Generaal Sir Pierre van Ryneveld (1891-1972)

Lisa se klavier
September 13, 2018
Krag in die naam van Jesus
September 14, 2018

’n Huldeblyk

“Eensame lugheld se laaste vlug”, “Outstanding soldier, ‘father’ of SAAF”, “Tribute to a general” en soortgelyke opskrifte het, ten tye van die heengaan van genl. sir Pierre van Ryneveld, K.B.E., C.B., D.S.O., M.C., die grondlêer van die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) en eertydse Hoof van die Generale Staf van die toenmalige Unieverdedigingsmag, in die pers verskyn.

’n Lang en uitstaande militêre loopbaan kenmerk die lewensloop van hierdie Vrystaatse seun wat die eerste lewenslig op 2 Mei 1891 op Senekal aanskou het om op 2 Desember 1972 in die Militêre Hospitaal, Voortrekkerhoogte, die tydelike met die ewige te verwissel.

Foto: Sir Pierre van Ryneveld en sir Quintin Brand afgeneem voor hul vliegtuig, die “Silver Queen” waarmee hulle in 1920 die eerste vlug van Brittanje na Suid-Afrika aangedurf het.

In lugvaartkundige kringe sal die ontslapene allereers onthou word as dié staatmaker wat, saam met die toenmalige vlugluitenant C.Q. Brand, ’n afstammeling van President Jan Hendrik Brand, in 1920 die lugverbinding tussen Londen en Suid-Afrika daargestel het. Hulle was, soos die Voortrekkers van ouds, maar nou in ’n ander vorm, die verkenners en baanbrekers wat die pad oor die oerwoude en woestyne van ons wêrelddeel deur die lugruim gebaan het.

Duisende vliegtuie en miljoene lugreisigers sou, in die jare wat na hierdie baanbrekersdaad gevolg het, hierdie lugroete geheel of gedeeltelik volg en in tye van oorlog of vrede die verbindings tussen ons land en ander wêrelddele bespoedig en die tyd verkort.

Foto: Sir Pierre van Ryneveld en Sir Quintin Brand voor die standbeeld wat in die internasionale saal van die Jan Smuts-lughawe opgerig is ter herdenking van hul historiese vlug tussen Engeland en Suid-Afrika in 1920.

Deur hierdie daad het twee Suid-Afrikaners, wie se optrede in die vorm van ’n beeldegroep op die Jan Smuts-lughawe en ’n beskeie S.A.L.M.-monumentjie tussen Pretoria en Silverton verewig is, vir hulleself ’n naam verwerf onder die ontdekkers en verkenners van die lugruim van Afrika van ons eeu, in aansluiting met negentiende-eeuse staatmakers soos ’n Louis Tregardt, ’n Livingstone en ander wat, oor land, ons uitgestrekte wêrelddeel deurkruis het.

En gedurende die Tweede Wêreldoorlog sou duisende van ons soldate, op pad na die gevegsfronte of op die terugreis na ons vaderland, van dieselfde lugroete gebruik maak, terwyl hulle gedien het onder dieselfde baasverkenner van 1920.

So sien ons dan die tans heengegane as ’n veroweraar van die lugruim, die stigter van ons hedendaagse lugwapen, die grondlêer van ons georganiseerde burgerlike lugvaart en as ’n Hoof van die Generale Staf voor, tydens en kort na die Tweede Wêreldoorlog.

 

LEWENSLOOP: I

In bostaande beknopte samevatting van wyle genl. sir Pierre van Ryneveld se verdienstes, is die lewensloop van Helperus Andrias van Ryneveld nie noukeurig gevolg nie. As ’n oud-leerling van die bekende Bloemfonteinse “Grey College”-skool en as ’n oud-student van die voorloper van die hedendaagse Universiteit van die Oranje-Vrystaat, die Grey Universiteitskollege, het die jong Van Ryneveld nadat hy die B.A.-graad verwerf het, sy studie vir die B.Sc.-graad (ingenieurswese) aan die “lmperial College” van die Universiteit van Londen begin en, na verloop van tyd, voltooi.

In 1914 het die dreigende oorlogswolke begin saampak. Reeds in 1912 en 1913 het Europa, aldus lord Grey, in die rigting van ’n gewapende konflik begin beweeg. Tydelik het daar ’n mate van verminderde spanning begin heers. Lord Grey het gereken dat die oorlogsgevaar verby was en in sy Twenty-five years (1892-1916) aangeteken:

We seemed to be safe. In reality it was not so; the set of the cur- rent was the same, and in a year’s time we were all swept into the cataract of war.

