Fort Frederick, Port Elizabeth

William Philip-besproeiingstonnel, Hankey
September 10, 2019
Castle Hill-pastorie, Port Elizabeth
September 10, 2019

Gedurende die laaste helfte van die 18de eeu het die veeboere deurgedring tot aan die Visrivier en Algoabaai het binne die sfeer van botsing tussen Boer en Xhosa gekom. In 1799, nadat die Derde Xhosa-oorlog deur ’n onbevredigende wapenstilstand voorlopig beëindig was en daar in die distrik Graaff-Reinet nog onrus ten gevolge van die sogenaamde Van Jaarsveld-rebellie teen die Britse regering geheers het, is Fort Frederick aan die oostekant van die Bakenrivier opgerig.

In der waarheid was die vernaamste doel vir die oprigting van hierdie fort nie soseer die verdediging

teen die Xhosa nie, as ’n militêre pos vanwaar ’n wakende oog oor die bedrywighede van die burgers van Graaff-Reinet gehou kon word. Terselfdertyd sou die bestaan van so ’n fort die landingsplek te Algoabaai beveilig.

In Augustus 1799 is allereers ’n blokhuis naby die drif deur die Bakenrivier gebou om sodoende die

watervoorsiening te beskerm. Daarna is ’n klipfort van 24 meter in die vierkant met drie meter hoë mure op die hoogte net bokant die blokhuis gebou. Dit is genoem na Frederick, hertog van York, en die eerste bevelvoerder was maj. Lemoine wat in Januarie 1800 deur genl. Dundas daar gelaat is met 350 soldate. Nadat die Britse troepe in September 1802 die fort verlaat het, is dit tydelik deur Thomas Ignatius Ferreira en ’n groep burgers beset. In dié tyd het die twee sendelinge, dr. Van der Kemp en James Read, daar teen die Xhosa skuiling kom soek.

In Mei 1803 het genl. Janssens, wat die bewind aan die Kaap namens die Bataafse Republiek oorgeneem het, Fort Frederick besoek en ’n garnisoen van 150 man van die Waldeck-regiment onder majoor Von Gilten daar gevestig. Volgens Janssens se beskrywing was daar toe verskillende geboue rondom die fort: ’n kaserne, ’n huis vir offisiere, ’n kommandantshuis, kosopslagplek, smidswinkel, bakkery en timmermanswinkel. Die fort het agt twaalfponderkanonne gehad en in die magasyn binne die fort was daar plek vir 900 kg kruit. Rondom die fort was paalheinings wat as krale vir die vee gedien het.

Na Von Gilten se vertrek het kaptein Ludwig Alberti bevelvoerder geword. Hy het daar gebly selfs nadat hy in 1804 die eerste landdros van Uitenhage geword het en onder sy bevel was die fort, wat kos betref, feitlik selfonderhoudend omdat die soldate ywerig tuingemaak het. In 1806 is hy deur luitenant-kolonel J.G. Cuyler opgevolg en in 1816 is die bevel oor Fort Frederick aan kaptein Francis Evatt van die 21ste Regiment Light Dragoons oorgedra.

Dit was vanuit hierdie fort dat daar oor die landing van die Britse Setlaars in 1820 toesig gehou is. Evatt het tot sy dood in 1850 bevelvoerder gebly.

In 1868 het die fort in onbruik geraak en het geleidelik verval. In 1889 het die regering dit tesame met vier ha grond aan die Stadsraad van Port Elizabeth oorgedra, maar dit het nogtans jare lank verlate gelê. In 1931 het die Historiese Monumentekommissie daarin begin belangstel en ’n bronsplaat met inskripsie daarop aangebring. In 1940 het die Kommissie dit omhein en ’n dak op die

ou magasyn gesit. Hierna is dit tydelik in ere herstel toe die Departement van Verdediging dit gedurende die Tweede Wêreldoorlog weer in gebruik geneem het. Na afloop van die oorlog is dit weer eens aan die Stadsraad terugbesorg wat dit as ’n monument in stand hou.

(Geproklameer 1936)

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 131-132.