Vanaand dans ons weer – Die Ventertjies
October 18, 2018
15 jaar – Jak de Priester
October 19, 2018

As daar een feit is wat oor ons volksleiers opval, is dit dat hulle nie in die aand van hul lewe terugkyk en hul herinneringe opteken nie. Dr. Malan was met sy Afrikaner-volkseenheid blykbaar ’n uitsondering, maar selfs hierdie nalatenskap is skraal. In hierdie opsig behoort ons ’n les te leer by Engelse, Duitse of Amerikaanse staatsmanne. Sulke herinneringe sal ook die geskiedskrywer tegemoetkom. Dis opvallend hoe lank die professionele historikus wag voordat hy sy hand aan ’n biografie van ’n groot staatsman waag. Eers na vyftig jaar is die lewe van president Kruger beskryf. Dit is by ons gewoonlik die joernalis of literator wat die taak van ’n biografie aanpak. Ons dink bv. aan L.E. Neame en C.M. van den Heever se twee biografieë oor generaal Hertzog. Eersgenoemde se boek, hoewel vlot geskryf, het onvolledig gebly en laasgenoemde se werk Iy aan die gebreke waaraan tydgenootlike boeke so dikwels mank gaan, nl. gebrek aan afstand, perspektief, oordeelsvermoë en objektiwiteit.

Foto: Die afdruk gee lesers ‘n idee hoe die Gedenkboek lyk.

Dit was ’n blink gedagte van die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns om ’n Gedenkboek vir Generaal  Hertzog uit te gee. Hierdie huldigingsbundel het die lig gesien ter ere van een van die stigterslede en grootste weldoeners van die Akademie. Eintlik is generaal Hertzog die vader van die Akademie, omdat die gedagte van hom uitgegaan het om dit op te rig ter bevordering van die Afrikaanse taal en letterkunde. Reeds in 1909 het dit sy beslag gevind.

Ook die Hertzog-prys is in 1914 deur generaal Hertzog aan die Akademie geskenk. Sedertdien is dit dertig keer toegeken. Voorts was daar verdere skenkings deur generaal Hertzog. In 1954 is ’n borsbeeld van generaal Hertzog in die Engelenburghuis, die hoofkwartier van die Akademie in Pretoria, deur wyle minister N.C. Havenga onthul, wat beskou is as die aflossing van ’n klein paaiement op die ‘skuld’ van die Akademie aan die geestelike nalatenskap van dié volksman.

In 1952 is ’n tydskrif, die Hertzog-Annale, deur die Akademie uitgegee. Daarin is van tyd tot tyd artikels oor generaal Hertzog opgeneem. Die huidige gedenkskrif, wat versorg is deur proff. P.J. Nienaber, T.H. Le Roux, dr. F.C.L. Bosman en mnre. D.P. Goosen en J. Victor, bevat naas ander stukke ’n bundeling van hierdie bydraes. Die doel is om die aandag te vestig op die prestasies van generaal Hertzog as staatsman, politikus, taalstryder, kultuurleier en krygsman, en om die opbrengs van die boekverkope in die Hertzog-monumentfonds te stort. Hierdie staatsman verdien ’n gepaste monument om sy nagedagtenis te eer. As daar iemand is wat daartoe meegehelp het om die Afrikanervolk sy selfrespek te laat herwin, homself te wees en sy volksbestaan op ’n stewige voet te plaas, was dit generaal Hertzog. Sy bydrae as leier lê in die tydvak van herstel na die Anglo-Boereoorlog. Hy het nie gerus voordat daar gelykheid tussen die twee blanke volksgroepe op die gebied van taal gekom het, of voordat die onderhorigheid van Suid-Afrika opgehef en hy onafhanklik en  gelyke status met die eertydse oorwinnaar gekry het nie. Eers toe was die Anglo-Boere-oorlog vir hom uitgeveg.

Die boek is in sowat tien afdelings verdeel wat nagenoeg alle aspekte van sy lewe dek. Daar is bv. biografiese gegewens wat o.a. op persoonlike herinneringe berus, soos dié van mnr. Wennie du Plessis, wyle N.C. Havenga, minister Jim Fouche, mnre. W.H. Rood en Harm Oost.