Maande en weke het verbygegaan. Augustus 1914 het aangebreek, die wêreldbrand het begin opvlam … en lord Grey het aangeteken:

A friend came to see me on one of the evenings of the last week – he thinks it was on Monday, August 3. We were standing at a window of my room in the Foreign Office. It was getting dusk, and the lamps were being lit in the space below on which we were looking. My friend recalls that I remarked on this with the words: “The lamps are going out all over Europe; we shall not see them lit again in our life-time”.

Terwyl die gerugte van oorlog die atmosfeer vervul het, was die student Helperus Andrias van Ryneveld ’n lid van die offisiersopleidingskorps van sy universiteit. In Augustus 1914 het hy, nou in die rang van tweede luitenant, by die diensbataljon van die Loyal North Lancashire Regiment aangesluit. In November van dieselfde jaar het sy bevordering tot eerste luitenant gevolg en in Mei 1915 is hy na nr. 5 Vleuel van die Royal Flying Corps, vervolgens na die R.F.C. se Central  Flying School en op 16 Julie 1915 was hy ’n offisier van hierdie korps wat ’n paar dae later sy plek in nr. 17 Eskader van die R.F.C. aangewys gekry en in November 1915 saam met dié eskader na die Midde-Ooste vertrek het.

Lt. Van Ryneveld se verbintenis met die lugvaart dateer dus van 1915, dieselfde jaar waarin die jong Zuidafrikaanse Vliegenierskorps / South African Aviation Corps tydens die veldtog in Duits Suidwes- Afrika opgetree het en daarna as nr. 26 Eskader, ook bekend as die Suid-Afrikaanse Eskader, by die R.F.C. ingelyf is.

Van Ryneveld het diens gedoen in Egipte, Palestina en Griekeland en is in Februarie 1916 tot vlugbevelvoerder en tydelike kaptein bevorder. In November van dieselfde jaar het hy eskaderbevelvoerder en tydelike majoor geword, terwyl van sy optrede melding gemaak is in die vorm van eervolle vermeldings (Egipte). In Junie 1916 is die Military Cross (M.C.) en in Maart 1917 die Egiptiese Orde van die Nyl (4e klas) aan hom toegeken.

Terug in Engeland het tydelike maj. Van Ryneveld diens gedoen by nr. 78 Eskader, om in 1917 en 1918 in Frankryk en België, o.m. as bevelvoerder van nr. 45 Eskader en bevelvoerder van nr. 11 Vleuel, op te tree. Op 1 April 1918 was Van Ryneveld, nou as luitenant-kolonel, in diens van die R.A.F. en tot in Januarie 1919 bly hy bevelvoerder van die reeds genoemde R.A.F.- vleuel. In Augustus 1917 is hierdie verdienstelike offisier, aldus Per aspera ad astra 1920-1970, op ’n hoogte van 5 600 meter afgeskiet. Alhoewel hy swaar gewond was, het hy herstel en sy bydrae in verband met die besetting van die Ryngebied gelewer (1919).

 

LEWENSLOOP: II

Daar is reeds melding gemaak van die poging wat in 1915 deur die toenmalige Unieregering aangewend is om ’n eie lugmag daar te stel en dat hierdie jong organisasie na die voltooiing van die veldtog in Suidwes-Afrika by die R.F.C. ingelyf is. Skrywers soos L.A. Wyndham en Arthur Blake, onderskeidelik in hul werke The airposts of South Africa, (Cape Town, 1936) en Vlieghelde van Suid-Afrika, (Kaapstad, 1966) lewer voldoende bewyse dat Suid-Afrika reeds voor die Eerste Wêreldoorlog terdeë vliegbewus was. In hierdie verband is dit ook van belang om die leser se aandag te vestig op die verslag wat brig.-genl. C.F. Beyers, kommandant-generaal van die Aktiewe Burgermag, op 7 Desember 1912 aan genl. J.C. Smuts, Minister van Verdediging, voorgelê het na aanleiding van sy sending na Switserland, Frankryk, Duitsland en Engeland.

Een van die opdragte wat die Minister van Verdediging op 20 Julie 1912 aan brig.-genl. Beyers verstrek het, was:

to pay a visit to the newly established Aviation School on Salisbury Plain in order to obtain as many details as possible for a guide in establishing a military aviation school in South Africa on a small and economical scale; …

Op 25 September 1912 was, aldus Blouboek U.G.32 – ’13, brig.-genl. Beyers te Upavon en in dié verband het hy aan genl. Smuts gerapporteer:

the Officers there impressed upon me the advisability of starting a school in South Africa at the earliest possible date for teaching recruits in flying, or, at any rate, before the aircraft wing of our army is formed; an alternative plan was suggested by the War Office officials in London, viz. to send five or six suitable young men from South Africa to England to be trained at the flying school at Upavon, a course which I would strongly recommend.

