Francis Dundas (1759-1824)

Willem Adriaan van der Stel (1664-1733)
December 7, 2020
George Macartney (1737-1806)
December 7, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Francis Dundas was tydens die eerste Britse besetting van die Kaapkolonie twee keer waarnemende goewerneur.

Hy is omstreeks 1759 in Skotland as seun van Robert Dundas en Jean Grant gebore, maar sy volle geboortedatum is nie bekend nie. In 1775 het hy ’n soldaat in die Britse leër geword.  In 1781 was hy een van die offisiere wat tydens die Amerikaanse Vryheidsoorlog by Yorktown saam met Cornwallis oorgegee het.  Hy is tot die rang van generaal-majoor bevorder en in Mei 1797 is hy aangestel as bevelhebber van die Britse troepe aan die Kaap na die eerste Britse besetting.

Nadat George Macartney in 1798 as goewerneur bedank het, het Dundas tot die volgende jaar waargeneem. In 1800 was hy die bevelvoerder van die Britse troepe aan die Oosgrens waar die Xhosas in opstand gekom het. In 1799 het George Yonge goewerneur geword, maar Dundas het van 1801 af weer waargeneem totdat die Bataafse Republiek weer in 1803 aan bewind gekom het. Na sy tydperk in die Kaap het hy verskeie belangrike militêre poste in Brittanje beklee en is in 1812 tot generaal bevorder.

Hy is in die Kaap met Eliza Cumming getroud en ses kinders is uit hul huwelik gebore, o.a. die oudste seun Francis wat in 1801 in die Kaap gebore is. Francis is op 15 Januarie 1824 in die ouderdom van 64 jaar te Dumbarton, Skotland, oorlede.