Danie Theron
November 22, 2015
Die Dorslandtrek
November 22, 2015

(geskryf deur Hendrik Pieterse, Generaal Christiaan de Wetskool, Westdene, Johannesburg, soos verskyn in Historia Junior, Oktober 1957)

Op 7 Oktober 1854 is die grootste krygsman van Suid-Afrika, Christiaan Rudolph de Wet, in ’n eenvoudige hartbeeshuisie op die plaas Leeukop in die distrik Smithfield, Oranje-Vrystaat, gebore.

Christiaan de Wet het as eenvoudige plaasseun opgegroei en het maar min skoolonderrig ontvang.

Op negentienjarige ouderdom is hy met Cornelia Margaretha Kruger getroud en saam moes hulle hard werk om ’n eie stukkie grond te koop. Kort voor die Eerste Vryheidsoorlog het hulle hul in die distrik Heidelberg, Transvaal, gevestig. Christiaan de Wet het egter altyd na die Vrystaat verlang en later ook in die distrik Heilbron gaan woon.

Toe president Steyn die Vrystaatse burgers opgeroep het om die Transvalers te help in die stryd teen Groot-Brittanje, was De Wet aan die voorpunt. Op ’n dag in September 1899 het generaal De Wet aan sy seun gesê: “Hier is geld en ’n ryperd, gaan dadelik na die distrik Bethlehem en gaan koop vir my die beste ryperd wat jy kan kry en bring hom met jou saam”. So het dit dan gebeur dat hy vir Fleur gekoop het. Hy het £30 vir hom betaal. Destyds was dit ’n hoë prys vir ’n perd.

Die slag van Nicolsnek het die aandag van die wêreld op Christiaan de Wet gevestig. Op 9 Desember 1899 het De Wet ’n telegram van president Steyn ontvang waarin hy hom die rang van veggeneraal op die westergrense aanbied. Die aanbod was vir De Wet ’n verrassing en hy het die president laat weet dat hy eers daaroor wou nadink. Toe De Wet vyf van sy beste vriende van die aanbod vertel, het hulle hom aangeraai om die aanbod aan te neem. Hy het die President toe laat weet dat hy die rang van veggeneraal sou aanvaar.

Dit was verbasend watter kennis die Generaal van sy burgers gehad het. Op plekke soos Sannaspos, De Wetsdorp, Groenkop, Kalkoenkrans en ander het die burgers so skiet-skiet aangekruip na die vyandelike stellings en die Engelse daar uitgeskiet. Toe generaal De Wet drie Engelse verkenners naby Lindley gevang het, het hy gesê dat hy hulle vryheid sou teruggee as hulle ’n belangrike rapport aan die offisier in bevel van die Engelse kolonne sou gee. Die rapport het soos volg gelui: “Dear sir – please chain up these devils as I catch them every day. Yours, Christiaan de Wet.”

So het die oorlog tussen Boer en Brit aangehou en alhoewel generaal De Wet geen milit6re opleiding gehad het nie, kon die Engelse magte nie daarin slaag om hom vas te keer en te vang nie. In 1902 is daar vrede gesluit by Vereeniging en generaal De Wet is saam met generaals Botha en De la Rey na Europa om fondse in te samel vir sy volk wat deur die oorlog verarm is.

In 1914 het generaal De Wet weer op die oorlogsveld verskyn. Dit was gedurende die gewapende protes of rebellie. Ongelukkig is hy later deur verraaiers naby Vryburg gevang en in die fort in Johannesburg opgesluit.

Op 3 Februarie 1922 is generaal De Wet oorlede. Daarmee is die lewe van ’n groot Boereheld beëindig. Dog sy roemryke dade bly voortleef en die geskiedenis van die Boerenasie sou baie arm gewees het sonder ’n generaal De Wet. In De Wet vind ons ‘n karaktervaste man en ’n onverskrokke veldheer. Hy het vasgehou aan die tradisies van die voorgeslagte. Hy was oortuig dat Suid-Afrika hom nie mag loswoel van die verlede nie. “Wee die volk wat dit doen!” het hy op die begrafnis van president Kruger gesê.

Generaal Christiaan de Wet se naam is deur ons skool in hierdie voorstad, Westdene, gekies om vir ons ’n bron van inspirasie en besieling in ons werk te wees. Daarom het ons dit aan ons voordeur vasgenael en in ons harte ingebrand. Ons glo met die volste vertroue dat met die leiding van ons Hemelse vader ons nie alleen een van ons grootste volkshelde eer nie, maar dat die seuns en dogters hier gevorm sal word tot waardige lede van ons Boerevolk. Lank sal die nagedagtenis, die gees en inspirasie van generaal Christiaan de Wet voortleef!