Gedenkwaardige handelsforte in Wes-Afrika

Raak betrokke en verseker gehalte onderwys in Afrikaans
October 5, 2018
Die hoed van Paul Kruger
October 5, 2018

Aan die kus van Ghana verrys ’n aantal kastele en forte – sommige uitermate bouvallig, ander herbou en sommige gerestoureer – wat elk sy eie, dikwels veel bewoë geskiedenis het wat ons na tydperke van beleërings en die slawehandel terugvoer.

Voor die ontdekking van die Amerikaanse Vasteland in 1492 het die Europeër hoofsaaklik sy eie wêreld geken, maar was ook reeds eeue lank in voeling met die noorde van Afrika en die westelike deel van Asië. Hy het die ou wêreldsee, die Middellandse See, bevaar en o.m. kosbare oosterse handelsware oor land na die weste vervoer en daarvandaan verder versprei.

Dit was veral die vyftiende eeuse Portugese wat die Atlantiese Oseaan doelbewus in suidwaartse rigting begin verken het om tot die skatkamers van die ooste te probeer deurdring. Hoe goed die Portugese hulle voorberei het, blyk uit die stelselmatige beplanning van prins Hendrik die Seevaarder (1394-1460). Wetenskaplike navorsing, ’n diepgaande studie van die seevaartkunde en ’n gees van durf en vasberadenheid het dié Portugese prins en die seevaarders en ontdekkingsreisigers besiel wie se name in goue letters ook in Suid-Afrika se geskiedenis vermeld staan: Diogo Cão, Bartolomeu Dias, Vasco da Gama en ander.

Foto: Fort San Sebastian, oorspronklik deur die Portugese gedurende die 16de eeu gebou, was vanaf 1637 tot 1872 Nederlandse besit

Aan dié manne is dit te danke dat die verbinding met Indië en daarna die huidige Indonesië tot stand gekom het. Portugese het die poorte tot die oosterse skatkamers oopgemaak; Lissabon het die setel van ’n magtige wêreldryk geword en vol trots kon die Portugese later verklaar: Quem vio Goa; excusa de vêr Lisboa (wie Goa gesien het, hoef Lissabon nie meer te aanskou nie.)

Aan die kus van Afrika het die Portugese vlag ’n bekende verskynsel geword, terwyl hierdie seevaarders, handelaars en stigters van versterkte handelsposte ook aan die oorkant van die Atlantiese Oseaan vaste voet in Brasilië begin verkry het.

Aan ons kus het Portugese die padrãos by Kwaaihoek, die Cabo de Boa Esparanza en naby die hedendaagse Lüderitzbucht opgerig. In die skaduwee van Tafelberg sou onderkoning Francisco d’Almeida in 1510 beswyk. Die naamgewing van Algoabaai, Natal en Delagoabaai herinner aan die Portugese durf op hul klein caravelle. Ons dink aan hul seilroetes, hul skeepsrampe en die bedreiging van die dikwels onstuimige see naby ons strande.

Mettertyd is ons kuste deur ander verkenners besoek. En in 1652 het Jan van Riebeeck in opdrag van die Here XVII ’n fort in Tafelbaai begin bou. Hul oë was nie net suidwaarts gerig nie, maar meer in ’n oostelike rigting, met as brandpunt dieselfde oosterse rykdomme waarna die Portugese gehunker het.

’N MAGSTRYD ONTBRAND
Al te dikwels staar ons ons blind teen die magstryd wat gevolglik onvermydelik in die ooste ontstaan het en vergeet dieselfde stryd wat in die suidelike deel van die Atlantiese Oseaan gewoed het. Die Portugese en Nederlanders het aan die weskus van Afrika en die noordoostelike kusgebied van Suid-Amerika ’n stryd om handelsbelange aangeknoop en ook ander lande het belange hier gesoek. Aan die Afrikaanse weskus het wedywering veral in die Golf van Guinee gewoed.

Waar die VOC sy mag en invloed in die ooste ten koste van die Portugese uitgebrei het, het die Nederlandse Wes-Indiese Kompanjie (WIC), wat in 1621 tot stand gekom het, hom die kusstreke van Wes-Afrika tot by die Kaap en Noord- en Suid-Amerika sowel as Wes-Indië begin toeëien. Toe Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het, was die hoogtepunt van die worsteling tussen Portugal en Nederland in die randgebied van die suidelike Atlantiese Oseaan reeds agter die rug. In die ooste het die Portugese die onderspit gedelf; in Brasilië was hulle aan die wenkant, terwyl daar na 1648 van die invloed van die WIC in Angola ook nie meer sprake was nie. Slegs aan die Golf van Guinee moes die Portugese die heerskappy van die WIC en soortgelyke stigtings van ander lande of groepe erken.

