Geestelike herlewing en Pinksterbidure

Stryd in die NG Kerk
April 20, 2015
Andrew Murray
April 22, 2015

Die liberalisme het geen blywende invloed op die NG Kerk gehad nie, en party liberale predikante het later meer behoudend geraak. Groot steun het die liberale rigting wel gehad, veral onder lidmate met geleerdheid. Die invloed van die liberalisme het afgeneem nadat die NG Kerk in 1859 begin het om teologiestudente op te lei aan ’n kweekskool met ortodokse professore. Verder was daar ’n geestelike herlewing omstreeks 1860. In die 1840er en 1850erjare was die NG Kerk baie bekommerd oor die geestelike verval in Suid-Afrika. Die gevoelvolle Skotse predikante maar ook die nugterder Afrikaanse leraars, soos ds. GWA van der Lingen van die Paarl, het hulle vir ’n herlewing beywer. Van die einde van 1852 af het die Kerkbode berigte begin plaas van ’n ontwaking in Amerika, wat teen 1858 oorgespoel het na Brittanje.

In April 1860 het meer as 300 afgevaardigdes ’n konferensie oor herlewing op Worcester gehou. Die eerste groot geestelike ontwaking daarna was op Montagu. Mense het na bidure begin stroom, en aparte bidure is meer as een keer per dag gehou vir mans, vroue, seuns en dogters. Party het uitgeroep: “Wat moet ek doen om gered te word?” In Worcester het baie mense, veral jonges, gelyktydig gebid, geween en uitgeroep en party het flou geword. Ds. Andrew Murray het hulle verskeie kere vergeefs tot orde geroep. Die herlewing was nie beperk tot wit mense nie. Ook gebede van bruin meisies het biduurgroepe aangevuur.

In 1860 en 1861 is geslaagde opwekkingsdienste op talle plekke gehou, veral in die Kaapkolonie, maar ook die Vrystaat en Transvaal. In die Paarl het Gideon Malherbe, skoonseun van ds. Van der Lingen, in 1861 by een van ’n aantal gebedsgroepies die idee geopper dat die verskeie biduurgroepe in die tien dae tussen Hemelvaart en Pinksterfees na Bybelse voorbeeld verenig in gebed. ’n Beriggie is vooraf daaroor in die Kerkbode geplaas en op 9 Mei 1861 het die eerste Pinksterbidure in die NG Kerk begin.

Daar was ’n groot skare, maar Van der Lingen het dié dag ontbreek, omdat hy onseker was of hulle reg optree. Gou was hy egter oortuig, en al hoe meer mense het na bidure gestroom. Die Vrydagaand voor Pinkster het mense mekaar verdring. Baie kon geen sitplek kry nie. Skielik roep party om genade, ander kerm oor hul sonde, terwyl nog ander trane van dankbaarheid stort omdat hulle verlos was. Toe die diens verby was, wou byna niemand uit die kerkgebou weggaan nie.

Op Pinksterdag het ds. Van der Lingen die kerk nie ná die oggenddiens verlaat nie, maar gebly om te bid totdat die middagdiens sou begin. Terwyl hy by dié diens bid en belydenis doen van sy sonde en dié van die gemeente, raak hy in ’n soort verrukking van sinne. Later het hy vertel dat, terwyl hy gebid het, hy baie sneeuvlokkies na die hemel sien opstyg het. Skielik het blitse geskyn asof hulle die vlokkies wou afweer – totdat ’n krygsheld verskyn en die bliksemstrale afwend. Die sneeuvlokkies was die gebede van die gelowiges en die krygsheld Christus. Die tien dae lange bidure het binne enkele jare na ander gemeentes uitgebrei.