek te word. Daarom dat hy ook opgeroep is om, met oorlogverklaring teen Brittanje in 1899, hom vir militêre diens aan te meld. Teen September 1900 is hy in die tweede hoogste rang in die weermag van die ZAR aangestel, as assistent-kommandant-generaal vir die noordelike distrikte (Waterberg en Zoutpansberg).

Na die oorlog het hy weer ’n prokureurspraktyk geopen, maar die keer in Pretoria. Toe die ZAR verantwoordelike regering ontvang, is hy as lid vir Waterberg tot die Transvaalse parlement verkies. Hy is ook tot Speaker verkies. Met Uniewording is hy weer tot die parlement verkies, maar die keer vir die kiesafdeling Pretoria-Suid.

In 1912 het Suid-Afrika sy eie verdedigingsmag tot stand gebring. Beyers is aangewys as die nuwe kommandant-generaal. Twee jaar later het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek en Beyers het nie kans gesien om aan die Britse kant daaraan deel te neem nie. Die gebeure daarna, wat tot sy dood op 7 Desember 1914 in die Vaalrivier by Makwassie gelei het, word in ’n volgende afdeling bespreek.

Openbare lewe

Christiaan Beyers het aanvanklik nie tekens getoon van die soort openbare lewe waarvoor hy bekend geword het nie. Hy het met oorgawe aan die studentelewe deelgeneem en was deel van die eerste rugbyspan. Hy het ook by ’n vereniging wat basiese militêre opleiding gebied het, aangesluit. Met sy buitengewone krag, fors liggaamsbou en gesellige persoonlikheid, was hy ’n suksesvolle student, maar nie buitengewoon skrander nie. In die ZAR het hy ook rugby gespeel en vir Transvaal in Curriebeker-wedstryde gespeel.

Reeds as jongman was Beyers sterk godsdienstig. Dit het mettertyd sterker geword, sodat elke daad later in sy lewe godsdienstig gemotiveer was.

In die ZAR het Beyers nie aan politiek deelgeneem nie, want hy was nie ’n burger nie. Tog is dit bekend dat hy president Kruger se burgerskapwetgewing teengestaan het. Sy optrede teen die Jameson-inval het sy lojaliteit bewys en hy het burgerskap gekry. Intussen het hy ’n welvarende praktyk opgebou.

As Beyers vroeg in die oorlog gesterf het, sou die nageslag nie juis van hom geweet het nie. Hy was ’n gewone burger wat aan al die belangrike veldslae aan die Natalse front deelgeneem het. Hy was hewig ontsteld omdat ’n noemenswaardige aantal burgers hulle wangedra het. Winkels en huise in vyandelike gebied is geplunder en drank is misbruik. Volgens sy oordeel was daar ’n algemene gebrek aan dissipline. Offisiere is deur die burgers verkies en na Beyers se mening het dit nie bekwaamheid in die hand gewerk nie. ’n Aantal burgers wat so gevoel het, het hulle eie veldkornetskap gevorm. Na ’n tyd is Beyers as assistent-veldkornet daarvan aangestel – die eerste rang bo die van gewone burger.

Tydens die gevegte by Dalmanutha (naby Belfast) en Donkerhoek of Diamond Hill (naby Pretoria) het Beyers bevel oor klein groepies burgers gehad en merkwaardige sukses behaal. Dit het onder die nuwe kommandant-generaal, Louis Botha, se aandag gekom.

Na die val van Pretoria (Junie 1900) is ’n krygsraad gehou. Beyers het dit as plaasvervanger bygewoon. Hy het sy eie junioriteit geïgnoreer en aktief aan die bespreking deelgeneem. Hy het name en spesifieke gebeure van onbekwaamheid opgenoem en as onverskoonbaar bestempel.

In September 1900 het Botha begin om die hele ZAR militêr te herorganiseer. Hy het die stelsel van verkose offisiere met aangesteldes vervang en gepoog om dissipline en toewyding in die gedemoraliseerde burgerkorps te herstel. As deel daarvan is Beyers tot die tweede hoogste rang (assistent-kommandant-generaal) bevorder en na die noordelike distrikte van Waterberg en Zoutpansberg gestuur.

Weerstand teen die aanstelling van ’n bloedjong man van buite die distrikte, is spoedig uitgewis toe Beyers sy vasberadenheid, dapperheid en militêre vernuf getoon het. Hy het die noordelike distrikte, wat byna volledig uit die oorlog onttrek het, weer gemobiliseer. ’n Groot Britse mag moes ontplooi word om dié uitgestrekte gebied te verower en te behou. Die Britse oormag is nooit met rus gelaat nie, hoewel perdesiekte (’n virussiekte wat grootskaalse vrektes onder perde in die Bosveld veroorsaak het) die meeste burgers tot voetsoldate verander het. By Nooitgedacht (noordwes van Krugersdorp) het die magte onder Beyers en De la Rey ’n Engelse mag aangeval en ernstige verliese toegedien. Dit was op 13 Desember 1900, op ’n tydstip toe oorlogsmoegheid baie Boere verlam het. Dit het die moraal versterk en hulle in staat gestel om nog bykans agtien maande met die vryheidstryd voort te gaan.

Van April tot Mei 1902 het Boere-offisiere by Vereeniging byeengekom om vredesvoorwaardes te bespreek. Beyers was die buitengewoon bekwame voorsitter daarvan. Op ’n laat stadium het hy self besluit om vrede te steun, na aanleiding van ’n teks wat hy tydens Bybelstudie gelees het. Van toe af het hy geglo dat God die republieke op sy tyd en sonder geweld sou herstel.

