Op 11 Junie 1906 is een van Afrikaans se grootste digters, skrywers en denkers gebore. Nicolaas Petrus van Wyk Louw se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde was fenomenaal. Sy kinderjare op Sutherland in die Karoo het ’n groot invloed op sy skryfwerk gehad. Dit slaan telkens deur in sy digkuns, veral in die afdeling, ‘Klipwerk’, in Nuwe verse (1954) en hy verwys telkens na hierdie invloed in sy bundel, Rondom eie werk (1970).

Louw het aanvanklik net in Engels en Nederlands onderrig ontvang. Ook in die South African College in Kaapstad waar hy skoolgegaan het, was die taal en die gees Engels. In 1923 behaal hy ’n MA-graad in Duits aan die Universiteit van Kaapstad en in 1929 word hy aangestel as dosent in Opvoedkunde aan dieselfde universiteit. In 1958 word hy hoof van die Departement Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand, ’n pos wat hy tot sy dood beklee.

Die dertigerjare was vir hom ’n tyd van intellektuele soeke in godsdiens, politiek en filosofie. Hoewel sy belangrikste literêre bydrae op die terrein van poësie lê, het hy talle rigtinggewende opstelle geskryf, soos in die bundels Lojale verse en Berigte te velde (albei 1939) en later Maskers van die erns en Liberale nasionalisme (1958). Hy het ook in koerantartikels en onderhoude rigtinggewende gedagtes uitgespreek byvoorbeeld oor sensuur.

In die dertigerjare publiseer hy die digbundel, Die halwe kring en die hoorspel, Die dieper reg, waarin die digter in dramatiese vorm besin oor die bestaansreg van ’n volk. Daarna verskyn twee hoogtepunte: die modern epos, Raka (1941) en die bundel Gestaltes en diere (1942). Groot werke wat in die vyftigerjare verskyn, is die vers-hoorspel, Dias (1951) en die versdrama, Germanicus (1956).

Hoewel NP van Wyk Louw as ’n groot denker en werklik intellektuele skrywer beskou word, misken hy nie die eenvoud van die volkspoësie nie.

Van Wyk Louw was met die regisseuse Truida Pohl getroud en een dogter en een seun is uit die huwelik gebore. Louw het talle erkennings ontvang, onder meer literêre pryse, opdragwerke en eredoktorsgrade. Hy sterf op 18 Junie 1970 in Johannesburg.

 

Die liefde in my

Dis altyd jy, net altyd jy,
die een gedagte bly my by
soos skadu’s onder bome bly,
net altyd jy, net altyd jy.

Langs baie weë gaan my smart,
blind is my oë en verward,
is alle dinge in my hart.

Maar dit sal een en enkeld bly,
en aards en diep sy laafnis kry,
al staan dit winter, kaal in my,
die liefde in my, die liefde in my.