FAK bied beloning aan vir gesteelde De la Rey se gesteelde bronsbeeld

Gesprek oor genealogie en familiegeskiedenis is ononderhandelbaar
June 4, 2021
Nog op ons boekrak
June 4, 2021

FDie graf van generaal Koos de la Rey in die Lichtenburg-begraafplaas in Noordwes is oor die naweek gevandaliseer en sy bronsbeeld, wat op sy graf rus, gesteel.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) bied ‘n beloning van R20 000 aan vir enigiemand wat kan help om die gesteelde bronsbeeld op te spoor.

De la Rey is een
van die mees gevierde Boeregeneraals, wie se krygsvernuf hom as die Leeu van
Wes-Transvaal bekend laat word het. Generaal Koos de la Rey het regdeur sy lewe
’n groot bydrae gelewer. Voor die oorlog het hy ’n belangrike
minderheidstandpunt verteenwoordig. Tydens die oorlog was hy een van die mees
onverskrokke en bekwame aanvoerders. Ná die oorlog het hy ’n belangrike bydrae
gelewer om die vryheidstrewe by Afrikaners lewend te hou, teenoor die
aanloklikheid van inskakeling by die groot Britse Ryk. Selfs ná sy dood was hy
’n simbool van Afrikanerskap en die strewe na ’n herstelde republiek.

Die FAK gaan die gesteelde bronsbeeld, wat deur Fanie Eloff in 1917 gemaak is, met “’n onvernietigbare replika” vervang nes dié organisasie in 2018 gedoen het toe pres. Paul Kruger se graf in die Heldeakker-begraafplaas in Pretoria gevandaliseer is en die borsbeeld op sy graf vernietig is.

Volgens dr.
Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het Afrikaners met goeie reg
rede om kwaad te wees oor die vernietiging van ons erfenis, maar ons is beslis
nie moedeloos nie.

“Daar gaan nie ’n
naweek verby waar kultuurorganisasies en gemeenskappe nie op ses of sewe plekke
regoor Suid-Afrika hard aan die werk is om ’n graf, monument of erfenisterrein
te versorg nie. Afrikaners is beslis besig om opnuut eienaarskap vir ons
erfenis te neem.”

Jan-Danie Malan,
kultuurorganiseerder van die FAK, was reeds Maandagoggend 8:00 by die graf om
die skade te bepaal, ’n klag by die polisie te lê en met skrootwerfeienaars te
skakel ingeval die beeld daar opduik.  

Jacques Müller,
’n beeldhouer van Pretoria, sal nes hy destyds ’n nuwe beeld van Kruger gemaak
en dié beskadigde beeld reggemaak het, dié replika van De la Rey maak.

Müller sê: “Toe
ek van die vandalisme gehoor het van een van ons grootste kultuurerfenisikone,
het ek weereens besef nes met Kruger dat dit my kulturele verantwoordelikheid
en plig is om die graf van De la Rey in ere te herstel.”

Jacobus
Hercules de la Rey is in 1847 in die Winburg-distrik in die Vrystaat gebore. As
jong man het hy nie dadelik gaan boer nie, maar eers ’n transportryer in en om
die diamantvelde geword.

Die Anglo-Boereoorlog was die
periode waartydens De la Rey sy naam gemaak het. Vroeg in die oorlog het sy een
seun naby Magersfontein gesneuwel.

Ná die oorlog was De la Rey een
van die mees gerespekteerde Boereleiers. Hy het aktief aan die heropbou van sy
volk deelgeneem en was ’n lid van die Verteenwoordigende Regering wat die nuwe
kolonie in 1904 van Brittanje ontvang het.

Met Uniewording in 1910 was hy
een van die oprigters van die Suid-Afrikaanse Party, die party wat deur die
meeste Afrikaners gesteun is. Hoewel verskille met partyleiers soos generaals
Louis Botha en Jan Smuts al vroeër geblyk het, was hy een van hulle lojaalste
ondersteuners. Hy is in die Senaat van die Unie van Suid-Afrika aangestel,
waarvan hy tot sy dood ’n lid was.

Toe De la Rey in 1914 dood is,
kon sy politieke loopbaan nog vele hoogtepunte opgelewer het. Hy is deur die
polisie doodgeskiet toe sy motor deur ’n padblokkade gejaag het. Die polisie
het die fout gemaak om te dink dat dit die motor van ’n berugte rowerbende was.

Ondersteun die FAK-Geskiedenisfonds en dra by tot die bewaring en
bevordering van Afrikanerbeelde en monumente. SMS GENERAAL na 45730 (R1,50)

*Die FAK is ’n organisasie sonder winsbejag.

The post FAK bied beloning aan vir gesteelde De la Rey se gesteelde bronsbeeld appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico