Gedig: Geloftedag – Dingaansdag (16 Desember)
April 7, 2017
Hannie van der Merwe en Catharina Prinsloo
April 7, 2017

(Geskryf deur mev. AC de Jager, soos verskyn in Historia Junior, November 1961)

In ons geskiedenis lees ons van helde en dapper krygsmanne, maar die kleurrykste heldefiguur is ongetwyfeld generaal De Wet.

Hy is gebore op 7 Oktober 1854 op die plaas Leeukop, in die Smithfieldse distrik, Oranje-Vrystaat. Later verhuis sy ouers na die plaas Nuwejaarsfontein in die distrik van De Wetsdorp. Sy vader was veldkornet en moes die Basoetolandse grens bewaak. Die klein Christiaan ontvang sy enigste skoolopleiding toe hy saam met sy moeder op Perdekraal, naby Bloemfontein, skuiling moes soek teen die opstandige Basoeto’s.

Na die oorloë help hy sy vader op die plaas. Op negentienjarige ouderdom trou hy met Cornelia Kruger. Hulle was nie ryk bedeel met aardse goed nie. Hulle enigste besittings was 60 skape, een perd en agt koeie. Christiaan bou vir hulle ’n huisie op sy pa se plaas, koop ’n span osse op skuld en met transportryery verdien hy genoeg om vir hulle ’n eie plasie te koop.

In 1877 word die Suid-Afrikaanse Republiek geannekseer. De Wet se woorde hierop was: “Transvaal sal moet terugkom.” Hy verlaat Nuwejaarsfontein en koop Weltevrede in Kroonstad-distrik. Nou was hy naby, sodat hy al die protesvergaderings kon bywoon. Net voor die uitbreek van die Eerste Vryheidsoorlog vestig hy hom in die Heidelbergse distrik.

Hy trek saam met die Transvaalse kommando na die Natalse grens. Hy word aangestel as waarnemende kommandant en hier herken mens reeds die groot Boeregeneraal van die toekoms. Hy kon die toestand uit die staanspoor beter opsom as generaal P. Joubert wat toe in bevel was. Hy was beslis en spaar selfs nie die sambok nie. Saam met die ander klouter hy teen die steil hange van Majuba en jaag die vyand af.

Na die oorlog woon hy vir 2 jaar in die Lydenburgse distrik en word gekies tot Volksraadslid. Hy verlang egter te veel na die Vrystaat en gaan vestig hom andermaal op Nuwejaarsfontein. Hy lê hom toe op die boerdery en word hier ook gekies tot Volksraadslid.

Omdat De Wet besiel was met ’n vaderlandsliefde wat soos vuur gebrand het, wou hy net die beste vir sy land se welvaart lewer. Toe hy dus een more in 1895 op die dorp verneem van die Jameson-inval, is hy dadelik met die trein na Pretoria, gewapen, klaar om Transvaal weer te help. Toe hy egter in Pretoria kom, was alles verby.

Net voor die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog, staan De Wet weer nader. Hy vestig hom in die distrik Heilbron. Toe die burgers hul gereed moes maak vir die stryd, stuur hy Kotie, sy seun, om vir hom ’n sterk gesoute perd te gaan koop. Kotie kom terug met Fleur, ’n pragtige wit perd van Arabiese afkoms. Saam met sy baas sou hy wêreldberoemd word.

As gewone burger is hy na Natal, maar reeds onderweg is hy tot waarnemende kommandant gekies. By Ladysmith bestorm hy ’n kop met 300 man, wat deur duisende Engelse beset was. Met die verlies van slegs 4 man, word die Engelse van hulle stellings geja en 800 man word gevange geneem. Hy word nou aangestel as veggeneraal van die Wes-Vrystaat.

Dit was net na die slag van Magersfontein en generaal P. Cronjé het stilgelê. De Wet het dadelik die gevaar ingesien, maar Cronjé het hardnekkig geweier om iets te doen. Die gevolg was die oorgawe van die Boeremag by Paardeberg. Daar het groot moedeloosheid onder die burgers geheers en omdat De Wet ingesien het dat geen mens ’n haas kan vang met onwillige honde nie, gee hy die burgers verlof om huis toe te gaan, op die voorwaarde dat hulle op ’n vasgestelde datum weer bymekaar sou kom. Op die gegewe dag was almal daar en nou besorg hulle die Engelse die een verlies na die ander: by Sannaspos, Mosterthoek en Roodewalstasie.

Twee jaar lank kon De Wet so volhou teen die oorweldigende mag van die vyand. Die Engelse het nou net een doel voor oë en dit was om De Wet te vang. Maar met merkwaardige vindingrykheid het hy altyd daarin geslaag om te ontsnap. In die middel van 1900 het ’n troepemag van 50 000 man op hom toegesak en probeer om hom teen die Vaalrivier vas te druk. Nieteenstaande ’n walaer van 400 waens, trek hy skoon onder hulle uit.

Met sy inval in die Kaapkolonie in 1901 agtervolg een afdeling Engelse na die ander hom oor ’n afstand van 800 myl vir 17 dae lank, maar hy trek almal stokflou.

Aan die begin van 1902 beraam die Engelse ’n ander plan om die beweeglike kommando’s van generaal De Wet te vang. Hulle rig blokhuislyne van doringdraad oor die lengte en breedte van die hele Vrystaat op. De Wet het deurgebreek net waar hy wou. Uiteindelik besluit die vyand om ’n ring van 60 000 man om De Wet te trek. Die kring word al nouer, maar by Kalkkrans breek hy deur met die verlies van slegs 13 man.

Na 3 jaar van worsteling besluit die Transvaalse en Vrystaatse regerings om by Klerksdorp te vergader om met Engeland vredesvoorstelle te bespreek. De Wet moes ’n bitter beker ledig. President Steyn was siek en as waarnemende staatshoof moes hy met sy eie hand die vredesverdrag van Vereeniging onderteken wat die vryheid van sy dierbare land vernietig.

Op sy plaas in die Heilbronse distrik was alles vernietig en afgebrand. Hy moes van vooraf opbou. Dit was hom egter nie lank gegun nie, want nou moes hy saam met generaals Koos de la Rey en Louis Botha na Europa om geld in te samel vir sy verarmde volksgenote. Oral is hulle met huldebetoon ontvang en oor R200 000 is bymekaargebring. Terug op sy plaas het hy hom toegelê op landbou. Later word hy ook minister van landbou.

In 1914 breek die Eerste Wêreldoorlog uit. Daar word besluit om Duits-Suidwes-Afrika van die Duitsers af te neem. De Wet was oortuig dat hier nie gehandel word volgens die wil van die volk nie en protesvergaderings word gehou. Dit word egter verbied en generaals De Wet, Beyers en Kemp besluit om met die wapen in die hand te protesteer. Dit loop uit op ’n rebellie. Generaal De Wet sien hierin ’n poging om die vryheid van die boerevolk te herwin.

Daar was egter min kans op welslae. De Wet wat nooit deur die Engelse gevang is nie, word nou deur sy eie mense gevang. Hy is in die fort in Johannesburg opgesluit en later in Bloemfontein verhoor. Hy word skuldig bevind aan hoogverraad en gevonnis tot 6 jaar tronkstraf en R4000 boete. Hy is terug na die fort, maar deur kragtige pogings van die volk is hy na 11 maande vrygelaat en sy boete vry betaal.

In 1922 is hy oorlede. Aan die voet van die Vrouemonument rus die grootste krygsman wat ons land ooit geken het. Voor die Raadsaal in Bloemfontein is ’n monument: Generaal De Wet op sy perd, Fleur.