20 OKTOBER
October 20, 2015
Watervoorsiening vir die Boksburgse goudvelde (1886–1890)
October 20, 2015

Geskryf deur Francois Ie Roux, St. 4, Sand du Plessis Laerskool, Bloemfontein (soos verskyn in Historia Junior)

Dit is stil terwyl Sarel Cilliers in ’n gewyde atmosfeer die Godsdiens lei. Onwillekeurig dwaal meer as een burger se gedagtes na die persone wat tot dusver al omgekom het in die stryd teen Dingaan en sy magtige swart mag … Piet Retief wat vol moed na Dingaanstat afgereis het, Dirkie Uys wat sy lewe opgeoffer het in ’n poging om sy vader te red en al die mense wat by Bloukrans, Weenen en Moordspruit gesterf het. Sal ’n mens ooit die wreedhede wat hier afgespeel het kan vergeet? Is dit moontlik ook die lot wat op hulle wag? Menslik gesproke lyk dit onmoontlik dat so ’n handjievol burgers ’n oorwinning oor die duisende van Dingaan kan behaal. In hierdie oomblik steun hulle egter baie swaar op Gods hulp. Almal besef die erns van hierdie saak, want as hulle die geveg verloor, sal die Zoeloe-impi’s voortgaan en alle Blankes in die binneland uitwis en dan sal die Groot Trek met al sy ontberinge vergeefs wees.

Die plek wat Pretorius vir sy kamp uitgesoek het, het op die oog af plat en onbeskut gelyk, maar die Voorsienigheid kon Pretorius nie na ’n geskikter oorlogsveld as juis hierdie gelei het nie. Die Trekkers het hulle waens in ’n halfmaanvorm tussen die diep rivier en ’n donga met regaf walle, wat weer in die rivier uitmond, opgestel. Tussen die wawiele was veghekke geplaas vir verdere veiligheid. Met groot versigtigheid is die ou kanon, Grietjie, en hope kruit en lopers in gereedheid gebring. (Die laer was nie in ’n halfmaanvorm nie, Redakteur).

Die laternliggies aan die punte van die sweepstokke het flou deur die digte mis geskyn. Talle oë probeer die mis deurboor in ’n poging om die Zoeloes te sien, maar die afwagtende stilte duur voort. Eindelik wanneer dit reeds lig is, klaar die mis op.

Die oomblik van aanval het aangebreek. Tienduisende Zoeloe-krygsmanne, getooi in hulle velle en vere en gewapen met skilde en assegaaie het met hulle offisiere vooraan die laer bestorm, terwyl Umhlela, die bevelvoerder, bevele skree vanaf ’n strategiese plek. Eers wanneer die Zoeloes op ’n afstand van dertig tree is, kom die bevel van Andries Pretorius om te skiet. Elkeen skiet so vinnig as wat hy kan. Dit lyk asof ’n oneindige stroom Zoeloes op die laer afstorm. Skielik klink ’n harde bevel van Umhlela bo die lawaai uit en tot die verbasing van die Trekkers val die Zoeloes terug. Dit lyk of dit ’n bestiering van God is om die Voortrekkers weer ’n kans te gee om tot verhaal te kom. Verwoed val die Zoeloes na ’n rukkie weer aan. Die Trekkers was gereed om terug te veg en ou “Grietjie” en die ou Sannas se skote weerklink deur die lug. ’n Bloedige geveg volg, maar die Zoeloes word gedwing om weer eens terug te val. Sou dit die einde wees? Die lyke van honderde Zoeloes lê alreeds om die laer. Dit is ’n afskuwelike gesig, maar gou besef die Trekkers dat die Zoeloes nog nie die stryd gewonne gegee het nie. Vir ’n derde keer val die Zoeloes aan en probeer die laer oorrompel. Die Voortrekkers veg egter met soveel durf dat die Zoeloes gou besef dat hulle hierdie laer nie kan inneem nie. Hoe Dambuza en Umhlela ook hulle manne probeer aanmoedig, hulle moed was gebreek en die Zoeloes slaan op die vlug.

Die burgers kan skaars glo dat die slag werklik verby is. Hulle besef egter dat Dingaan se mag nog nie vernietig is nie en gou word die perde bestyg en die Zoeloes agterna gesit. Die Zoeloes word nou heeltemal op die vlug gejaag. So baie Zoeloes het gesterf dat die water van die rivier rooi was van hulle bloed, vandaar die naam Bloedrivier.

Daardie aand het die burgers lofliedere gesing en die Here gedank dat Hy aan hulle die oorwinning gegee het.

Agt-en-twintig jaar later, Desember 1866, is die vroegste gedenkteken, ’n klipstapel, deur feesgangers op die slagveld opgerig. Tydens hierdie fees was ongeveer veertig tot vyftig waens op die Bloedrivier-terrein saamgetrek.’n Aantal burgers wat aan die slag deelgeneem het, het die dag weer hulle herinneringe van die slag vertel. Selfs ’n ou krygsman van Dingaan wat aan die slag deelgeneem het, het ook ’n klip na die klipstapel gebring.

Gedurig is planne beraam om ’n indrukwekkende monument op te rig. Coert Steynberg was die ontwerper van ’n simboliese kakebeenwa wat bo-oor die klipstapel gebou kon word. Hierdie ontwerp is algemeen aanvaar. Met die simboliese ossewatrek van Desember 1938 is die hoeksteen van ook hierdie monument gelê. Die inwyding kon egter eers as gevolg van die Tweede Wêreldoorlog op 16 Desemder 1947 plaasvind. Hierdie simboliese monument het die wa as woning van die Voortrekkers voorgestel. Die wa was ook nog die middelpunt van die gesinslewe en wanneer in ’n laer getrek, was dit ’n skans om die Trekkers te beskerm. Bowe alles was die wa, met die Bybel in die wakis, die huisaltaar.

Die Raad vir die restourasie van slagvelde van Suid-Afrika, onder voorsitterskap van professor AN Pelzer het begin werk aan die gedagte om die Slagveld van Bloedrivier te restoureer. ’n Groot groep sakemanne, staatsleiers, kerkmanne en kultuurleiers tesame met ’n aantal rade en organisasies, het saamgespan om hierdie gedagte ’n werklikheid te maak. Vier-en-sestig waens, na die voorbeeld van die ou kakebeenwaens uit die tyd van die Groot Trek, asook die veghekke tussen die waens, die skotskar van Biggar en die ou kanon is gegiet en verbrons. Hierdie bronslaer is op die slagveld opgerig. Die ontwerper van die bronslaer is Kobus Esterhuizen. Met die oprigting van die bronslaer is die Simboliese Ossewa verskuif na die ingang tot die slagveld.

Op 16 Desember 1971 is hierdie gerestoureerde Slagveld van Bloedrivier op feestelike wyse ingewy. Die huidige Eerste Minister, mnr. BJ Vorster was by hierdie geleentheid die gasspreker.

Na die restourasie is die laer aan die kerk oorhandig vir bewaring as erfenis vir dié volk en vir besigtiging deur almal wat belangstel.

Net soos J Vlok kan ons ook sê: “Hierdie monument wil ons volk herinner aan ’n heldegeslag, maar ook aan die geioof in ’n Alwyse en Algoeie Hemelse Vader.”