Gelowige Hollanders pleit vir ’n Afrikaanse Bybel

Die lewe in die Konsentrasiekamp
February 22, 2016
Hoe die taalbeweging begin het
April 20, 2016

Die godsdienstige herlewing van die 1860erjare het na ander terreine as kerklike organisasies deurgewerk. Die voorlopers van die eerste georganiseerde Afrikaanse taalbeweging was twee gelowige gewese Hollanders wat gepleit het vir ’n Bybel in Afrikaans. Die eerste was Arnoldus Pannevis (1838–1884). Hy het in die 1840er- en 1850erjare as skoolseun berigte gelees oor die Vrystaat en daarna gehunker om Suid-Afrika toe te kom. Sy wens is vervul toe hy op 11 Julie 1866 per skip in Kaapstad aankom. Die eerste aand in sy losieshuis in die Kaap het hy met Afrikaners gepraat en opgemerk dat hul taal baie van sy eie verskil.

Van die Kaap af is hy na die Paarl waar hy dosent was aan die Gimnasium van ds. GWA van der Lingen. Twee mense het onder sy invloed gekom: CP Hoogenhout (1843–1922), ’n onderwyser van Groenberg, naby Wellington, en die skrander leerling SJ du Toit (1847–1911). Pannevis het raakgesien dat die kloof tussen die spreektaal en skryftaal onoorbrugbaar was. Dit was byna onmoontlik om deur medium van Hollands vir die Afrikaanse kind les te gee. Dié taal het vir die meeste Afrikaners selfs ná ’n jaar of wat van onderwys onbruikbaar gebly.

Dit het die godsdienstige Pannevis gehinder dat die Hoog-Hollandse Bybel vir duisende mense ’n boek was wat hulle maar half begryp het. Hy het gemeen dat veral die bruin mense, wat nog meer ongeletterd as die wit mense was, min van die Bybel verstaan. In De Zuid-Afrikaan van 7 September 1872 het hy onder ’n skuilnaam ’n Bybelvertaling bepleit. Sy brief was geen pleidooi vir Afrikaans nie – hy was maar net bekommerd oor “het geestelijk heil van de gekleurde bevolking van dit land”. Vir hulle wou hy ’n Bybel hê in “Afrikaansch-Hollandsch” soos daar vir sekere bewoners van die Wes-Indiese Eilande ’n Nuwe Testament in Neger-Hollands was. Blykbaar het hy Afrikaans as ’n halfwegstasie na Engels gesien. Hy skryf later aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap (BBBG): “Baie duisende kan gewen en die samelewing verbeter word totdat die Britse gesag in Suid-Afrika volkome gevestig is” (oor hierdie brief op 25 April iets meer). Die geskrywery het gou doodgeloop.

Die Nederlands-gebore Hoogenhout lewer op 12 April 1873 in De Zuid-Afrikaan ’n nuwe pleidooi vir Afrikaans. Terwyl Pannevis net geskryf het oor ’n Bybelvertaling, wys Hoogenhout, veral op 5 Julie 1873, op die belang van onderwys deur middel van Afrikaans. Die Afirkaners moet eers in Afrikaans geleer word en dan kan hulle naderhand Nederlands en Engels leer. Boekies in Afrikaans sal die onderwys help. “Die leeslus sal ook opgewek wort, en dan is daar banja gewonne.” Self skryf hy in 1873 die eerste Afrikaanse kinderboek, Die geskiedenis van Josef voor Afrikaanse kinders en huissouwens [huishoudings], in hulle eige taal geskrywe deur een vrind. Hy vra daarin vir sy jong lesers: “Nou wil ek voor julle een ding vra en dat is: As julle bid, dan mot julle ook meteens aan onse liewe Heer vra, dat die Bijbel tog vertaal mag worde in die Afrikaanse taal ook. Hij sal dat seker doen, want die Bijbel is Sijn Woord en die Woord mot aan alle mense bekend gemaak wort in hulle eige taal, Mark. 16: 15, 16.”