deur Dawie du Plessis

Fritz du Quesne as krygsgevangene op Bermuda

Fritz du Quesne as krygsgevangene op Bermuda

Fritz Joubert Duquesne (uitgespreek doe-KYN) is op 21 September 1877 in die omgewing van Oos-Londen gebore, die seun van Abraham en Helena Susanna (gebore Joubert). Hierdie Hugenote-afstammeling was ’n fassinerende dog steeds redelik onbekende figuur, die rede synde sekerlik dat dit moeilik is om tussen waarheid en verdigsel te onderskei wanneer dit sy lewensverhaal betref. Ná die Tweede Vryheidsoorlog was hy tydens die Eerste en Tweede Wêreldoorloë in diens van Duitsland. Hy was ’n verkenner, spioen, guerilla-vegter, avonturier, saboteur, en bedrieër by uitstek.

As jong seun verhuis hy saam met sy gesin na Nylstroom in die Oos-Transvaal. Op die ouderdom van 13 gaan hy na Engeland om daar sy skoolopleiding te ontvang. Klaarblyklik was hy op 17 vir ’n jaar op Oxford, waarna hy na die Ecole Militaire in Brussel gaan. Hy het ’n gedugte swaardvegter geword, maar daar is onenigheid of hy werklik Europese kampioen was. Dit is in hierdie oorsese tydperk wat hy sy kennis oor verskeie tale opgedoen het – iets wat hom later as spioen handig te pas sou kom. Hy keer op die vooraand van die oorlog in 1899 terug na die Transvaal, nou in staat om Engels met ’n hoë klas aksent te praat. Hy dien op die Natalse front, en neem deel aan die beleg van Ladysmith en die Slae van Colenso en Bergendal. Hy word gevang en na ’n krygsgevangenekamp in Portugal gestuur. Met behulp van die kampoffisier se dogter slaag hy daarin om te ontsnap, en mettertyd in Engeland aan te kom. Onder voorwendsel dat hy ’n afvallige Boer is, sluit hy by die Britse leër aan en kom na Suid-Afrika.

Op kommando tydens die Tweede Vryheidsoorlog

Op kommando tydens die Tweede Vryheidsoorlog

Met sy besoek aan die Nylstroom-distrik vind hy die familieplaas verwoes en die opstal afgebrand. By een van die ou werksvolk verneem hy dat sy sussie Elsbet deur ’n groep Britse soldate verkrag is, en dat sy moeder na ’n kamp weggevoer is. Gevolglik het Fritz wraak teenoor Lord Kitchener gesweer, en ’n eed afgelê om nie te rus voor hy geslaag het daarin om die man te dood nie. In die daaropvolgende tydperk het hy met sy klein kommandotjie die intelligensielyne van Kitchener se verkenners aangeval. Die befaamde verkenner Frederick Russell Burnham sou later skryf: “There were only two men on the veld I feared, and one was Duquesne.” Voorts: “Much has been written about Duquesne, most of it rubbish. Yet his real accomplishments were so terrible and amazing that they make the yellow journal thrillers about him seem as mild as radio bedtime stories.” Later word Duquesne in Kaapstad gevang (weens die verraad van een van sy medewerkers se vrou) waar hy sabotasiewerk verrig het. Hy spring die doodstraf vry deur ’n (valse) belofte om geheime Boerekodes vir die Engelse te ontsyfer. Hy word in die Kasteel aangehou. Ná ’n mislukte ontsnappingspoging word hy, soos vele ander Boeregevangenes, na Bermuda verban. In sy boek Op die Bermudas Beland skryf dominee A.J. van Blerk dat hy gereeld met die jong Duquesne in die kamp gesels het. “Hy was ’n mooi man,” skryf die dominee, “goed ontwikkeld, met helderblou oë en pragtige swart hare wat tot op sy skouers gehang het.” Hierdie beskrywing doen die foto gestand wat in die Bermuda Argiewe bewaar word.

In die 1930's met Duitse en Oostenrykse militêre eerbetone

In die 1930’s met Duitse en Oostenrykse militêre eerbetone

Toe die Vrede in Mei 1902 onderteken word kon die krygsgevangenes huiswaarts keer op voorwaarde dat hulle ’n eed van getrouheid aflê. Diegene wat geweier het sou in ballingskap moes agterbly. Duquesne het in laasgenoemde groep geval, maar hy ontsnap uit die kamp om hom in New York te vestig, waar hy eers vir die New York Sun en toe vir die New York Herald as verslaggewer werk. Hy het ’n persoonlike adviseur vir president Theodore Roosevelt geword aangaande die jag van wild in Afrika, en ook as gids vir die president gedien. Hy trou in 1910 met Alice Wortley, dogter van die offisier van die kamp waar hy in Bermuda gevangene was (en hy reeds destyds leer ken het). Hy was later kampvegter vir Roosevelt se wetsontwerp om seekoeie uit Afrika na die moerasse van Louisiana in te voer om as voedselbron te dien.