Na afloop van die oorlog het Beyers ’n praktyk in Pretoria geopen. Hy het hom vir Christelik-Nasionale Onderwys en teen benadeling van Afrikaners en hulle taal beywer. Dit het hom soms in botsing met Botha en Smuts gebring, wat volgens hom te Engelsgesind was. Toe hy tot die Transvaalse parlement verkies is, het hy Speaker (voorsitter) geword. Dit het sy teenstand teen Botha se beleidsrigtings geneutraliseer. Tog was hy ’n uiters bekwame Speaker.

Na uniewording in 1910 was Beyers en James Molteno (oud-Speaker van die Kaapse parlement) kandidate vir Speaker van die Unie-parlement. Dit is opvallend dat Beyers sterk steun onder Transvaalse Engelssprekendes gehad het. Selfs die Sunday Times het verklaar dat Beyers die beter kandidaat sou wees. Kapenaars het egter aangevoer dat die eerste minister (Botha) en Speaker nie albei Transvalers kon wees nie. Teleurgesteld het Beyers hom onttrek.

Die besluit om in 1912 ’n verdedigingsmag tot stand te bring, is nie sonder teenstand geneem nie. Britsgesindes het geglo dat Suid-Afrika deel van die Britse Ryk was en dit daarom nie nodig sou hê nie. Saam met Botha en Smuts, het Beyers hom sterk daarvoor beywer. Toe die besluit geneem is, is Beyers as aanvoerder aangestel.

Met beperkte fondse kon die Unie nie ’n voltydse weermag vestig nie. ’n Burgermag sou dus deur ’n permanente offisierskorps gelei word. Beyers moes doeltreffend werk en het Brittanje, Frankryk en Duitsland besoek om die beste praktyke te bestudeer. Hy het ’n deeglike grondslag gelê en selfs die Suid-Afrikaanse Lugmag (aanvanklik die Lugkorps) is deur sy inisiatief gestig.

Beyers het van Botha en Smuts verskil, omdat hulle die Unie Verdedigingsmag in diens van die Britse Ryk wou stel, terwyl dit vir Beyers ’n teken van selfstandigheid was. Die verskil het met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 ernstig geraak. Beyers het nie kans gesien om die opdrag uit te voer om Duitswes-Afrika (vandag Namibië) aan te val nie en gevolglik bedank.

Na sy bedanking was Beyers in ’n benarde situasie. ’n Rebellie het ontwikkel, maar daar was min ooreenstemming oor doel en metodes. Offisiere binne die verdedigingsmag, soos Maritz en Kemp, wou die mag gebruik om die republieke te herstel. Beyers, as regsgeleerde, het besef dat dit hoogverraad (met die dood strafbaar) sou wees. Dit is presies wat met Jopie Fourie, ’n junior offisier, wat gerebelleer het sonder om te bedank, gebeur het. Generaal de Wet wou gewone burgers oproep om die republieke te herstel. Generaal de la Rey het nog oorweeg wat om te doen, toe hy onder ’n misverstand doodgeskiet is.

Beyers het geglo dat die regering met protes beweeg kon word om die aanval te kanselleer. Hy het gevrees dat die regering genadeloos teen protesgangers sou optree en daarom op gewapende protes aangedring. Die regering het nie tussen Beyers se gewapende protes en rebellie onderskei nie en genadeloos opgetree. Beyers het nie kans gesien om die wapen teen mede-Afrikaners op te neem nie en daarom verskeie gunstige stellings ontruim. Sy opdrag was dat manskappe net moes skiet om die vlug te dek, maar nie om dood te skiet nie. Uiteindelik was die “protes” vir Beyers se kommando een lang vlug.

Teen Desember 1914 was Beyers en sy manne teen die Vaalrivier in vloed vasgekeer. Hy het besluit om met enkele volgelinge deur te swem en na die bosveld in noordwes-Transvaal te ontvlug. Dit was reeds bekend dat slegs rebelle-offisiere en geen gewone burgers nie, vervolg sou word. Hy het naby Makwassie deur die rivier geswem, maar kort voor hy deur was, onder die water verdwyn.

Beyers se dood het tot baie spekulasie gelei. Mede-vegters kon eenvoudig nie glo dat ’n sterk man, boonop ’n goeie swemmer, sou verdrink nie. Die bewering is dikwels gemaak dat hy in die water doodgeskiet is. Tog is verdrinking medies bevestig. Dit kan aan die swaar uniform wat in die water nog swaarder geword het, toegeskryf word. ’n Mens moet ook onthou dat hy teen daardie tyd ’n vermoeiende vlug van etlike weke agter die rug gehad het. Dit is moontlik dat hy na ’n meer passiewe leefwyse op 40 nie meer so fiks as tydens die oorlog was nie. Daar is geen bewyse dat hy geskiet is nie; iets wat moeilik sou wees om te versteek.

Besondere bydrae

Beyers se besondere bydrae het in sy toewyding aan God en die saak waarin hy geglo het, gelê. Vir hom was dissipline en goeie gedrag ononderhandelbaar. Tydens die Tweede Vryheidsoorlog het hy ’n belangrik rol in die herstel van Boere se oorlogspoging gespeel. Na die oorlog het sy integriteit en bekwaamheid in verskeie verbande ’n deurslaggewende rol gespeel. Deur sy dood is die Afrikanervolk van iemand beroof wie se grootste bydrae dalk nog voorgelê het.

Beyers het ook die groeiende eenwording tussen Afrikaners regoor Suid-Afrika verteenwoordig. Gevoelens dat Kapenaars minder geneig sou wees om vir vryheid op te offer, is deur mense soos hy weerlê.

Slot

Die uitdrukking sê dat niemand onmisbaar is nie. Die tragiese verhaal van Christiaan Beyers leer dat die dood van ’n talentvolle persoon nietemin ’n reuse verlies kan wees.