Dat hierdie belangstelling nie tot die Suid-Afrikaanse regering beperk was nie, maar dat onder meer ook op Alexanderfontein, naby Kimberley, ’n groot mate van geesdrif bestaan het, blyk uit ’n berig wat in die Diamond Field Advertiser van 11 Oktober 1913 onder die opskrif “Inspection of Aero School. Military authorities highly satisfied. Yesterday’s flying” verskyn het. Op 10 Oktober 1913 is die vliegskool van C. Compton Paterson deur kapt. (later sir) Roland Bourne, ondersekretaris van Verdediging, kol. P.C.B. Skinner en dr. F.V. Engelenburg, editeur van “De Volksstem” (Pretoria) met ’n besoek vereer. By hierdie geleentheid het die ondersekretaris die lugdoop ondergaan. Dr. Engelenburg, wat reeds in Duitsland gevlieg het, het ook in sy koerant sy waardering oor die modern ingerigte vliegskool naby Kimberley uitgespreek en na die besoek aan Alexanderfontein, is in amptelike kringe te Pretoria vermoedelik nog heelwat oor die opkomende lugvaart gesels.

Nog ’n belangrike faktor om die bestaande belangstelling in ons land gaande te hou, was die optrede van maj. A.M. Miller, D.S.O., R.F.C., wat militêre werwingswerk in ons land verrig het.

Die oorlog het verbygegaan en lt.-kol. H.A. van Ryneveld was in Keulen (Duitsland) toe hy deur genl. J.C. Smuts na Londen ontbied is. Genl. Smuts was as een van die lede van die Britse oorlogskabinet en as ’n lid van die amptelike Britse komitee wat dié land se lugvaart moes reorganiseer, bekend met die gedagte van die Britse regering om, uit die nog bestaande oorlogsvoorrade, voldoende vliegtuie en toerusting aan die onderskeie dominiums te skenk om hiermee die grondslae van hul eie lugmagte te lê.

Vir hierdie taak het, met betrekking tot Suid-Afrika en ’n eie lugmag, genl. Smuts sy oog op It.-kol. Van Ryneveld laat val.

Volgens hoofverslaggewer Carel Birkby op 2 Desember 1972 in die Johannesburgse “Sunday Times” verklaar het, sou genl. Smuts ten tye van sy eerste ontmoeting met Van Ryneveld in die Londense “Savoy Hotel” verklaar het: “Van Ryneveld, I want you to go out to South Africa to start the Air Force.”

Aan die begin van 1919 was lt.-kol. Van Ryneveld werksaam by die Britse Departement van Lugvaart om, in September van dieselfde jaar, sy werksaamhede as Suid-Afrikaanse Skakeloffisier by dieselfde departement te begin. Hierdie verbintenis het tot 1 Februarie 1920, die dag waarop Van Ryneveld sy R.A.F.-kommissie neergelê het, geduur.

Intussen het hy, aldus Per aspera ad astra 1920-1970, 48 De Havilland D.H. 9-, 30 Avro 540 22 S.E.5-vIiegtuie, onderdele, masjinerie, gereedskap, raamwerk vir 20 vliegtuigskure, 30 hout- en seil-vliegtuigskure, radio- en fotografiese toerusting vir twee eskaders, 50 000 gelling enjinolie, verf en ander benodigdhede uitgesoek. Aan hierdie Britse geskenk, wat gewoonlik as die Imperial Gift beskryf is, het die Overseas Club (Londen) nog 11 De Havilland D.H.4-vIiegtuie toegevoeg. Met 111 vliegtuie, wat ’n waarde van £2 000 000 verteenwoordig het, sou die Suid-Afrikaanse Lugmag sy buiging maak. In 1919 is met die verskeping van die reusagtige hoeveelheid materiaal begin en geleidelik het die Vliegtuig- en Artilleriedepot te Robertshoogte, vandag Voortrekkerhoogte, oor meer en meer vliegtuigmateriaal begin beskik.

