Generaal Nicolaas Jacobus Smit (30.5.1837-4.4.1896) – Vise-president van die ZAR 1887-1896

President MT Steyn (1857-1916)
June 27, 2017
Kommandant-generaal Pieter Potgieter
June 27, 2017

(Geskryf deur LA van Wyk, Hoof, Laerskool Generaal Nicolaas Smit, Pretoria, soos verskyn in Historia Junior November 1967)

Nicolaas Jacobus Smit, gebore in die distrik van Graaff-Reinet, was 3 jaar oud toe sy ouers in 1840 by die Trekkers in Natal aangesluit het, maar dis in 1846 toe die lang trek beëindig is, toe hulle hul op die plaas Leliefontein in die huidige distrik Ventersdorp gaan vestig het.

Op betreklik jeugdige leeftyd het hy reeds deelgeneem aan verskillende strafekspedisies teen opstandige inboorlingstamme: in 1852 (15 jaar oud) teen Sechele, in 1854 (17 jaar oud) teen Makapan en in 1858 (20 jaar oud) teen Mapela. In al hierdie gevegte was sy moed en onverskrokkenheid opvallend. In die bestorming van die grotte in die veldtog teen Mapela is hy in die oor gewond wat die oorsaak was dat hy later sy een oog verloor het.

Die besondere agting wat sy medeburgers vir hom gekoester het, word daarin weerspieël dat hy reeds op sewe-en-twintigjarige leeftyd in 1864 tot veldkornet van die wyk Mooirivier gekies is. In 1876 word hy aangestel as luitenant-generaal en neem hy as tweede in bevel onder president Burgers deel aan die veldtog teen die balhorige Sekoekoeni.

In 1861 is hy getroud met Hendrika Stephina Pretorius. Uit die huwelik is drie seuns en twee dogters gebore. In 1873 gaan vestig hy hom op die plaas Goedehoop, distrik Ermelo.

Saam met die ander Boere-voormanne het hy deelgeneem aan die lydelike verset teen die anneksasie van die Republiek deur Shepstone in 1877. Met die aanvang van die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) is hy benoem tot veg-generaal en op 8 Februarie 1881 lewer hy met slegs 160 burgers die roemryke Ingogo-slag (Schuinshoogte) waar hy generaal Colley met 500 man ’n gevoelige neerlaag toedien. Daarna beset hy met 400 man die Biggarsbergpasse en op die gedenkwaardige Sondagmôre 27 Februarie 1881 bestorm hy op bevel van Kommandant-generaal P Joubert saam met kommandant Ferreira en veldkornette Roos en Malan die Amajubaberg wat deur Colley die vorige nag beset is. Die Engelse generaal sneuwel in hierdie geveg waarin sy mag ’n verpletterende neerlaag toegedien is.

Na afloop van die stryd word hy in 1881 gekies as  Volksraadslid vir Middelburg, maar in die verkiesings daarna het hy die Volksraadslid vir Ermelo geword.

In 1883 word hy saam met president Kruger en SJ du Toit afgevaardig (die Transvaalse Deputasie 1883-1884) na Londen vir die hersiening van die Pretoria-Konvensie en ook na die vasteland van Europa om o.a. geld te soek vir die bou van ’n spoorweg. Na ’n afwesigheid van 9 maande word hulle feestelik ontvang na ’n baie geslaagde sending.

By twee geleenthede tree hy op as voorsitter van die Volksraad en in 1887 word hy gekies as Vise-president en lid van die Uitvoerende Raad. Met sy dood in 1896 het hy nog hierdie hoë betrekkings beklee.

Hy het op baie en belangrike Regeringskommissies gedien en ook aktief belanggestel in sake buite die landspolitiek soos landbou, onderwys, sport en spoorweguitbreidings.

Sy medeburgers het groot agting vir hom gehad en hom geëer vir sy onverskrokkenheid, vreesloosheid, dapperheid, vaderlandsliefde, leierskap, beskeidenheid en Christelikheid, maar ook ver buite sy landsgrense is hy hoog geag soos alte duidelik blyk uit die toekenning van ridderordes aan hom deur Holland, Duitsland en Portugal.

Hy het ’n mooi voorbeeld gestel van ’n ware Republikein.