FAK en ATKV kom tot stand

Stemreg vir vroue
January 23, 2015
Geesdrif en probleme van jeug
January 23, 2015

Hoewel Afrikaans amptelik erken is, is dit nog oral in die handel en staatsdiens afgeskeep. Daarop het ’n groep Johannesburgse Afrikaners gewys wat in 1929 in die pers betoog het dat die verengelsing nie gekeer kon word omdat daar nog geen organisasie is wat die kragte kon saamsnoer en help dat verenigings in aanraking bly met mekaar nie.

’n Sterk organisasie was nodig. Dit was die mening van veral ’n aantal Transvaalse Broeders soos die sekretaris, meneer Ivan Lombard. Die AB het voorbereidsels getref vir ’n taal- en kultuurkonferensie waarop 317 afgevaardigdes onder beskerming van die SA Akademie op 18 en 19 Desember 1929 in Bloemfontein die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gestig het. Doktor NJ van der Merwe, Nasionale LV vir Winburg, was voorsitter en Lombard sekretaris. Bekendes op die konferensie was die digter Jan Celliers, doktor AJR van Rhyn, redakteur van Die Volksblad wat in 1925 ’n dagblad geword het en die kunsskilder Erich Mayer van Fouriesburg. Die Duitsgebore Mayer het hom in 1899 by die Boeremagte aangesluit en is in 1900 as krygsgevangene na St. Helena gestuur. Veral sy uitbeelding van Boere op kommando en Nylstroomse Nagmaaltonele het hom beroemd gemaak.

Die intieme verbondenheid met die AB het gebly en die AB het die FAK soms geldelik gehelp. Die AB het die FAK as sy “openbare arm” beskou, skryf AN Pelzer in ’n boek oor die geskiedenis van die Broederbond.

’n Vroeë onderneming van die FAK was die uitgee van ’n boek wat in die volksmond bekend geraak het as Die FAK – die FAK-sangbundel. Die Afrikaanse Studentebond het die eerste aan so iets gedink en in 1929 liedjies begin insamel. Omdat die vordering so stadig was, het die ASB die FAK gevra om dit te doen. Doktor Hugo Gutsche, komponis van “Die lied van Jong Suid-Afrika” was die eerste redakteur. Die eerste eksemplare het in 1937 verskyn. Die bundel is telkens bygewerk en honderdduisende eksemplare is versprei. Die bundel het daarvoor gesorg dat liedjies soos “My nooi’ntjielief in die moerbeiboom”, “Dis heerlike lente” en “Die bootjie na Kammaland” volksbesit geword het.

Die leuse van die FAK, “Handhaaf en Bou”, was die titel van ’n reeks Engels-Afrikaanse woordelyste wat die FAK deur vakkundiges laat opstel het. Die eerste deel was Motorterme, gevolg deur Kruideniersware en Slagtersterme, en 12 lyste van veral Sportterme. Van 1937 af was doktor PJ Nienaber redakteur van die reeks. Só begin die loopbaan van hierdie groot kultuurbewaarder, wat ook ’n bibliografie van alle Afrikaanse boeke opgestel het.

Die FAK het Afrikaanse boeke gepropageer en Boekweke georganiseer. Daarop is boeke, manuskripte, briewe en portrette van skrywers uitgestal. Een slagspreuk het gelui: “Stuur vanjaar ’n Afrikaanse boek as Kersgeskenk!”

Binne twee jaar is 400 liggame by die FAK ingeskakel en nuwes gestig. Een daarvan was die ATKV, die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging, op 19 Augustus 1930 in Kaapstad. Dit het sy lede op allerlei maniere gehelp: met studielenings, ’n assuransieskema, ’n sterftefonds, ’n fonds vir weeskinders en vakansie-oorde. Nog ’n praktiese projek was die stigting in 1935 van die SA Noodhulpliga. Van 1931 af is Die Taalgenoot die ATKV se spreekbuis.