Meer en meer treinvragte het op Pretoria aangekom, maar wie nie opgedaag het nie, was lt.-kol. Van Ryneveld wat met ingang van 1 Februarie 1920 in die reeds genoemde rang van die R.A.F. na die Unieverdedigingsmag oorgegaan het in die rang van tydelike kolonel om die nuwe pos van Direkteur van die Lugdiens te vul.

 

LEWENSLOOP: III

Voordat die pasbenoemde Direkteur van die Lugdiens van die Unieverdedigingsmag met sy werksaamhede te Pretoria begin het, het die Britse Departement van Lugvaart ’n grondopname van die lugroete Kairo-Kaapstad deur die R.A.F. laat voltooi. ’n Aantal vliegvelde is in gereedheid gebring en daarna is die belangrike roete oopgestel. Die bekende Londense Times het besluit om die eerste vlug langs die nuwe roete (Londen-Kaapstad) te finansier en Eerste Minister J.C. Smuts het ’n Vickers-Vimy-bomwerper van die R.A.F. laat aankoop om aan die gedenkwaardige vlug deel te neem. Lt.-kol. H.A. van Ryneveld is as loods aangewys en hy het, op sy beurt, besluit om vliegluitenant C.Q. Brand. D.S.O., M.C., D.F.C., as mede-loods te benoem. Twee Rolls Royce-werktuigkundiges sou die twee ervare Suid-Afrikaanse oorlogstydse vlieëniers vergesel.

Foto: Die destydse (1940) Eerste Minister en Opperbevelhebber van die Suid-Afrikaanse Magte, generaal J.C. Smuts. verkeer hier in geselskap met Pierre van Ryneveld, hoof van die Generale Staf, en kaptein E.T. Dobson, bevelvoerder van ’n Ingenieurskamp.

Laat ons ’n oomblik by dié handjievol deelnemers aan die gedenkwaardige lugreis van Londen na Kaapstad vertoef. In The Aeroplane van 7 Oktober 1936 is onder meer die volgende wetenswaardighede vermeld:

Op 24 Januarie 1920 het die eerste vliegtuig, ’n Vickers Vimy wat deur The Times gehuur was, op Brooklands, Engeland, opgestyg. Bestuur deur kapteins F.C. Broome en S. Cockerell het hierdie vliegtuig te Villemont, Lyon en Istres geland, op 26 Januarie na Rome vertrek en op 29 Januarie op Malta aangekom. Begelei deur twee R.A.F.-vliegtuie het Broome en Cockerell na Tripoli oorgesteek, op 1 Februarie is die reis na Benghazi en, twee dae later, na Sollum voortgesit. Te Heliopolis is dr. Chalmers Mitchell aan boord geneem en na heelwat gesukkel het die geselskap op 26 Februarie 1919 te Tabora aangekom, waar die vliegtuig ten tye van sy opstyging die volgende dag verongeluk het. Die vlieëniers, hul twee werktuigkundiges en dr. Chalmers moes van die verdere reis afsien.

Die volgende vliegtuig wat vanuit Engeland vertrek het, was ’n Handley Page, wat deur die Daily Telegraph gehuur en deur maj. H.G. Brackley, D.S.O., D.S.C., en It. F. Tymms, M.C., beman is, terwyl maj. C.C. Turner as ’n passasier saamgegaan het. Op 6 Februarie was hierdie vliegtuig te Brindisi, op 18 Februarie te Athene en, nadat maj. Turner in Kairo aan boord gegaan het, het die Handley Page op 23 Februarie te Assiut aangekom. Tydens die vlug na Khanum, op 25 Februarie 1921, het hierdie vliegtuig naby Shereik verongeluk. Niemand was beseer nie, maar die Handley Page was ’n wrak.

Lt. Sidney Cotton en W.A. Townsend, wat vir eie rekening op 4 Februarie 1921 met ’n De Havilland 14 (Napier) te Hendon opgestyg het, is allereers deur eersgenoemde se ongesteldheid in Parys vertraag en het eers op 26 Februarie te Rome aangekom. Die volgende dag is die De Havilland op die strand naby Paola sodanig beskadig dat dit die ontydige einde van hul poging beteken het.

Op dieselfde dag het Van Ryneveld en Brand van Brooklands vertrek, dieselfde dag te Turyn, Italië, aangekom en op 5 Februarie tot Rome gevlieg. Op 6 Februarie het hulle na Afrika oorgesteek, brandstof te Derna gelaai en te Sollum geland. Vervolgens is, nadat opgedane landingskade herstel is, die reis na Heliopolis voortgesit. Op 10 Februarie is die vliegtuig deeglik nagegaan voordat die reis kort voor middernag hervat is. As gevolg van ’n lekkende verkoeler moes ’n noodlanding te Korosky uitgevoer word. In die duisternis het die vliegtuig teen ’n klipstapel vasgery. Dele van die wrak is gered en die geselskap is per boot terug na Kairo.

