Hendrik_van_der_Bijl

deur Dawie du Plessis

Hendrik Johannes van der Bijl is op 23 November 1887 in Pretoria gebore. Sy vader was ’n suksesvolle sakeman in die hoofstad, en die ZAR se voorste graanhandelaar. Ná die Tweede Vryheidsoorlog verhuis die gesin na die Kaapkolonie, waar die jong Van der Bijl sy skoolloopbaan op Franschhoek voltooi. Hy skryf begin 1906 in by die Victoria College, en behaal einde 1908 die B.A.-graad in Fisika met lof. Hy is die ontvanger van verskeie akademiese toekennings, en vertrek dan na Duitsland waar hy aan die Universiteit van Leipzig studeer. Tydens sy studie doen hy navorsing oor die ionisasie van vloeistowwe, en brei Lord Kelvin se navorsingsmetodes op gasse na vloeistowwe uit. Na hy sy Ph.D. in 1913 behaal, gaan hy na Dresden, waar hy navorsing in die foto-elektrisiteit doen. Sy geskrifte trek die aandag van die groot Amerikaanse wetenskaplike Millikan, en op sý aandrang word Van der Bijl deur die Western Electric Company sowel as die American Telephone and Telegraph Company na die VSA genooi om by hulle in diens te tree.

Van der Bijl se navorsing in Duitsland het die ontwikkeling van die termioniese vakuumbuis tot gevolg gehad, en maak langafstand radio-telefonie moontlik. Die gevolg is die telefoniese verbinding tussen New York en San Francisco in 1914, en in 1915 die radioverbinding tussen Arlington, Virginia, en die Eiffeltoring in Parys. Dieselfde jaar tree hy in die huwelik met Florence Lisette Wagner, ’n Amerikaanse meisie wat hy in Duitsland leer ken het. Sy 1920-publikasie The thermionic vacuum tube is twee dekades lank die standaardwerk in die veld, en as deskundige lewer hy talle lesings aan die Universiteit van Chicago. Tuis het sy sukses nie ongesien verbygegaan nie, en dit noop generaal Jan Smuts om Van der Bijl na Suid-Afrika te nooi om die Departement van Mynwese en Nywerheid se tegniese raadgewer te word. In die VSA wys hy ’n betrekking van £100 000 per jaar ($4,5 miljoen in 2015) van die hand om Smuts se aanbod te aanvaar. Ongelukkig sterf sy vader kort voor sy terugkeer.

Opsteller van die Wet op Mate en Gewigte 1922. Saam met sir Robert Kotze stel Van der Bijl die Elektrisiteitswet op, en toe die Elektrisiteitsvoorsieningskommissie gestig word, is hy die eerste voorsitter. Van der Bijl se belesenheid het hom ’n magdom kennis verskaf, maar sy beresenheid het ’n insig en begrip van die nywerheid en sy ontwikkeling daaraan toegevoeg. Buiten die verskaffing van goedkoop elektrisiteit het hy geglo dat Suid-Afrika ook goedkoop staal nodig het, sou hy hoop om ’n industriële staat te word. Ten spyte van ’n ongelooflike teenstand uit verskeie oor, word met behulp van C.F. Delfos Wet 11 van 1928 deurgevoer, wat tot gevolg het dat die Suid-Afrikaanse Yster- en Staalkorporasie (Yskor) opgerig word. Ook hier is Van der Bijl die voorsitter. Binne drie jaar vervaardig Suid-Afrika sy eie staal – en dis die goedkoopste ter wêreld. Interessant is dat hy in 1920 reeds die ontginning van olie uit steenkool in die vooruitsig gestel.

In 1937 word African Metals Corporation (Amcor) deur Van der Bijl se toedoen opgerig, sodat Suid-Afrika se onedele metale nie onbenut gelaat word nie, maar ook kon bydrae tot die ekonomiese- en nywerheidsontwikkeling. In 1940 word hy ook voorsitter van die nuut gestigte Nywerheids-ontwikkelingskorporasie (NOK), en deur ook ’n leidende rol in die totstandkoming van die Vanderbijl-ingenierswerkkorporasie (Vikor) speel, sorg hy dat Suid-Afrika toenemend onafhanklik op nywerheidsgebied word. Daarby was Van der Bijl verantwoordelik vir die oprigting van mediese- en pensioenskemas vir werkers, sowel as die voldoende verskaffing van behuising aan hulle. Hy ontvang in 1931 ’n eredoktersgraad van die Universiteit van Stellenbosch, word in 1934 kanselier van die Universiteit van Pretoria, direkteur van Barclays Bank in 1939, erelid van die Nederlandse Koninklijk Instituut van Ingenieurs in 1937, lid van die National Academy of Science in 1943, en Fellow of the Royal Society in 1945.

Van der Bijl sterf kort na sy 61ste verjaarsdag op 2 Desember 1948. Borsbeelde van hom is deur Coert Steynberg vervaardig, wat in die besit van die Universiteit van Pretoria is. Buiten sy leeueaandeel in die nywerheidsontwikkeling, het Hendrik Johannes van der Bijl se lewe en werk ook die uitsaaiwese in Suid-Afrika geraak, aangesien die instelling hiervan nie sonder sy ontdekkings kon plaasvind nie. Die dorp Vanderbijlpark is na hom vernoem.