Oorlog en die Oorlogsmonument
April 15, 2017
Historiese almanak
April 15, 2017

(Geskryf deur Willem Barnard, Laerskool Monument, soos verskyn in Historia Junior, Februarie 1971)

Florence Nightingale is op 12 Mei 1820 gebore in die dorpie Florence, na wie sy ook vernoem is. Sy was die tweede dogter van ryk en vooraanstaande mense. Haar kinderjare het sy in Engeland deurgebring, waar sy ook haar opleiding ontvang het.

Sy was ’n briljante jong dame en die sosiale lewe het haar gefrustreerd en gebonde laat voel. Vanaf 1837-1839 het sy saam met haar suster en ouers in Europa getoer. Daar is haar belangstelling in die verpleegkunde geprikkel. Gedurende hierdie toer besoek sy “The Deaconess Institution” in Keiserwarth, Duitsland.

In die winter van 1847-1848 besoek sy Rome. Daarna reis sy deur Italië, Griekeland en Egipte. Die volgende jaar keer sy terug vir ’n verdere opleiding van twee weke in Parys. Dit was die enigste formele opleiding as verpleegster wat sy ooit ontvang het.

In 1853 word sy superintendente van ’n private hospitaal in Londen, genoem “The Establishment for gentlewoman”. Haar deeglike en diplomatiese hantering van hierdie hospitaal laat die mense van haar notisie neem.

Intussen het oorlog tussen Engeland en Rusland uitgebreek (Die Krimoorlog) en Florence word deur die Minister van Oorlogvoering gevra om die pos van superintendente van al die leërhospitale te beklee. Met ’n staf van 38 verpleegsters, waaronder Rooms-Katolieke, Anglikaanse susters en studenteverpleegsters, pak sy die groot taak aan. Deur die toepassing van sanitasie en toegewyde sorg het sy binne ses maande die dodetal van 42 persent na 2.2 persent laat daal in die militêre hospitale. Haar rewolusionêre metode van verpleging het haar wêreldwye roem gebring. Die soldate het haar die “Vrou met die lamp” asook die “Engel van die Krim” genoem.

Aan die einde van die oorlog (1856) het sy na Engeland teruggekeer. As gevolg van haar werk in die Krim, is ’n bedrag van R88,ooo, die “Nightingale-fonds” aan haar geskenk. Sy wou dit egter nie aanneem nie en in 1860 word die “Nightingale-opleidingskool vir verpleegsters” daarmee gestig. Florence Nightingale het haar hele lewe aan die opleiding van verpleegsters, asook die verpleging van siekes gewy.

In 1863 ontvang sy die “Britse Rooikruis” en in 1907 word sy die eerste vrou om die “British Order of Merit” te ontvang. Haar gesondheid het nou veel te wense oorgelaat en op 13 Augustus 1910 is die “Vrou met die lamp” oorlede.

Die verpleegsters van die wêreld beskou haar vandag nog as die ideale verpleegster en waar leed en lyding versa word, sal haar naam altyd met eer vermeld word.