Die neef van prins Maurits, die bekende graaf Johan Maurits van Nassau-Siegen is in 1636, na ’n roemryke militêre loopbaan, aangestel as landvoog en kaptein-generaal van die toenmalige Nederlandse Brasilië waar hy tot in 1644 in die hoofstad Recife geregeer het. Hiervandaan het hy in 1637 aan boord van een van die twaalf skepe van die WIC-vloot voor die Portugese steunpunt Elmina aan die Goudkus verskyn en die Nederlandse handelsmaatskappy sy eerste vastrapplek aan die kus van die hedendaagse Chana besorg. In 1641 het admiraal Jol van Brasilië na Angola oorgesteek en Luanda ingeneem. Een van die doelstellings van dié militêre ekspedisies was om slawe uit Wes-Afrika en Angola as werkkragte vir die bloeiende suikerbedryf in Brasilië te verkry. In 1648 is die WIC uit Luanda verdryf, maar Elmina sou tot 1872 in Nederlandse besit bly.

Die terugkeer van graaf Johan Maurits van Nassau na die Nederlandse Republiek was die begin van die einde van “Nieuw-Holland”. Na ’n jare lange stryd wat o.m. deur plaaslike opstande, onvoldoende troepe-aanvoer uit Nederland en langdurige diplomatieke onderhandelings gekenmerk was, het dié gebied, waarin die WIC feitlik geen seggenskap meer gehad het nie, in 1669 weer onder die Portugese vlag gekom. Twee jaar vroeër het die WIC sy Amerikaanse kolonie Nieuw-Nederland saam met Nieuw-Amstedam aan Engeland afgestaan.

WES-AFRIKA
Op hul verkenningsreise langs Wes-Afrika het die Portugese seevaarders omstreeks 1460 aan die Costa da Mina, die Goudkus, verskyn waar hulle in 1482 die huidige Elmina, oorspronklik bekend as A Mina, as hul vernaamste handelspos begin ontwikkel het. ’n Ekspedisie onder Diogo da Azambuja het in Januarie 1482 met die bou van die kasteel St. George d’Elmina begin. Hierdie fort was die middelpunt van die Portugese bedrywighede aan die kus van die Golf van Guinee totdat dit in 1637 deur die WIC verower is. Dit het tot in 1872 die setel van die Nederlandse bestuur aan die Goudkus gebly, toe dit deur Engeland oorgeneem is. Tans is dit ’n opleidingsinrigting vir die Ghanese polisie.

Wat ’n mens in die ou forte aan die ou Goudkus opval, is ’n merkwaardige verskeidenheid. Portugese het byvoorbeeld die kasteel van St. George gebou; Nederlanders en Engelse het dié bouwerk gewysig. Ons tref hier dus verskeie voorbeelde van die Europese militêre boukuns aan soos dit deur verteenwoordigers van verskillende nasies op bepaalde tye op Wes-Afrikaanse bodem oorgeplant is.

Die kasteel St. George het sy Portugese struktuur en afmetings behou, maar dele herinner aan die Nederlandse tydperk, bv. ’n windroos van geel en rooi Nederlandse bakstene, die straatjie van Ijsselstene by die ingang, die gedenksteen ter herinnering aan die laaste Nederlandse goewerneur (Nagtglas) en een ter ere van graaf Johan Maurits van Nassau, e.s.m.

Die sogenaamde Cape Coast Castle was vermoedelik ’n fort van Sweedse oorsprong wat in 1664 deur ’n Brits-Deense mag van die WIC verower is en in Britse besit gebly het. Christiansborg (Accra) was tot 1851 ’n Deense basis, terwyl die vlag van Brandenburg in 1683 oor die fort Gross Friedrichsburg gehys is.

Dis slegs ’n paar voorbeelde van ’n waarlik internasionale handels- en boubedrywigheid waarvan die broer van die bekende T.E. Lawrence, prof. A.W. Lawrence, ons soveel meedeel in sy Trade Castles and Forts of West Africa (Londen, 1963). Prof. Lawrence het tydens ampstermyn as direkteur van die Nasionale Museum en Monumente in Ghana tussen 1951 en 1957 ’n aantal van die ou bouwerke laat herstel of gerestoureer.