Daar is, op las van die Unieregering, ’n nuwe Vimy deur die R.A.F. verstrek, die geredde enjins is in dié vliegtuig geplaas en op 23 Februarie het Van Ryneveld en Brand te Khartum aangekom. Ofskoon hulle daarna met teenspoed te kampe gekry het, het die Suid- Afrikaners op 5 Maart 1921 te Bulawayo verskyn. Daar het, tydens die vertrek, die Vimy wat as die “SiIver Queen 11” bekend gestaan het, op ’n hoogte van 50 voet neergestort. Pretoria het die twee mede-landgenote nie in die steek gelaat nie. Op 16 Maart 1921 het It. J. Holthouse met ’n De Havilland D.H.9 opgestyg en op die volgende dag het Van Ryneveld en Brand, met hierdie vliegtuig, wat kenmerkend “Voortrekker” gedoop is, na Pretoria vertrek. Die totale vliegtyd van Brooklands na Kaapstad was 4 dae 13 uur en 30 minute. Hierdie tydaanduiding het die skrywer van die artikel in The Aeroplane laat opmerk dat, indien Van Ryneveld en Brand oor ’n behoorlike organisasie kon beskik het, hulle die vliegtyd van die Imperial Airways-maatskappy van 1936 tussen Londen en Kaapstad kon geklop het.

Op 15 Mei 1921 is in die London Gazette aangekondig dat Van Ryneveld en Brand tot ridders van die Britse Ryk (K.B.E.) as erkenning vir hul prestasie geslaan en dat vlugsersant E.F. Newman en F.W. Sherrat, die ander bemanningslede tydens die vlug, albei met die Air Force Medal vereer is.

Sir Pierre van Ryneveld en sir Christopher Brand was die eerste lughelde wat op 20 Maart 1921 te Kaapstad hul reis oor die lengte van ons wêrelddeel beëindig het.

 

LEWENSLOOP: IV

In die jare wat na die stigting van die Suid-Afrikaanse Lugmag gevolg het, het kol. sir Pierre van Ryneveld, Iaasgenoemde rang is in 1924 aan hom toegeken, hom in sy hoedanigheid as Direkteur van die Lugdiens beywer om die S.A.L.M. uit te brei. Getuies hiervan is die onderskeie jaarverslae van die Departement van Verdediging waaraan die volgende gegewens ontleen is: Op 30 Junie 1927 was die sterkte van die S.A.L.M. 30 offisiere, nege kadette en 244 minderes, terwyl die Bantoe-personeel 109 man sterk was. Op dieselfde tydstip het die algemene reserwe uit 54 en die spesiale reserwe uit 23 offisiere bestaan. As gevolg van Brits-Suid-Afrikaanse militêre samewerking is die lugroete oor Afrika oopgehou. ’n Afdeling van die S.A.L.M. het op 29 Maart 1927 van Pretoria vertrek en op 5 April op Kisumu aangekom waar die Suid-Afrikaners in aanraking gekom het met R.A.F.-personeeI wat op 31 Maart 1927 van Kairo na Kisumu vertrek het. Op 2 April 1927 het ’n S.A.L.M.-vIiegtuig die afstand tussen Pretoria en Kaapstad (850 lugmyle) in nege uur afgelê, terwyl op 8 Junie van dieselfde jaar ’n soortgelyke vlug in omgekeerde rigting in sewe uur en 55 minute afgelê is.

Gedurende die boekjaar 1926-1927 is ruim 3 649 ure gevlieg teen ’n koste per myl, bereken teen ’n gemiddelde van 80 myl per uur, van 4,21 d.

In September 1927 het It. R.R. Bentley, M.C., A.F.C., van die S.A.L.M. met ’n Moth-vliegtuig ’n solovlug in rekordtyd van Londen na Kaapstad afgelê. In die loop van die verslagjaar 1929-1930 is vier Wapiti-vliegtuie aangekoop, terwyl die plaaslike vervaardiging van hierdie vliegtuie ter hand geneem is. Van belang is dat in 1925 ’n lugposdiens deur die S.A.L.M. op die roete Durban, Oos-Londen, Port Elizabeth, Mosselbaai en Kaapstad (Wynberg) ingestel is. In 1928 is begin om diamante per S.A.L.M.-vliegtuie van Alexanderbaai na Kaapstad te vervoer en in 1928 is, soos reeds vermeld is, begin om die ou vliegtuie deur moderne materiaal te vervang.

