deur Daantjie Dinamiet
Suid-Afrika se laaste wit staatshoof, oudpresident FW de Klerk, is op 11 November 2021 in die ouderdom van 85 jaar oorlede.
Frederik Willem de Klerk is op 18 Maart 1936 in Johannesburg gebore en was die seun van die senator en kabinetsminister Jan de Klerk; adv. JG Strijdom, wat van 1954 tot 1958 die Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika was, was sy oom. Weens sy pa se betrokkenheid by die politiek het De Klerk van ’n jong ouderdom af daarin belanggestel. De Klerk was twaalf jaar oud toe dr. DF Malan die algemene verkiesing in 1948 gewen het en apartheid gebore is. Hy het grootgeword in die Gereformeerde Kerk, die mees konserwatiewe van die drie susterskerke. Die gesin het gedurig rondgetrek, maar hy het in 1953 matriek aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp geskryf.
Na matriek het hy in die regte aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys gestudeer. In sy studentejare was hy redakteur van die studentekoerant, ondervoorsitter van die verteenwoordigende studenteraad en lid van die nasionale uitvoerende komitee van die Afrikaanse Studentebond. Hy is ook opgeneem in die Afrikaner Broederbond. Hy het tennis en hokkie op universiteit gespeel en ’n verhouding met Marike Willemse aangeknoop. Hulle is in 1959 getroud.
Nadat hy sy graad verwerf het, het hy ’n prokureursklerk by ’n firma in Klerksdorp geword. Later het hy hom by die bekende firma MacRobert in Pretoria aangesluit, en in 1962 het hy sy eie firma in Vereeniging gestig. In hierdie tyd was hy onder meer die nasionale voorsitter van die Junior Rapportryers, en ’n kerkraadslid van sy plaaslike gemeente.
In 1972 het die Nasionale Party (NP) hom gevra om hom verkiesbaar te stel as parlementslid vir die kiesafdeling Vereeniging en nadat hy verkies is, het hy verskeie rolle in die party en die regering begin vervul. Hy het die NP se inligtingsbeampte geword en die party se propagandaveldtog bedryf. Hy het hom by verskeie parlementêre studiegroepe aangesluit, onder meer arbeid, justisie, binnelandse sake en dié van die destydse Bantoe-tuislande. Hy het talle buitelandse reise onderneem as deel van sy lidmaatskap van verskeie parlementêre groepe. Hy het onder meer Israel, die Verenigde Koninkryk, Duitsland en die Verenigde State van Amerika besoek. In die VSA het hy, soos hy dit gestel het, meer insidente van rassisme in een maand gesien as wat daar in ’n jaar in Suid-Afrika plaasgevind het. In Suid-Afrika het hy ’n leiersrol in twee gekose komitees vertolk, een het ’n beleid van die opening van hotelle vir nie-blankes geformuleer en die ander het die hersiening van sensuur voorgestel. In 1975 het die destydse eerste minister, adv. John Vorster, voorspel dat De Klerk eendag die Suid-Afrikaanse staatshoof sou word. Vorster het voorgestel dat De Klerk in ’n posisie van adjunk-minister aangestel sou word, maar die latere leier van die Konserwatiewe Party (KP), dr. Andries Treurnicht, is eerder aangestel. In April 1978 het De Klerk die Minister van Volkswelsyn en Pensioene geword; sy latere portefeuljes het Pos-en-Telekommunikasie en Mynwese ingesluit. Toe hy Minister van Binnelandse Sake was, was hy betrokke by die afskaffing van die Wet op Gemengde Huwelike, en in 1984 tot 1989 was hy Minister van Onderwys.
In 1989 het die destydse staatspresident, mnr. PW Botha, ’n ligte beroerte gehad en sy uittrede uit die politiek aangekondig. Dit het ’n leierstryd in die NP tot gevolg gehad, en De Klerk het die verkiesing teen die destydse Minister van Finansies, mnr. Barend du Plessis, met agt stemme gewen en Botha se opvolger geword. Hy het dadelik begin om sy internasionale verhoudinge te versterk. Hy het na Londen gereis om met die Britse Eerste Minister, mev. Margaret Thatcher, te vergader. Hoewel sy gekant was teen die instel van sanksies teen Suid-Afrika het sy in hierdie vergadering ’n beroep op De Klerk gedoen om Nelson Mandela uit die gevangenis vry te laat. Hy wou ook met die Amerikaanse president George HW Bush vergader maar die Amerikaanse Minister van Buitelandse Sake het De Klerk ingelig dat die tyd nie reg was daarvoor nie.