Een van die dinge wat ’n mens in dr. ir. Temmink Groll se verslag De Kastelen, Forten en andere historische Monumenten van Ghana opval, is dat monumentesorg in Wes-Afrika gebuk gaan onder dieselfde probleme as in Wes-Europa. Daar is die verval van geboue wat nie onderhou word nie, die kompromisse wat aangegaan moet word om ou geboue by hedendaagse gebruikswyses aan te pas, die verlange van die restourateurs om alles ten koste van die oorspronklike werk te wil mooi maak, die tekort aan bedrewe werkers wat die eertydse boukundige tegnieke nog beheers en die finansiële vraagstukke wat met restourasiewerksaamhede gepaard gaan.

Ghana se monumentesorg is met ’n moeilike taak belas en dr. Groll verklaar dat daar, op ’n paar uitsonderings na, om die kusgebied van die Golf van Guinee feitlik geen oorblyfsels van eertydse Europese nedersettings meer is nie.

As een van die uitsonderings noem hy die eilandjie Goreè (Goeree) by Dakar wat van 1617-1677 Nederlandse besit was, deur Frankryk verower is en van 1663-1664 Engelse besit was. Sowel Fort Oranje as Fort Nassau is verbou en van eersgenoemde is nog gedeeltes van die mure oor.

ACCRA EN OMGEWING
Oos van Accra is Fort Prinsensten, Fort Kongensten en Fort Fredenborg wat al drie van Deense oorsprong is. Nog ’n Deense fort is Augastaborg (1787) waarvan oorblyfsels van mure in Toshi te herken is. Fort Vernon, ’n Britse versterking van voor 1756, is as ’n rushuis ingerig en verkeer in ’n behoorlike toestand.

Die Christiansborg in Accra het uit ’n Sweedse nedersetting gegroei en was van 1661 tot 1679 en, met uitsondering van een jaar, weer van 1683 tot 1850 Deense besit. Dit was die setel van die goewerneur van die Deense besittings aan die Golf van Guinee en is aan die einde van die 18de eeu vergroot. Na ’n aardskudding in 1862, waardeur die boonste gedeelte verlore gegaan het, het dit in 1900 die setel van die Britse goewerneur geword. In 1950 is dit aansienlik verbou. Na die onafhanklikheidswording van Ghana in 1957 het die Christiansborg die paleis van die staatshoof geword. Dit word sorgvuldig in stand gehou.

In die omgewing is die Deense begraafplaas te sien en ook Fort Ussher wat uit die Nederlandse fort Grèvecoeur ontstaan het. Dis in 1839 herstel, ook deur die aardbewing van 1862 beskadig en in 1868 aan die Engelse bewind oorgedra. Dis tans as tronk in gebruik.

Fort James, ’n Engelse versterking, is in 1673 gestig en het gedeeltelik bewaar gebly, asook ’n aantal geboue wat vermoedelik aan slawehandelaars behoort het.

Foto: Fort Goede Hoop op Senya Beraku (tussen Accra en Cape Coast) te sien. Dis in 1705-1706 deur die WIC gebou en omstreeks 1750 vergroot. Nadat dit tydelik in Britse besit was (1782-1785) is dit in 1868 deur die Nederlandse regering aan Engeland oorgedra

In die rigting van Cape Coast is Fort Goede Hoop tans ’n behoorlike gekonserveerde ruïne by Senya Beraku. Dis in 1705 deur die WIC as ’n driehoekige fort gebou en later deur ’n meer vierkantige gebou vervang. Dit is dus waarskynlik jonger as ons Kasteel Goede Hoop, kleiner in omvang, maar in ’n aanmerklik swakker toestand.

By Apam verkeer Fort Leydzaamheyd (Patience) in ’n vervalle toestand. Dis tussen 1697 en 1700 deur die WIC gebou, was Engelse besit van 1782-1758, is in 1811 gedeeltelik verwoes en in 1868 aan Engeland oorgedra. Dit was tot na 1950 as ’n polisiekantoor in gebruik, maar het daarna in onbruik geraak.

Die pragtig geleë ruïne van Fort Amsterdam (Abandzi) was oorspronklik ’n Britse nedersetting. In 1665 is dit deur admiraal Ruyter verower, maar was van 1782-1785 weer Britse besit en is kort daarna deur die Nederlanders verlaat.