Na hy in 1913 Amerikaanse burgerskap kry, vertrek Duquesne en sy vrou na Suid-Amerika (geborg deur die maatskappy Goodyear) onder die voorwendsel om navorsing te doen oor rubberplante. Toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitbreek verklaar hy hom aan die Duitse konsulaat bereid om vir Duitsland militêre diens te doen. Hy voer hierdie taak uit deur bomme onder die waan van minerale proefmonsters op Britse skepe te laai. Hy het homself in die proses ook persoonlik verryk deur belasting op hierdie Britse “minerale” te eis! Duquesne maak aanspraak daarop dat hy ’n deurslaggewende rol in Lord Kitchener se dood gespeel het. Die Britse intelligensiediens het reeds in 1915 van sy bedrywighede as spioen te wete gekom, maar hy kry dit reg dat daar ’n koerantberig oor sy dood deur Indiane in Bolivia in 1916 verskyn. Dit is in hierdie tyd wat hy hom voordoen as die Russiese edelman Boris Zakrevsky, wat Kitchener op die HMS Hampshire sou vergesel. Duquesne sou waterfakkels uit die skip laat val om die skip aan Duitse u-bote te identifiseer. Hy self sou van die boot afspring voor die torpedo’s die skip laat sink. Hy ontvang hiervoor die Ysterkruis 1ste klas.

In 1941 na sy gevangeneming deur die FBI

In 1941 na sy gevangeneming deur die FBI

Die amptelike Britse weergawe is dat die HMS Hampshire deur ’n seemyn getref is, geplant deur die boot U-75 onder bevel van Curt Beitzen. Die Duitse generaal Ludendorff het gesê dat Russiese Kommuniste die inligting aan die Duitsers verskaf het. Ook Ierse Republikeine het aanspraak op betrokkenheid getref. Alhoewel die volle waarheid sekerlik nooit bekend sal raak nie, moet dit gesê word dat ’n FBI-klopjag foto’s van Duquesne met Duitse, Oostenrykse en Ottomaanse militêre eerbetone opgelewer het. Hy is ook in 1917 in New York gearresteer toe koerantknipsels oor gesonke Britse skepe en ’n brief van gelukwensing van die Duitse visekonsul-generaal van Nicaragua in sy besit gevind word. Die Britte wou hê dat die VSA hom uitlewer, maar op hul beurt wou die Amerikaners hom vervolg weens bedrog. Hy kon die Amerikaanse owerhede egter daarvan oortuig dat hy aan ’n vorm van verlamming ly, tot hy uit die hospitaal ontsnap in vroueklere.

Tydens sy verhoor in 1941

Tydens sy verhoor in 1941

Hy sou die owerhede vir die volgende ongeveer 13 ontwyk. Onder meer as twee dosyn vals name sou hy as vryskut joernalis werk, en ook by Joseph P. Kennedy (die vader van JFK) se rolprentproduksiemaatskappy in diens tree. Sy identiteit word in 1932 aan die FBI uitgelap, en Brittanje vra weer dat hy uitgelewer word. Die VSA is egter van mening dat die sogenaamde Wet op Beperkings verval het. Voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het Duquesne weereens vir die Duitsers begin spioeneer, nadat hy kontak met die Duitser Nikolaus Ritter maak, wat deur hoof van die Duitse intelligensiediens, die Abwehr, angestel is. Presies wat se werk Duquesne verrig het is nie bekend nie. Hy word saam met talle ander in Junie 1941 in ’n FBI-klopjag gevang. Die totale aantal beskuldigdes sou later tot 33 groei, met Duquesne as “die belangrikste” beskryf deur J. Edgar Hoover. Hierdie sindikaat sou as die “Duquesne Spy Ring” bekendstaan, en is steeds die grootste spioenasienetwerk in die VSA se geskiedenis. Fritz Duquesne is op 13 Desember 1941 skuldig bevind, en op 2 Januarie 1942 gevonnis. Hy is op 19 September 1954 uit ’n gevangenis in Kansas vrygelaat. Hy het die laaste twee jaar as ’n arm en sieklike ou man in ’n welsynshospitaal in New York deurgebring. Hy sterf op 24 Mei 1956 aan ’n beroerte.

Verdere leesstof:

  • Burnham, F.R. & Everett, M.N. 1944. The Totem of the Black Panther. (In Taking Chances. Somerset: Haynes. p.11-22).
  • Federal Bureau of Investigation. 2010 The Duquesne Spy Ring. https://www.fbi.gov/about-us/history/famous-cases/the-duquesne-spy-ring.
  • Groenewald, C. 1992. Bannelinge oor die oseaan: Boerekrygsgevangenes, 1899-1902. Pretoria: J.P. van der Walt.
  • Ronnie, A. 1995. Counterfeit hero: Fritz Duquesne, adventurer and spy. Annapolis: Naval Institute Press.
  • Strydom, H. 2006.  Boerespioen Fritz Joubert Duquesne: Geen vergifnis vir Kitchener.  Pretoria: Bienedell.
  • Wood, C. 1932. The Man Who Killed Kitchener: The Life of Fritz Joubert Duquesne, 1879-. New York: Faro.