Met ingang 1 Mei 1933 is kol. sir Pierre van Ryneveld aangestel as Hoof van die Generale Staf en tot brigade-generaal bevorder, terwyl op dieselfde datum Iaasgenoemde betrekking deur genl.-maj. A.J.E. Brink, D.T.D., D.S.O., neergelê is. Genl. Brink is in bevel van die Unieverdedigingsmag en -kadette aangestel met die ampsbenaming  Sekretaris van Verdediging en generaal-in-bevel van die Unieverdedigingsmag. Vermelding verdien nog die feit dat die nuwe Hoof van die Generale Staf, behalwe die pos van Direkteur van die Lugdiens, van 1929-1930, ook nog bevelvoerder van die troepe te Robertshoogte en kommandant van die Suid-Afrikaanse Militêre Kollege, ook te Robertshoogte, was. Hy het dus, nadat hy die grondslae van die S.A.L.M. gelê en dié weermagsdeel deur die na-oorlogse jare en ’n deel van die daaropvolgende ekonomiese depressie gelei het, groter verantwoordelikhede begin kry in ’n tydperk vol onrus en toenemende spanning in ’n wêreld wat in 1939 weer eens in ’n oorlog gedompel sou word.

 

LEWENSLOOP: V

In die departementele verslag oor die jare 1933-1934 het die nuwe Hoof van die Generale Staf verwys na Minister O. Pirow se verklaring aangaande die Unie se algemene verdedigingsbeleid wat onder meer, in die vorm van ’n vyfjaarplan, vergroting van die S.A.L.M., versterking en modernisering van die artillerie, uitbreiding van die Aktiewe Burgermag, voortgaande meganisasie en versterking van die algemene militêre weerbaarheid behels het.

Met verwysing na die blykbaar onvermydelike besuinigingsbeleid wat die regering gedurende die afgelope jare gevoer het, het die Hoof van die Generale Staf verklaar:

Besuiniging van hierdie aard in vredestyd kan moontlik duur te staan kom in oorlogstyd. Hoe swak die vooruitsigte op ’n geslaagde mobilisasie was, kan opgemaak word uit die feit dat net maar die oprigting van ’n eenheid soos die Spesiaaldiensbatalion die magte van die Staande Mag tot die uiterste beproef het.

In die daaropvolgende jaarverslag het die Hoof van die Generale Staf weer eens oor die organisasie, die dissipline en die geoefendheid van die Unieverdedigingsmag gerapporteer. Ofskoon die algemene toestand verbeter het, het die verskaffing van uitrusting, as gevolg van die bestaande finansiële toestand, die feit dat ten spyte van toereikende geldmiddels bestelde goedere nie verkry kon word nie, sorg gebaar en toegewyde aandag bly vereis.

In die verslag oor 1935-1936 kon die Hoof van die Generale Staf melding maak van verdere uitbreiding en reorganisasie, ’n breidingsprogram van die S.A.L.M., die daarstelling van ’n Raad vir Oorlogsbehoeftes, die feit dat die persentasie rekrute wat ongeskik vir die Staande Mag bevind is, kleiner was as in die verlede, die oprigting van nuwe militêre geboue en onderhandelings om terreine vir die S.A.L.M. te Waterkloof (Pretoria) en Young’s Field (Wynberg) te verkry.

Die Sekretaris van Verdediging, tewens generaal-in-bevel van die Unieverdedigingmag, genl.-maj. A.J.E. Brink, het in dieselfde verslag met dankbaarheid daarvan gewag gemaak dat, aangesien in die begroting weer ruimskoots voorsiening gemaak is vir verdedigingsdienste (£1 269 690), vergrote sterktes en uitgebreide militêre opleidingsgeriewe daargestel kon word. Andersyds het die werksaamhede van die skietverenigings aanmerklik verminder, terwyl die sterkte van die kommando-organisasie afgeneem het. In albei gevalle was onvoldoende geldelike steun ’n deurslaggewende faktor.

