Produk van die plaas, plaasskool en groter plattelandse milieu, het Izak Wilhelmus van der Merwe, wat onder die naam Boerneef skryf, lewenslank plaaskind in hart en siel gebly. Hoewel hy uiteindelik die grootste deel van sy lewe in die stad deurgebring het, het al sy letterkundige werke die hunkering na die plaas en onvergenoegdheid met die stad weerspieël.

Hy is op 11 Mei 1897 gebore en het ná sy skoolloopbaan op Boplaas in die Koue-Bokkeveld en op Ceres, na Kaapstad verskuif om aan die South African College, later die Universiteit van Kaapstad, te studeer. Hy het ’n MA-graad in Afrikaans-Nederlands verwerf en na ’n jaar in die onderwys, dosent aan die Universiteit van Kaapstad geword. Sy eerste twee vroue is albei op relatief jong leeftyd aan kanker oorlede. Dit het Boerneef geweldig eensaam, melankolies en sinies gemaak.

Toe sy eerste boeke in die laat dertigerjare begin verskyn het, het hy ’n totaal nuwe klank in Afrikaanse letterkunde gebring. Sy taalgebruik was verfrissend nuut en feitlik direk uit die volksmond. Hy het tipiese streekstaal en uitdrukkings in sy werke gebruik, wat heeltemal afgewyk het van die standaard Afrikaanse letterkunde van sy tyd. Sy vroeë bundels handel hoofsaaklik oor die plaaslewe en die plaaswerkers, vir wie hy ’n besondere aanvoeling gehad het. Hy het verskeie bundels met sketse geproduseer, maar ten spyte daarvan sal hy veral onthou word as digter. Sy digkuns is sonder pretensie, maar met ’n diepte wat met dié van groot digters vergelyk kan word. In baie van Boerneef se skryfwerk, prosa sowel as poësie, praat sy twee wêrelde saam:

Van al my land se tafelberge

is daar vir my maar twee

dis die tafelberg by Boplaas

en sy ouboet by die see.