Wyle mnr. F.A. Steytler het gegewens oor sy optrede as krygsman geskryf. Dis bekend dat generaal Hertzog by die uitbreek van die oorlog as raadgewer van die westelike kommando’s aangestel is en later generaal geword het. Hoewel hy nie ’n enkele noemenswaardige slag gelewer het nie, het sy gewaagde inval in die Kaapkolonie tog verligting vir die swaar geteisterde Vrystaatse kommando’s gebring. Dit was sy noue aanraking met die burgers te velde wat van hom ’n volksleier gemaak het.

’n Verdere afdeling waarvoor proff. J.P. Verloren van Themaat en D. Pont verantwoordelik was, laat ons generaal Hertzog as regsgeleerde sien. Hy het sy opleiding op Stellenbosch en in Amsterdam ontvang en in 1892 in laasgenoemde stad ’n doktorsgraad in die regte verwerf. Hy word advokaat in Pretoria en in 1895 regter in die Oranje-Vrystaat. Na die oorlog en weer na 1912 het hy jarelank as advokaat gepraktiseer.

Foto: Dié borsbeeld van die generaal in Engelenburghuis, Pretoria, is deur Coert Steynberg

Twee voortreflike stukke oor generaal Hertzog se rol in ons taalstryd en kultuurlewe is deur proff. P.J. en G.S. Nienaber geskryf. Generaal Hertzog het vroeg reeds ingesien dat die taal die basis is vir die opbou van ’n volk in sowel kulturele as politieke en ekonomiese opsig. Sy konsekwente toepassing van die tweetaligheidsbeginsel in die Vrystaat het hom in botsing met die opvattinge van die Engelssprekende bevolkingsdeel gebring, wat die oorwinning van 1902 as beginsel vir oorheersing wou aanwend. Vanaf 1908 dateer die woord, “Hertzogisme” en om dié rede het generaal Botha vir generaal Hertzog nie sonder bedenkinge in sy kabinet van 1910 opgeneem nie. Sy onderwyswet word breedvoerig bespreek. Dr P.J. Meyer wys op sy aandeel kultuurstryd van die Afrikaner, terwyl mnr. B.S. van As ’n historiese oorsig gee van generaal Hertzog se naturellebeleid. Op hierdie terrein het die Generaal ’n wye staatsmansvisie geopenbaar en was hy sy tyd ver vooruit. Vandag word daar voortgebou op die fondamente wat hy gelê het. Dit word duidelik aangetoon deur minister M.D.C. de Wet Nel. Mnr. W.A. Kleynhans het uit sy groot versameling politieke pamflette enkeles vir herpublikasie in die Gedenkboek beskikbaar gestel. Veral die toespraak van Mei 1926 is klassiek vir ’n begrip van sy naturellebeleid.

’n Verdere afdeling handel oor generaal Hertzog as staatsman: prof. A.N. Pelzer wys op die gevolge van generaal Hertzog se beroemde De Wildt-toespraak wat “Suid-Afrika eerste” en sy “twee-stroombeleid” in kulturele opsig as beginsel behels het.

Minister Dönges gee ’n oorsig van generaal Hertzog se optrede as staatsman en prof. F.W. Gey van Pittius behandel sy rol in die ontvoogding van die Unie. Die gelyke status wat ons land in 1926 met Brittanje verkry het, was die werk van hierdie onversetlike Afrikanerstaatsman. ’n Hoofstuk oor generaal Hertzog en die internasionale politiek is deur dr. G.D. Scholtz geskryf, en sy rol in die vestiging van YSKOR deur mnr. W.P. van Oudshoorn. Die boek word afgesluit met ’n bibliografie deur mev. G.M. Kettley.

’n Mens moet die boek in sy geheel lees om ’n beeld van generaal Hertzog se lewe te vorm. Daar sit besonder veel gegewens in. Die Akademie het bepaald die nagedagtenis van generaal Hertzog met eer herdenk. Dis met één woord ’n boek wat op die rak van elke reggeaarde Suid-Afrikaner tuishoort.

 

Bron: Generaal Hertzog paslik vereer. 1965. Lantern, Junie, pp. 60-62.