Gelukslae en ’n suksesverhaal

“Armblankes” maak ook vordering
January 23, 2015
Bitterheid van die verlede
January 23, 2015

In dié dae van armoede het duisende Afrikaners gestroom na ’n diamantveld wat padwerkers in 1926 in die omgewing van Lichtenburg ontdek het. Om wanorde met die afpen van kleims te beperk, het die regering stormlope of kleimwedrenne gereël. Die wenners het kleims op die gunstigste plekke afgesteek.Die eerste was op 20 Augustus 1926 by Elandsputte. ’n Skare van 20 000 wit en 7000 swart mense het kom kyk. Meer as 6000 delwers het op ’n ry gaan staan, meer as 3 km lank en 3 tot 6 meter diep. Onder hulle was daar atlete, ’n aantal vroue en drie mans met mank bene, een selfs met krukke.

Sewe maande daarna was daar 20 000 delwers by Grasfontein. Almal het opgewonde in die ry gestaan. Skielik spring ’n springbokkie voor hulle op, en daar trek almal! Dit was ’n vals alarm. Die polisie het die penne uitgetrek, en die week daarna is weer gehardloop.

Delwers het soms tot teenaan die sinkplaatmure van die winkels in die kampe gegrawe sodat die geboue gedreig het om in te val. Strate en paaie het eenvoudig verdwyn. Honderde gesinne het in die grootste armoede gelewe. Vroue en kinders het dikwels verwaarloos in sink- en sakhuisies gewoon. Soos oral by delwerye het wonderbaarlike dinge soms gebeur. Een wanhopige delwer het een aand met sy rewolwer na sy kleim gestap om selfmoord te pleeg. Skielik struikel hy in die ongelyk gruis, en daar in die helder maanlig skitter drie blouwit diamante wat hy vir £2750 kon verkoop.

Een van die delwers, Koos Jonker, wat op 4 Maart 1927 aan die stormloop by Grasfontein deelgeneem het, het nie veel op sy kleim gevind nie. Hy en ’n paar ander delwers het hulle egter beywer om ’n deel van die plaas Elandsfontein oos van Pretoria in 1933 tot spoeldelwery te verklaar. Hier het Koos Jonker en sy seun Jacobus kleims afgesteek. Op laasgenoemde se kleim is op 16 of 17 Januarie 1934 ’n blouwit diamant van 726 karaat gevind. Die Jonkerdiamant was die vierde grootste ter wêreld, en is vir £31 500 aan die finansiële ondernemer en diamantmagnaat sir Ernest Oppenheimer verkoop.

Die grootste suksesverhaal van dié tyd is dié van ’n nuwe soort Afrikanerpionier, Willie Boshoff. Hy was ’n konsentrasiekampkind, wie se familie in die rebellie geldelik geruïneer is. Weens deelname aan die rebellie is hy ses maande aangehou en het in 1915 in die myn begin werk. In 1922 was hy een van die stakersleiers. In 1933 het hy en Piet Pieterse die Aurora-Wes-myn vir £4500 gekoop. Familie het gehelp. Boshoff was mynbaas, skofbaas, betaalmeester, mynwerker alles gelyk. Weens gebrek aan kapitaal het die myn byna misluk, maar toe Boshoff die eerste goudstaaf van 150 ons na die bank bring, het dié die nodige krediet verskaf. Die Boshoff-metode het behels dat los goudstof, wat in die skrefies onder in ou myne agtergelaat is, bymekaar gemaak word. Hy het dus die tekortkominge van die ou mynboumetodes uitgebuit. Gou het Boshoff vooruitgegaan en in 1934 ander myne begin aankoop. Hy het agt myne so heropen. Boshoff het geen tegniese opleiding gehad nie, net sy 18 jaar ervaring. As waarskynlik die eerste Afrikanermiljoenêr het hy baie gedoen om verarmde volksgenote te help ophef.