Botha het op 14 Augustus 1989 as staatspresident bedank en De Klerk is as waarnemende staatshoof aangestel totdat hy op 14 September daardie jaar vir ’n tydperk van vyf jaar as voltydse staatspresident ingehuldig is. Die African National Congress (ANC) het dadelik beswaar gemaak en gesê hy was presies dieselfde as sy voorgangers. Hy het die voortsetting van geheime samesprekings met twee ANC-leiers in ballingskap, Thabo Mbeki en Jacob Zuma, goedgekeur en in Oktober met aartsbiskop Desmond Tutu, dr. Allan Boesak en eerwaarde Frank Chikane vergader. In dieselfde maand het hy bejaarde anti-apartheidsaktiviste, onder meer Walter Sisulu, vrygelaat. In Desember het hy Nelson Mandela in die tronk besoek en drie ure lank met hom samesprekings gevoer oor die einde van die bewind van die blanke minderheid. Die Berlynse muur het kort tevore geval, en mev. Thatcher en pres. Bush het De Klerk duidelik laat verstaan dat hulle Suid-Afrika nie langer kon ondersteun nie en dat verandering dringend nodig was.
Op Vrydag die 2de Februarie 1990 het Suid-Afrika se geskiedenis onherroeplik verander. Dit was De Klerk se eerste staatsrede tydens ’n parlementsopening en niemand kon die veranderinge wat hy aangekondig het, voorspel nie. Die verbod op die ANC, die Pan Africanist Congress (PAC) en die Azanian People’s Organisation (PAC) is opgehef, maar dit het nie beteken dat De Klerk hul terreurdade of ekonomiese beleid goedgepraat het nie. Alle gevangenes wat in die tronk was net omdat hulle aan voormalige verbode organisasies behoort het, is onmiddellik vrygelaat. Die groot nuus waarvoor die wêreld ongeduldig gewag het, was dat Nelson Mandela na 27 jaar uit die gevangenis vrygelaat sou word. Dit het amptelik nege dae later gebeur. Hy moes venynige kritiek deur die Konserwatiewe Party, wat geglo het dat hy die blanke bevolking verraai het, verduur. Die Groepsgebiedewet, die Bevolkingsregistrasiewet en die Wet op Aparte Openbare Geriewe is herroep en die Nasionale Party is vir alle bevolkingsgroepe oopgestel.
De Klerk se ampstermyn is oorheers deur onderhandelinge vir ’n nuwe Suid-Afrikaanse grondwet, en op 17 Maart 1992 is ’n referendum onder blanke kiesers gehou om vas te stel of hulle ten gunste van die beëindiging van apartheid was. Die kiesers het oorweldigend ten gunste daarvan gestem en die onderhandelings kon voortgaan. Op 10 Desember 1993 het De Klerk en Mandela saam die Nobelprys vir Vrede ontvang vir hul rol in die beëindiging van apartheid.
Suid-Afrika se eerste volle demokratiese verkiesing het op 27 April 1994 plaasgevind. Die ANC het net-net nie daarin geslaag om ’n tweederdemeerderheid te behaal nie, en het 62% van die stemme op hom verenig. Die NP was tweede met 20% van die stemme, met die gevolg dat ’n regering van nasionale eenheid tot stand gekom het. Mandela het Suid-Afrika se eerste demokraties verkose president geword, met De Klerk as adjunkpresident saam met Thabo Mbeki. Op 9 Mei 1996 het De Klerk die NP uit die regering van nasionale eenheid onttrek.
In 1999 is De Klerk van sy vrou, Marike, geskei nadat sy verhouding met Elita Georgiades, die vrou van ’n Griekse skeepsmagnaat, op die lappe gekom het. Hulle is later getroud, en De Klerk moes kritiek van veral Calvinistiese Afrikaners verduur. Op 3 Desember is Marike in haar woonstel vermoor.
In Maart 2021 is mesotilioom by hom gediagnoseer; dit is ’n kanker wat die weefsel in die longe aantas. Hy was ’n strawwe roker maar het teen die einde van 2005 opgehou rook. Sy seun Willem is in Oktober 2020 in die ouderdom van 53 jaar oorlede. Hy word deur sy tweede vrou, Elita, en twee kinders oorleef.