Foto: Fort Amsterdam, (Cormantin), (1683) was oorspronklik ’n Britse handelspos wat in 1553 Nederlands geword het

Fort Willem (Anomabu) is van 1753 tot 1770 volgens planne van John Apperley gebou – ’n groot Britse strandfort waarvan Fort Charles die voorganger was. Dis tussen 1953 en 1955 gerestoureer en dien tans as tronk.

Tydens dr. Groll se besoek was restourasiewerksaamhede in die omgewing van die Little Fort aan die gang, wat vermoedelik ’n woonhuis van ene Brodie Cruikshank was.

Fort Nassau (Mouri), die oudste en eens belangrikste Nederlandse nedersetting aan die Goudkus, en tussen 1664-1665 en 1782-1785 Britse besit, is tans ’n ruïne. Slegs deel van die mure van klein geel bakstene staan nog.

CAPE COAST
In 1664 het die Engelse ’n Nederlandse nedersetting aan Cape Coast verower wat omstreeks 1673 en weer in die 18de eeu vergroot en tot 1900 die setel van die Britse goewerneur in die gebied was. Cape Coast Castle is ’n groot kompleks en daar naby is Fort William en Fort Victoria (onderskeidelik in 1830-1831 en 1837 gebou) met Smith’s Tower en Phipp’s Tower as voorgangers. Ander 18de eeuse geboue in die omgewing is ’n wonderlike mengsel van vroeë neo-gotiek en oosterse motiewe.

ELMINA

Foto: Die ingang van St. George-kasteel by Elmina. ’n Portugese kasteel, gebou 1482; Nederlandse hoofkwartier 1637-1872

Buiten die reeds gemelde kasteel St. George d’Elmina, die Hollandse begraafplaas en Fort St. Jago of Coenraadsburch, is daar op Elmina tipies Nederlandse hekpale by ’n skool en ’n aantal ou woonhuise wat in ’n besonder bouvallige toestand verkeer. Muurreste van Fort Vredenburg (1688—89) en ook dié van die Britse fort Komenda (1663) is in Komenda te sien. Een bastion van laasgenoemde is egter gerestoureer.

’n Deeglik gerestoureerde gebou is die mooi ou Portugese fort San Sebastian op Shama. Na die verowering van Elmina deur die WIC is dit verbou en het feitlik tot 1872 ononderbroke Nederlandse besit gebly. Dis tussen 1951 en 1957 deeglik gerestoureer en dien as poskantoor.

Fort Oranje (Sekondi) word tans as vuurtoring gebruik. Digte plantegroei omring die oorblyfsels van Fort Batenstein (Butre), WIC-fort sedert 1656 en feitlik onafgebroke Nederlandse besit tot in 1872. Die vroeëre Britse Fort Dixcove (1692) is omstreeks 1954 gerestoureer.

Fort Gross Friederichburg by Princes Town, soos reeds gemeld setel van die Brandenburgse kompanjiebelange, is in 1725 deur die WIC verower en tot Hollandia herdoop en later ontruim. Dis gedeeltelik in 1936 en weer in 1956 gerestoureer en dien as kaserne.

Fort San Antonio (Axim) is ’n driehoekige fort waarvan die kern in die 16de eeu gebou is. Dis in 1642 deur die WIC verower en vandag word gedeeltes daarvan wat in ’n goeie toestand verkeer, vir verskeie doeleindes gebruik.

Foto: Dixcove (1693-1698) was ’n Britse fort wat in 1867 Nederlandse besit geword het

Fort Apollonia, in 1768-1773 deur Engelse boumeesters gebou, is gedeeltelik afgebreek maar is in 1967 gerestoureer.

Die dae van die Nederlandse Wes-Indiese Kompanjie, die Britse Royal African Company , die Sweedse, Brandenburgse en Deense handelsmaatskappye, die gouduitvoer en die slawehandel lê ver in die verlede. Die Colony of the Gold Coast het in 1872 onder Britse bewind tot stand gekom en die Britse vlag het tot 1957 oor ’n gebied gewaai waar die spore van westerse militêre en handelsbelange tot vandag toe nog te sien is. Behoorlik bewaar of in bouvallige toestand, bly hulle herinnerings aan die verlede …

Bron: Ploeger, Jan. 1968. Lantern, Desember, 66-71.