Mannetjies Roux
October 26, 2017
Martin Luther, een van die vaders van Reformasie
October 26, 2017

Daantjie Dinamiet

Op 29 September 1999 het die Suid-Afrikaanse musiekbedryf ’n legende verloor toe Gé Korsten oorlede is.

Gérard Korsten is op 6 Desember 1927 in Rotterdam in Nederland gebore en was sewe jaar oud toe sy gesin na Suid-Afrika geïmmigreer het. Nadat hy aanvanklik as elektrisiën gekwalifiseer het, het hy in 1952 as bariton met sy sangstudie aan die SA Musiekkollege in Kaapstad begin. In daardie jaar is hy en sy vrou, Elna, ook getroud. In 1955 het hy na Pretoria verhuis en Albrecht Lewald het Gé se stem na die hoër register van ’n liriese tenoor ontwikkel. In dieselfde jaar was Gé ’n stigterslid van die Pretoria Operagroep. Hy het sy studie onder Nellie du Toit, saam met wie hy gereeld gesing en ’n aantal albums opgeneem het, voortgesit en in 1963 het hy oorsee gegaan en verskeie operarolle vertolk.

Gé se toetrede tot ligte musiek het in 1965 gebeur. Aanvanklik het hy ’n Christelike album, Gé Korsten sing uit die hart, vrygestel, en sy eerste kommersiële album, Gé Korsten sing Erika, het kort daarna gevolg. In 1966 het Gé sy eerste rol in ’n rolprent losgeslaan toe hy saam met Min Shaw in Die Krugermiljoene gespeel het. Dit was egter sy volgende rolprent wat die Suid-Afrikaanse publiek se verbeelding aangegryp het. Hoor my lied is in 1967 uitgereik; hy het die rol van ’n singende dokter vertolk en weer teenoor Min Shaw gespeel. Onder die ander akteurs wat in dié rolprent te sien was, was Martin Pols, Helga van Wyk en Lindie Roux, wat toe nog net tien jaar oud was. Daar is 200 000 eenhede van die klankbaan verkoop binne net ses maande. In 1968 het hy een van sy beste, en suksesvolste albums, Seeman, vrygestel. Hierop het hy verskeie oorspronklike Afrikaanse komposisies van onder meer Danie Bosman, Hendrik Susan, Cissie en Willie Cooper, Jan Pohl en Anton de Waal gesing. Nadat hierdie album vrygestel is, word daar vertel dat Gé daarop aangedring het dat die musikale verwerking altyd op dieselfde hoë standaard as hierdie album moes wees. Hy het hierdie album opgevolg met Sing seeman sing, met snitte soos “Die ou Kalahari”, “Mooiste land” en “Net ’n stille uurtjie”, en In my seemanshart, waarop “Die boemelaar” en “Matrooslied” voorgekom het. Die uitstaande treffer vanaf hierdie album was “Reën”, wat later deel van die klankbaan van die rolprent Lokval in Venisië geword het.

Gé het ook sy loopbaan as akteur voortgesit. Hy het teenoor die sopraan Leonore Veenemans, wat in 1973 in die ouderdom van 38 jaar in ’n motorongeluk dood is, gespeel in A new life, waarin hulle die snit “Liefdeslied” saam gesing het. Gé se volgende rolprent was “Lied in my hart”; hierin het hy die rol vertolk van ’n predikant op ’n myndorp, en Min Shaw, Pietie Meyer en die voormalige mej. Suid-Afrika Mitsi Stander, wat ook op ’n jong ouderdom in ’n motorongeluk dood is, het teenoor hom gespeel. In 1971 het sy album Die hartseerwals verskyn, met snitte soos “Meisie van my drome”, “Ou ryperd” en “Ruiter in die nag”. Vir Gé was 1972 ’n groot jaar. Die titelsnit van sy album Liefling het seker sy grootste treffer geword; daarby was dit een van sy beste en suksesvolste albums, met snitte soos “Algoabaai”, “La Montanara” en “Ek bring rose vir jou”. Later dieselfde jaar was die rolprent Lokval in Venisië, met Diane Ridler, June Seymour en Maudie Adendorff wat teenoor hom gespeel het. Die treffersnit vanaf die klankbaan was “Hier is ’n mens”, maar “Dit gaan jou goed, dit gaan jou wel”, was ook ’n radiotreffer.

Die volgende hoogtepunt in Gé se loopbaan was in 1977, ’n jaar nadat televisie na Suid-Afrika gekom het. Gé het die musiekprogram Gé sing, waarin hy van sy treffers gesing het, aangebied, en ’n album met dieselfde titel het sy opnames van ander kunstenaars se Afrikaanse treffers, onder meer “Klein Karoo” en “Die seewind bring heimwee” van Sias Reinecke, “Silwermaan” van Joanna Field en “Tot siens auf wiedersehen” van Vicki du Preez bevat.  Een van sy grootste treffers, “Nicolene”, het ook op hierdie album voorgekom. Nog ’n groot jaar was 1978. “Ek kyk graag so diep in jou oë” was sy eerste Treffer van die Jaar op Edwill van Aarde se radioprogram Afrikaanse treffers, en ook sy laaste een as solokunstenaar, hoewel hy dit later as deel van ’n sangpaar sou vermag. In dieselfde jaar het hy uit sy gemaksone beweeg en die pop-album Thank you for the music vrygestel. Benewens die titelsnit, wat ’n treffer vir ABBA was, het hy ook destydse Top 20-treffers soos “Love is in the air” van John Paul Young, “My broken souvenirs” van Pussycat, “Can’t smile without you” van Barry Manilow en, die groot verrassing, “Free me” van Uriah Heep opgeneem. Daarna het hy die album Huis toe, met treffers soos “Vanaand is daar ’n splinternuwe maan”, “Veronica” en die Mynie Grove-komposisie “’n Duisendmaal meer”, vrygestel.

Nadat Gé in die 1980’s nogal stil was, het hy in 1990 teruggekeer met ’n reuse treffer en ’n ewe suksesvolle album Gé Korsten 1990. “Lied van die lewe” het een van die heel grootste treffers van Gé se loopbaan geword. Hierdie album het ook die treffers “Ek wil by jou wees”, “Die hemelspoort” en “Kufsteinlied” opgelewer, terwyl hy ook snitte soos “Wind beneath my wings” van Bette Midler, “Sailing” van Rod Stewart en “Love changes everything” van Michael Ball ingesluit het. Kort daarna het hy die rol van Walt Vorster in die M-Net-sepie Egoli losgeslaan; hy was drie jaar lank in dié sepie te sien. In 1993 het hy en Rina Hugo saamgespan vir ’n duetalbum wat sy tweede en laaste Treffer van die Jaar op Afrikaanse treffers, “Ek mis jou elke dag ’n bietjie meer”, opgelewer het. Gé se laaste album, Naby my/Sailing, het die treffers “Niemand laat sy eie kind alleen”, “Santa Fe” en “Vlieg met die wind” opgelewer.

Sedert sy dood is verskeie versamelalbums vrygestel, onder meer Ons onthou (wat ’n DVD met sy musiekvideo’s ingesluit het), Ter nagedagtenis aan Gé Korsten en Die vergete opnames, waarop ’n aantal van sy minder bekende, maar steeds uitsonderlike, opnames voorgekom het. Gé kon enigiets sing, behalwe dalk jazz en country, en hy was een van die grootste musieklegendes wat ons land nog ooit opgelewer het.