Foto: Van links na regs, toenmalige range: Genl.-maj. Sir Pierre van Ryneveld, genl. A.J.E. Brink, brig. H.S. Wakefield en brig. George E. Brink

In April 1937 is die Hoof van die Generale Staf tot generaal-majoor bevorder. Genl.-maj. Van Ryneveld het, soos komdt. Neil Orpen, J.C.D., in 1968 in sy gesaghebbende studie East African and Abyssian Campaigns, (Cape Town, Johannesburg) aangetoon het, met velerlei stukke bly worstel. In dieselfde publikasie het tans wyle lt.-genl. Geo. E. Brink, C.B., C.B.E., D.S.O., gewag gemaak van die feit dat Minister O. Pirow, “an intelligent and energetic young barrister … quickly infused new life  and vigour into the ailing Defence Force …” Andersyds het, aldus dieselfde skrywer, die regering omstreeks 1937 die Generale Staf nie oor ’n verdedigingsbeleid ingelig nie. Ten tye van die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog was, aldus lt.-genl. Geo. E. Brink, “South Africa dangerously unprepared”. Een van die oorsake was die feit dat, aldus dieselfde skrywer, krygstoerusting nie uit die buiteland bekom kon word nie.

Nieteenstaande die bestaande moeilikhede en tekortkomings wat op dié tydstip bestaan het, het komdt. Orpen in sy studie verklaar:

Against all this, morale in the existing units was high, regiments had a fine esprit de corps based on sound traditions, and by comparison with European and other armies, the standard of physical fitness, education and intelligence of the men in the ranks was exceptional.

 

LEWENSLOOP: VI

Ten tye van die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het die Staande Mag 352 offisiere en 5 033 manskappe en die Aktiewe Burgermag 918 offisiere en 12 572 manskappe getel, aldus die hoofstuk “Tweede Wêreldoorlog” in die Offisiële Jaarboek van die Unie van Suid-Afrika (nr. 23-1946), ’n publikasie waarin gegewens in verband met ons toenmalige land-, lugmag- en seemagsterktes en verrigtings gedurende dié oorlogsjare voorkom. In totaal was die aantal manlike en vroulike blanke vrywilligers by die Unieverdedigingsmag 211 193, die aantal nie-blankes 123 121, terwyl  die sterkte van die deeltydse eenhede 63 341 bedra het, terwyl die totale oorlogsuitgawes, wat ruim £5 000 000 in 1939-1940 beloop het, van 1939-1945 (September-Maart) £531 791 761 bedra het.

Foto: Terwyl It.-genl. Sir Pierre van Ryneveld die pos van hoof van die Generale Staf beklee het, het duisende Suid-Afrikaanse vrywilligers gedurende die Tweede Wêreldoorlog na die noorde afgereis.

Lt.-genl. sir Pierre van Ryneveld het gedurende die oorlogsjare sy werk as Hoof van die Generale Staf ongetwyfeld op ’n ongekende skaal sien toeneem. En met hierdie vermeerdering van werksaamhede het vermoedelik die aantal vraagstukke ook toegeneem. Kort na die einde van die oorlog het sy bevordering tot generaal gevolg en op 2 Mei 1949 het hy as Hoof van die Generale Staf die tuig neergelê om agt jaar later, met die substantiewe rang van generaal, van die reserwe van offisiere na die lys van afgetredenes afgevoer te word. Op dié dag was genl. sir Pierre van Ryneveld, behalwe van die reeds genoemde, onder meer die besitter van die volgende militêre medaljes en dekorasies: Die Franse ridderkruis van die (1919), die “Légion d’Honneur” Belgiese kruis van Offisier in die Leopoldorde met die Oorlogskruis (1919), die 1914-18 Star, die British War Medal, die Victory Medal en die Phoenix-orde met swaarde (Griekeland) (1944). Tewens was hy ’n Companion of the Most Honourable Order of the Bath (C. B.) (1945) en die draer van die kruis van “Groot Officier” van die Belgiese Leopoldorde, 2de klas (1946).

 

NA AFTREDE

Na sy aftrede het genl. sir Pierre van Ryneveld saam met sy gade, lady Van Ryneveld (geb. mej. Enid Collard) op die plaas Spitzkop, in die distrik Bronkhorstspruit, gaan boer. Sy lewenstaak was, kort na die demobilisasie van die oorlogstydse Suid-Afrikaanse vrywilligers, afgehandel.

In Oktober 1969 het hy, kort voordat James Ambrose Brown se werk A gathering of eagles. The campaigns of the South African Air Force in Italian East Africa 1940-1941, (Johannesburg, 1970) verskyn het, teruggekyk en, nadat hy die teks gelees het, soos volg sy indrukke in die volgende gedagtes op skrif gestel:

Per Aspera Ad Astra – over the rough places to the Stars. That was a truly prophetic motto we adopted for the South African Air Force half a century ago. Its original members were survivors of what was probably the bloodiest war in history and the enthusiastic handful of us had no sooner got together when we were flung right into the centre the Rand in 1922. Here indeed was a rough beginning in which our young Air Force very sadly suffered its first casualties.

