Geesdrif en probleme van jeug

FAK en ATKV kom tot stand
January 23, 2015
Eerste Afrikaanse rolprente
January 23, 2015

“Daardie kinders het selfrespek, en ’n mens wens net dat jy dit van alle Afrikaanssprekendes kan sê”, skryf Die Weste op 2 Oktober 1931 oor ’n Johannesburgse sportbyeenkoms: “Skoolseuns handhaaf / Moedertaal meer werd as medaljes.” ’n Leerling wat ’n wedloop gewen het, het geweier om sy medalje te ontvang omdat daar nie ook Afrikaans op was nie. Nog ’n seun, wat die eerste in vérspring was, het by die prysoorhandiging gevra of hy eers na die medalje mag kyk. Die antwoord was dat hy sy medalje moes neem of los. Ook dié seun het die medalje van die hand gewys. Albei atlete was van die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria. Die voorsitter van die sportbyeenkoms het op die ou end beloof dat die seuns medaljes sou ontvang met ook Afrikaans daarop. In dieselfde tyd het sommige jong mans geweier om oproepe vir militêre parades te gehoorsaam wanneer dit net in Engels uitgereik is.

Daar was dus geesdrif onder jong mense, en in dié tyd het ‘n beweging vir jong mense by party skole begin groei. Dit was die Voortrekkers, op 30 September 1931 in Bloemfontein gestig. Afrikaners het die behoefte aan ’n jeugorganisasie lank besef en in 1929 is dit op ’n konferensie bespreek. ’n Komitee het met die Boy Scouts onderhandel, maar dié wou nie toegee oor sake soos die vlag en die eed van trou nie. Kultuurleiers het toe ’n eie beweging met die leuse: “Hou koers” gestig. Op die stigtingskongres het die eerste minister, generaal JBM Hertzog, die eerste groep Voortrekkers ingelyf. Doktor NJ van der Merwe is tot hoofleier en mevrou MM Jansen tot onderleier gekies. Die Voortrekkers se groot krag was die spanstelsel. Wedstryd-, veldwerk-, natuurbewarings-, kommando-, diens- en spankampe was ’n deel van die werksaamhede. Die Voortrekkers het later verskeie historiese eiendomme en terreine bekom en op skouspelagtige wyse aan volksfeeste deelgeneem.

Maar die weelde van sulke kampe was nog net vir enkeles. Talle Afrikaanse leerlinge het nie geld gehad vir verdere studie nie en moes jonk “uitspring” en gaan verdien. Party kon deur na-uurse studie hul kwalifikasies verbeter. Die leerlinggetalle het tog toegeneem, veral in Transvaal. In 1927 het 48 436 wit kinders daar onderrig deur medium van Engels ontvang en 68 704 deur Afrikaans; in 1937 was dit 46 585 en 93 645. Plaasskole was algemeen maar het reeds minder geword. In 1945 het die Vrystaat 339 Afrikaanse plaasskole gehad teenoor 657 in 1920.

Enkele kinders het ’n sonderlinge jeug gehad. So is ene Pieter Terblanche se ouers, twee susters en ’n broer in 1934 in die Kalahari aan malaria dood. Self siek daaraan, het hy deurmekaar geraak en die woestyn ingeloop. Daar het hy op San (“Boesmans”) afgekom. Hy het ’n paar woorde in hul taal geken en kon hulle te verstaan gee dat hy by hulle wou bly. Hy het twee jaar saam met hulle rondgeswerf, hul taal geleer, met pyl en boog leer skiet, leer pyle maak en, as wild skaars was, saam met sy makkers soms vee by wit boere gesteel. “As ons wit mense gewaar het, het ons weggehardloop of weggekruip.” In 1937 het ’n wit man hom gevang en van die San weggeneem.