Anna Neethling-Pohl (1906-1992) was ’n Afrikaanse aktrise en skrywer. Sy het in meer as 50 verhoogproduksies en hoofrolle opgetree, en was regisseur van 60 produksies. Daarby het sy in verskeie rolprente gespeel, en het sewe dramas van Shakespeare na Afrikaans vertaal. Sy was stigterslid van die Volksteater en vir twee dekades omroeper by die SAUK. As skrywer het sy verskeie romans gepubliseer, en ontvang die Langenhoven- en Vaderland-prys. In 1948 ken die SA Akademie ’n Erepenning vir Toneelspel aan haar toe.