NP van Wyk Louw
January 23, 2015
Beeldende kunstenaars
January 23, 2015

Op 29 September 1936 het die digter Eugène Marais homself met ’n haelgeweer doodgeskiet op sy vriend Gustav Preller se plaas Pelindaba. Daarmee het ’n einde gekom aan die tragiese lewe van een van die briljantste Afrikaners van sy tyd.

Wat die publiek nie geweet het nie, was dat Marais ’n morfinis was. Waarom hy op 21-jarige leeftyd morfien begin gebruik het, weet niemand nie. Sy biograaf, Leon Rousseau, skryf dat die beroemde Engelse klassieke werk, The confessions of an English opium eater van Thomas de Quincey, seker iets daarmee te doen gehad het. In 1895 is Marais se jong vrou Lettie aan kraamkoors oorlede. Haar baba, ’n seuntjie, het oorleef. Daar kan waarheid steek in die populêre opvatting dat dit ’n slag was waarvan Marais nooit heeltemal herstel het nie, skryf Rousseau. Die morfien, later ook malaria, het sy kragte gesloop.

Soos reeds aangetoon, het Marais se gedig “Winternag” ’n belangrike rol in die taalbeweging gespeel. Daarna het Marais nog baie geskryf – weliswaar nie veel gedigte nie, maar tog ’n hele aantal wat feitlik volksbesit geword het. Een daarvan, “Mabalêl”, is aan byna enige Afrikaanse skoolkind bekend. Sy aangetrokkenheid tot bruin en swart mense is in sy poësie en prosa weerspieël, en Rousseau meen dat Versamelde Gedigte (lank ’n voorgeskrewe boek op skool) “feitlik vir seker ’ liberaliserende invloed gehad het”. Marais se Dwaalstories is later deur NP van Wyk Louw as van die grootste prosa in Afrikaans beskryf.

Marais het ook twee beroemde natuurwetenskaplike werke geskryf, Die siel van die mier en Burgers van die berge. Hierdie werke is albei later in Engels uitgegee – ongelukkig te laat vir internasionale erkenning. Die Amerikaanse dramaturg, Robert Ardrey, wat getroud was met die Suid-Afrikaanse aktrise Berdine Grünewald, het in 1961 in sy African Genesis geskryf: “As no gallery of modern art can fail to be haunted by the burning eyes of Vincent van Gogh, so the pages of no future science can fail to be haunted by the brooding, solitary, less definable presence of Eugène Marais. His was the first human mind to penetrate the secrets of the wonderful world of the animal, and to apprehend the legimitate mysteries of the wonderful world of man.”

Ardrey het in 1969 ook ’n lang inleiding geskryf tot Marais se The soul of the ape, ’n boek wat voortgekom het uit sy waarneming van bobbejane in die Waterberg van omstreeks 1908 af. The soul of the ape is in 1919 voltooi, maar eers ’n halfeeu later gepubliseer! Was dit vroeër uitgegee, sou dit bekend kon geraak het as een van die baanbrekerswerke op die gebied van die etologie (studie van die lewensgewoontes en gedrag van diere). In 1973 is vier ander ondersoekers met die Nobelprys vereer omdat hulle ’n nuwe vertakking van die wetenskap, die etologie, geopen het. Opvallend is Marais se belangstelling in die wrede kante van die natuur wat hy belangrik ag vir die voortbestaan van ’n gesonde ras. Hy sê in Die siel van die mier:  “Die natuur is altyd vyandiggesind teen die lewe, anders kon daar g’n uitsoeking wees nie.”