Eitemal
January 23, 2017
C Louis Leipoldt
January 23, 2017

Eugène Nielen Marais is op 9 Januarie 1871 op Daspoort, buite Pretoria, gebore. Hy was die jongste van dertien kinders.

In sy eerste 25 jaar verrig Marais meer met die pen, as joernalis, as die meeste ander mense. Hy vorm sterk politieke oortuigings en lewer baie skerp kritiek op die regering van die Zuid-Afrikaanse Republiek. Hy stel verskeie wanpraktyke aan die kaak.

In 1894 trou hy met Aletta Beyers, maar sy sterf ’n jaar later ná die geboorte van hulle seun. In sy verdriet neem hy sy toevlug na verdowingsmiddels, wat mettertyd ’n al hoe groter houvas op sy lewe begin kry.

Marais het van jongs af baie tyd in die veld deurgebring en naas sy liefde vir tale en skryf, was sy ander passie die natuurlewe. In 1896 vertrek hy na Londen om regsgeleerdheid te studeer. By sy terugkeer, net ná die sluiting van die Vrede van Vereeniging, skryf hy weer vir sy koerant, Land en Volk.

In 1905 publiseer hy sy gedig, “Winternag”, wat die eerste bewys dat daar werklike poësie in Afrikaans geskryf kan word. Hy lewer ook in talle artikels kragtige pleidooie vir Afrikaans as skryftaal. Hy maak ’n intensiewe en noukeurige studie van ’n trop bobbejane en skryf Burgers van die berge. Soortgelyk is die studie van miere wat neerslag vind in die bekende werk, Die siel van die mier.

Marais kry herhaalde aanvalle van malaria, wat hom nog sterker op verdowingsmiddels laat steun en bydra tot lang periodes van neerslagtigheid. Daarna publiseer hy steeds talle geskrifte in die vorm van gedigte, kritieke, populêr-wetenskaplike artikels en verhale. Sy gesondheid gaan baie agteruit en op 29 Maart 1936 beëindig hy sy eie lewe met ’n haelgeweer.