Generaal De la Rey word doodgeskiet

Afrikaans word onderwysmedium
January 22, 2015
Generaals Beyers verdrink en Jopie Fourie gefusilleer
January 22, 2015

Engeland het op 4 Augustus 1914 oorlog teen Duitsland verklaar. Generaal Botha en sy minister van verdediging, generaal Smuts, was oortuig dat dit die “eer en plig” van Suid-Afrika was om Brittanje by te staan. Groot spanning het veral in Wes-Transvaal geheers waar die siener, Niklaas van Rensburg van die distrik Wolmaransstad allerlei gesigte gesien het. Sy reputasie het daarop berus dat dinge wat hy in die Anglo-Boereoorlog “gesien” het, so gebeur het. Soms het hy glo kommando’s uit dreigende gevaar gered. In 1914 het hy dikwels gepraat van ’n wolk met ’n bloedkol en die getal 15 daarop. Die “siener” het ook die uitbreek van die wêreldoorlog reg voorspel, en De la Rey het waarde geheg aan sy uitleg van die bloedkol-droom. Dit was dat die vryheidstryd op die 15de van ’n onbekende maand sou begin en dat dit gelei sou word deur De la Rey met die geheime steun van Botha.

Dat Botha so ’n plan nie sou steun nie, het De la Rey op 13 Augustus agtergekom in ’n gesprek met hom en Smuts. Daarna het hy aan sy mense gesê dat Botha sy rug op hulle gekeer en Smuts hulle verraai het. De la Rey het met generaal Beyers, hoof van die jong Verdedigingsmag, gepraat, maar dié het besluiteloos gebly. ’n Vae afspraak is gemaak tussen mense soos generaal Jan Kemp en De la Rey, wat op sy beurt voeling gehou het met generaal De Wet in die Vrystaat. Dit lyk asof hulle ooreengekom het dat hulle in opstand sou kom as die regering voortgaan met ’n beplande aanval op Duits-Suidwes-Afrika. Op 9 September het die Volksraad dié aanval met 92 teenoor 12 stemme goedgekeur. Dié besluit het in die Vrystaat en Transvaal opskudding verwek; waarom ’n land aanval wat die Afrikaner nog nooit kwaad aangedoen het nie? En dit ter wille van Engeland, die aartsvyand van die Afrikaner?

Te midde van spanning het die bloedkol-dag 15 September aangebreek. Beyers het as hoof van die Verdedigingsmag bedank en Smuts het sy pligte oorgeneem. Dieselfde aand is Beyers en De la Rey per motor van Johannesburg na Potchefstroom. Die polisie het in dié tyd hard geprobeer om ’n berugte bende onder ene Foster vas te trek. Hulle het alle motors voorgekeer en ondersoek. Die twee generaals was onbewus daarvan. In Langlaagte het ’n konstabel die voertuig probeer aanhou, maar toe dit verder ry, ’n skoot na die agterwiele gevuur. Die opslagkoeël het De la Rey in die rug getref, en hy was feitlik onmiddellik dood. Daarmee is die voorgenome rebellie op dié tydstip in die kiem gesmoor.

Maar die dood van een van die groot oorlogshelde het die land geweldig geskok. Baie Afrikaners het gemeen die regering het op dié wyse ontslae geraak van ’n magtige teenstander van sy oorlogsbeleid. Op die begrafnis in Lichtenburg was De la Rey se ou strydmakkers aanwesig, ook Botha en Smuts. De Wet is in die motor van generaal Beyers, met tekens van die koeëlgat en bloed, begrafnis toe. Die mense was opstandig en die gevoel anti-regering. Die dag daarna (21 September) is op die dorp ’n eerste protesvergadering teen die deelname aan die oorlog gehou. Die vergadering het besluit dat die Regering strydig optree met onder meer “onze Christelike volkstradities”.