Generaals Beyers verdrink en Jopie Fourie gefusilleer

Generaal De la Rey word doodgeskiet
January 22, 2015
Deur die Dorsland na Duitswes
January 22, 2015

Terwyl De Wet besig was met protesvergaderings, het luitenant-kolonel S.G. (Manie) Maritz, met ’n aantal volgelinge uit die Verdedigingsmag Upington verlaat en na die Duitsers oorgeloop. Dit was verraad. Die krygswet is op 12 Oktober afgekondig, en burgers opgekommandeer – ’n bewys vir anti-Botha-manne dat die regering nie woord hou om Duitswes slegs met vrywilligers te verower nie. Protesvergaderings was onwettig, maar so onverskrokke as in sy jonger dae het De Wet besluit om te bly protesteer met die wapen in die hand. So het Rebellie ’n voldonge feit geword. De Volkstem het op 26 Oktober die nuus gebring: “Genls. Beyers en De Wet rebelleren/ Heilbron in handen der rebellen/ Trein te Reitz aangehouden/ Overgrote meerderheid der burgers lojaal”. Buiten Reitz en Heilbron was Vrede, Frankfort, Bethlehem, Senekal, Harrismith, Koppies, Parys, Lindley en Ventersburg in rebellehande. By elke dorp het kommando’s by De Wet aangesluit.

In die eerste botsing met regeringstroepe in die Vrystaat op 8 November by Doornberg tussen Lindley en Winburg sneuwel tien rebelle, onder andere De Wet se jongste seun Danie. De Wet se woorde was: “Dit is die eerste offer. Ons moet nou deurgaan – end-uit. Hulle het bloed vergiet.” Op 12 November het ’n mag onder Botha die rebellekommando by Mushroom Valley aangeval en uitmekaar gedryf. Soos van ouds kon De Wet self wegkom. Van toe af het baie rebelle die stryd gewonne gegee; hulle het geen perde en ammunisie meer gehad nie. De Wet is met 25 vrywilligers weswaarts en is op 30 November 1914 deur ’n kolonne onder kolonel JF Jordaan naby Vryburg gevang.

In Oos-Transvaal was die verset verby toe generaal Christiaan Muller digby Bronkhorstspruit gevang is. In Wes-Transvaal was generaal Beyers nog in die veld. “Ek gaan uit om my volk wakker te maak, al kos dit ook my lewe”, het hy op 12 Oktober aan dominee Christiaan Neethling gesê. Soos De Wet se manne is Beyers s’n deur die oormag van regeringstroepe uitmekaar gedryf. In ’n poging om oor die Vaalrivier te ontvlug, het hy op 8 Desember verdrink.

Binne die grense van die Unie was die enigste rebelle toe dié onder kommandant Jopie Fourie. Anders as Beyers het hy nie uit die Verdedigingsmag bedank nie. Op 16 Desember 1914 is hy op Nooitgedacht gevang en op 19 Desember deur ’n militêre hof ter dood veroordeel. Invloedryke Afrikaners, soos doktor DF Malan, wat spesiaal uit Kaapland gekom het, het vergeefs die vonnis probeer versag, maar Smuts was vasbeslote en op 20 Desember is Fourie tereggestel. Duisende was diep geskok en hy het ’n martelaar vir die volksvryheid geword. Vroeg in 1915 het Jan F.E. Celliers sy gedig “Jopie Fourie” geskryf. Afskrifte is getik, wat soos blits deur die land versprei is: “Daar trek ’n koeël met spoed, met spoed;/ hy’s nat van Afrikaner-bloed,/ en smart die boodskap wat hy voer;/ hy kom uit Afrikaner-roer,/ hy kom deur Afrikaner-hart./ Maar met die roue en die smart/ bring hy die hart se kragte oor./ Slaap sag, trou hart, so wreed deurboor,/ want, trekkend, trekkend jaar en stond,/ sal steeds die koeël sy boodskap sprei;/ en waar hy tref, heel nooit sy wond;/ en wat hy tref, dit heilig hy!”