Then came the years of post-war financial stringency followed by the great depression and these were times when the very existence of our Service was at stake. But the rougher the going, the tougher we became, and we finished up the last war with 35 South African Air Force Squadrons on Active Service!

“Per Aspera Ad Astra” can well be applied to the wonderful story of this sometimes hard, sometimes harsh but always lovable old country of ours, and those of you who read this stimulating first volume covering the growth of our Air Force from infancy to manhood will find that it blends perfectly with the whole history of our rugged past.

By geleentheid van die onthulling van die S.A.L.M.-gedenkteken langs die pad tussen Pretoria en Silverton, in die omgewing waar die “Voortrekker” in 1920 geland het, was die staatmaker uit vergange dae aanwesig.

Ook moes dit vir hom ’n groot mate van voldoening geskenk het om tydens die goue jubileum van ons lugmag, in dieselfde jaar, te kan aanskou op watter wyse dieselfde lugmag gegroei het, dat sy opvolgers sy werk met welslae voortgesit het …

By hierdie geleentheid het Sy Edele die Minister van Verdediging, mnr. P.W. Botha, in ’n boodskap wat in die gedenkboek Per aspera ad astra gepubliseer is, onder meer verklaar:

Die besluit om die S.A. Lugmag te stig, was waarskynlik een van die belangrikste besluite wat ooit in die geskiedenis van Suid-Afrika geneem is. Toe die S.A. Lugmag in Februarie 1920 ’n voldonge feit geword het, sou min mense egter kon gedroom het dat dit binne vyf dekades tot die belangrikste militêre lugmag op die Afrikaanse vasteland sou groei …

Genl. R.C. Hiemstra, S.S.A., S.M., die toenmalige kommandant-generaal van die Suid-Afrikaanse Weermag, het by dieselfde geleentheid verklaar:

Daar is iets in vlieg wat die avontuurgees van ons jong Suid-Afrikaners aangryp en hulle dapperheid en karaktervastheid, gepaard met gesigskerpte, vinnige reaksie en helder denkvermoë het daartoe bygedra dat ons land met buitengewoon hoogstaande lugbemannings kan spog …

 

LEWENSAAND

So is, in 1970, die lewensaand van genl. sir Pierre van Ryneveld helder verlig. Hy was bevoorreg, want dit is nie aan elkeen gegee om die bekroning van sy lewenswerk en -taak, die verwesenliking van sy ideale te aanskou nie.

Na ’n gelukkige egverbintenis van meer as veertig jaar het die gade van sir Pierre van Ryneveld heengegaan. ’n Bietjie meer as ’n jaar gelede het die vergrysde militêre leier aan ’n verslaggewer van Hoofstad verklaar: “Ek is eensaam en verslae. Dit sal ’n lang tyd neem om van hierdie terugslag te herstel.”

 

DIE EINDE

Na ’n lang siekbed het genl. Sir Pierre van Ryneveld op 2 Desember 1972 heengegaan. Op 6 Desember vier dae later, het sy militêre begrafnis met volle militêre eer op Voortrekkerhoogte plaasgevind. Oud-kapelaan A.G.O. Coertze het die indrukwekkende roudiens in die N.G.-kerk te Voortrekkerhoogte gelei.

Sewentien saluutskote het gedreun, vir die eerste keer in ons militêre geskiedenis het ’n viertal Mirage-vliegtuie van die S.A.L.M. hul laaste groet gebring. Seshonderd dienspligtiges van die Suid-Afrikaanse Leër en die Suid-Afrikaanse Lugmag het in stadige pas begin marsjeer. Langs die kanonwa het as draers hooggeplaaste verteenwoordigers van die drie weermagsdele die ontslapene uitgeleide gedoen. Die roudiens is onder meer deur Sy Edele die Minister van Verdediging, mnr. P.W. Botha, adm. H.H. Biermann, S.S.A., O.B.E., kommandant-generaal van die Suid- Afrikaanse Weermag; en oud-strydmakkers soos genl.-maj. K.R. van der Spuy en brig. H.G. Willmott, bygewoon.

Heengegaan het hy wat in Oktober 1969 geskryf het:

Per Aspera Ad Astra — oor die ruwe plekke heen na die Sterre …

 

Bron: Ploeger, Jan. 1973. Lantern, Maart: 74-82.