FAK bied beloning aan vir gesteelde De la Rey se gesteelde bronsbeeld

Gesprek oor genealogie en familiegeskiedenis is ononderhandelbaar
May 29, 2021
Nog op ons boekrak
May 29, 2021

Die graf van generaal Koos de la Rey in die Lichtenburg-begraafplaas in Noordwes is oor die naweek gevandaliseer en sy bronsbeeld, wat op sy graf rus, gesteel.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) bied ‘n beloning van R20 000 aan vir enigiemand wat kan help om die gesteelde bronsbeeld op te spoor.

De la Rey is een van die mees gevierde Boeregeneraals, wie se krygsvernuf hom as die Leeu van Wes-Transvaal bekend laat word het. Generaal Koos de la Rey het regdeur sy lewe ’n groot bydrae gelewer. Voor die oorlog het hy ’n belangrike minderheidstandpunt verteenwoordig. Tydens die oorlog was hy een van die mees onverskrokke en bekwame aanvoerders. Ná die oorlog het hy ’n belangrike bydrae gelewer om die vryheidstrewe by Afrikaners lewend te hou, teenoor die aanloklikheid van inskakeling by die groot Britse Ryk. Selfs ná sy dood was hy ’n simbool van Afrikanerskap en die strewe na ’n herstelde republiek.

Die FAK gaan die gesteelde bronsbeeld, wat deur Fanie Eloff in 1917 gemaak is, met “’n onvernietigbare replika” vervang nes dié organisasie in 2018 gedoen het toe pres. Paul Kruger se graf in die Heldeakker-begraafplaas in Pretoria gevandaliseer is en die borsbeeld op sy graf vernietig is.

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het Afrikaners met goeie reg rede om kwaad te wees oor die vernietiging van ons erfenis, maar ons is beslis nie moedeloos nie.

“Daar gaan nie ’n naweek verby waar kultuurorganisasies en gemeenskappe nie op ses of sewe plekke regoor Suid-Afrika hard aan die werk is om ’n graf, monument of erfenisterrein te versorg nie. Afrikaners is beslis besig om opnuut eienaarskap vir ons erfenis te neem.”

Jan-Danie Malan, kultuurorganiseerder van die FAK, was reeds Maandagoggend 8:00 by die graf om die skade te bepaal, ’n klag by die polisie te lê en met skrootwerfeienaars te skakel ingeval die beeld daar opduik.  

Jacques Müller, ’n beeldhouer van Pretoria, sal nes hy destyds ’n nuwe beeld van Kruger gemaak en dié beskadigde beeld reggemaak het, dié replika van De la Rey maak.

Müller sê: “Toe ek van die vandalisme gehoor het van een van ons grootste kultuurerfenisikone, het ek weereens besef nes met Kruger dat dit my kulturele verantwoordelikheid en plig is om die graf van De la Rey in ere te herstel.”

Jacobus Hercules de la Rey is in 1847 in die Winburg-distrik in die Vrystaat gebore. As jong man het hy nie dadelik gaan boer nie, maar eers ’n transportryer in en om die diamantvelde geword.

Die Anglo-Boereoorlog was die periode waartydens De la Rey sy naam gemaak het. Vroeg in die oorlog het sy een seun naby Magersfontein gesneuwel.

Ná die oorlog was De la Rey een van die mees gerespekteerde Boereleiers. Hy het aktief aan die heropbou van sy volk deelgeneem en was ’n lid van die Verteenwoordigende Regering wat die nuwe kolonie in 1904 van Brittanje ontvang het.

Met Uniewording in 1910 was hy een van die oprigters van die Suid-Afrikaanse Party, die party wat deur die meeste Afrikaners gesteun is. Hoewel verskille met partyleiers soos generaals Louis Botha en Jan Smuts al vroeër geblyk het, was hy een van hulle lojaalste ondersteuners. Hy is in die Senaat van die Unie van Suid-Afrika aangestel, waarvan hy tot sy dood ’n lid was.

Toe De la Rey in 1914 dood is, kon sy politieke loopbaan nog vele hoogtepunte opgelewer het. Hy is deur die polisie doodgeskiet toe sy motor deur ’n padblokkade gejaag het. Die polisie het die fout gemaak om te dink dat dit die motor van ’n berugte rowerbende was.

Ondersteun die FAK-Geskiedenisfonds en dra by tot die bewaring en bevordering van Afrikanerbeelde en monumente. SMS GENERAAL na 45730 (R1,50)

*Die FAK is ’n organisasie sonder winsbejag.

Powered by WPeMatico