Jana
July 27, 2015
Gerrit Maritz se kinders
July 27, 2015

deur Louis Nel.

Kort voor die moord by Bloukrans het Wynand Bezuidenhout ’n boodskap aan sy vriend, Wynand Maré, gestuur om met sy familie by hulle te kom kuier. Maré maak hom toe klaar om te gaan en op die môre van 17 Februarie 1838, die dag van die moord, jaag hy sy span osse uit. Sy 15 jarige dogter, Hester, moes die osse oppas terwyl hy die wa laai, want hulle sou dieselfde oggend nog vertrek. Maar toe hulle wou inspan, makeer daar een van die agterosse. As gevolg daarvan kon hulle nie vertrek nie. Was dit een van die middel-osse, dan sou dit nie saakgemaak het nie, maar ’n agteros moes spesiaal afgerig word. Deur die verlies van die os kon hulle daardie dag nie na die Bezuidenhouts vertrek nie. Daardie aand het hulle die osse vasgemaak.

Die volgende oggend het Hester Maré opgestaan om die ketel te kook. Sy het net klaar vuurgemaak, toe sy skote hoor. In ’n tent langs die wa het ’n sekere Izaak van Niekerk geslaap. Hester gaan na die tent toe en roep: “Oom Izaak, hoor hoe skiet die mense, dis seker oom Piet Retief wat terugkom.”

Van Niekerk staan op en gaan ’n entjie van die tent af staan en luister. “Dit gaan vir my meer na vegskote as na vreugdeskote,” merk hy op.

Fea RobertseDie dag tevore het ’n jong meisie, Fea (Sophia) Robertse, by bekendes iewers by Bloukrans gaan kuier. Sy het haar perd die aand aan een van die waens vasgemaak. Gelukkig het hulle die volgende oggend die Zoeloes betyds gewaar, sodat sy tyd gehad het om die perd los te maak, tou in die bek te sit en bloots weg te jaag. Toe dit begin lig word, sien Hester haar aangejaag kom. Sy hardloop haar tegemoet en vra: “Fea, waarom jaag jy so?” “Ag, Here!” roep Fea uit, “maak wakker die mense, die Zoeloes vermoor al die mense daar onder by Bloukrans!”

Alles was nou in rep en roer. Die waens is haastig bymekaar gebring en meer as een laer is getrek. Daarna het verskeie afdelings manskappe (waarvan een onder bevel van Hans de Lange was), na die moordtonele vertrek om hulp te verleen.