Daar’s ‘n engel in Willie Strauss se koskas
November 13, 2018
Die woonhuis van Andries Pretorius
November 13, 2018

’n Huldeblyk deur dr. Anton Rupert

Vroeër vanjaar het die Instituut vir Bedryfsadministrasie van die Universiteit van Pretoria dr. Anton Rupert uitgenooi om ’n lesing te hou oor “Natuurbewaringsbestuur”. Kort tevore het die S.A. Natuurstigting, waarvan dr. Rupert die President is, met ’n ruim jaarlikse bydrae die instelling van ’n Leerstoel in Natuurbestuur aan U.P. moontlik gemaak – die eerste leerstoel in sy soort in die Suidelike Halfrond. Die idee was om die lesing te verbind met die voorgestelde benaming van die leerstoel, t.w. die Anton Rupert-leerstoel in Natuurbestuur.

Voordat hy op 30 Augustus die gevraagde lesing gehou het – dit was ’n meesterlike uiteensetting van die onderwerp – het dr. Rupert versoek dat die leerstoel liefs vernoem moet word na “die één man aan wie die naam werklik toekom – Eugène Marais – en dit op die honderdjarige herdenking van sy geboortedag”. Aan dr. Rupert se edelmoedige wens is voldoen.

Dr. Rupert het toe sy skitterende lesing laat voorafgaan deur ’n ewe skitterende huldeblyk aan Eugène Marais, en met sy welwillende toestemming word dié huldeblyk hier gepubliseer.

Dr. Rupert het verklaar dat daar twee belangrike redes is waarom hy graag Eugène Marais se nagedagtenis wou vereer en hom soos volg uitgelaat:

 

Eerstens is Eugène Marais ongetwyfeld die grootste natuurnavorser van ons eeu. Hier volg wat die bekende Amerikaanse skrywer, Robert Ardrey, in 1916 in sy “African Genesis” sê:

“Tragic, unknown Eugène Marais, the South African naturalist…was the purest genius that the natural sciences have seen in this century. And no discussion of animal societies can open without homage to his name.

“Marais began his work at the turn of the century and was the true pioneer of all that may lie ahead of us in our new understanding of ourselves. His was the first eye to see clearly and with only occasional anthropomorphism the behaviour of man in the behaviour of animals. His were the first studies of both insect and primate societies to be made in terms of their relevance to the origins of our own. His was the first mind to grasp without inhibition at that taboo subject, the evolution of the human soul.

“And his were the first prolonged observations of primate behaviour to be made in a state of nature. But that I have not included his studies in the history of the contemporary revolution is for a very simple reason. They remained, with one extraordinary exception, unknown to science, for they were written in Afrikaans.”

En dit bring my by die tweede belangrike rede waarom die eer hom toekom, en nóu toekom op hierdie gedenkwaardige honderdjarige herdenking (of moet ek sê gebrek aan herdenking?) van sy geboortedag. Die rede – sy liefde vir sy moedertaal het nie alleen gelei tot die skepping van die eerste onsterflike gedig in Afrikaans nie – “Winternag” van 1905 was die oortuigingskreet van Afrikaans – dit het meer gespreek vir hierdie jong taal as honderde toesprake. Maar dit het ook gelei daartoe dat hy sy wetenskaplike artikels in sy eie taal gepubliseer het, alhoewel hy Engels miskien selfs beter magtig was. Trouens, hy het reeds op twaalfjarige ouderdom voortreflik in Engels gedig.

Hy het self baie later, in 1935, aan sy vertaler in Londen geskryf: “lt was for purely sentimental reasons that I refused to write in any language but Afrikaans, notwithstanding the fact that I am far more fluent and more at ease in English.”

En omdat hierdie artikels nie in ’n wêreldtaal verskyn het nie, het Eugène Marais vergete gebly. Trouens, nie alleen vergete nie – sy hipotese van die organiese eenheid van die miershoop is deur ’n Vlaamse Nobel-skrywer, Maurice Maeterlinck, wat Afrikaans kon lees, geplagieer in die boek “The Life of the White Ant”.

As Eugène Marais hierdie gedagtes in Engels geskryf het, was hy wêreldberoemd. Hierdie “lonely, tragic, unknown Afrikaner”.

Maar wat ’n bate vir Afrikaans. Wat ’n wonder dat “Winternag” so vroeg die pletbaarheid, die krag, die dinamiek van ’n nuwe taal kon weergee.

“Hierop was eens die hoop van een Volk gevestigd!” sê W.E.G. Louw in “De Nieuwere Afrikaanse Poezie” (Den Haag 1939).

Mag ek herinner aan:

O koud is die windjie en skraal. En blink in die dof-lig en kaal, so wyd as die Heer se genade, lê die velde in sterlig en skade. En hoog in die rande, versprei in die brande, is die grassaad aan roere soos winkende hande.

en vervolg in die Engelse vertaling van Guy Butler:

O tune grief-laden on the east wind’s pulse like the song of a maiden whose lover proves false. In each grass blade’s fold a dew drop gleams bold, but quickly it bleaches to frost in the cold!

En so lui die Italiaanse vertaling deur Giacomo Prampolini:

Oh, mesto il motivo sul ritmo del vento d’est, come il canto d’una fanciulla abbandonata in amore. In ogni piega di stelo sfavilla una goccia di rugiada, e presto si scolora nel freddo a brina.

Eugène Marais het deur hierdie enkele gedig alleen ons hulde regverdig.

Marais het, in twee periodes, van 1905 en in die jare twintig herhaaldelik ’n nuwe geslag digters ingelui met sy gedigte.

In die tweede periode het hy, wat die ballade betref, die eerste werklik ordentlike Afrikaanse ballades geskryf.

Eerstens die Germaans-Afrikaanse ballade “Mabalel”. In hierdie ballade word die Germaanse monster ’n krokodil – nie meer die draak nie – en die koningsdogter is ’n swart prinses.

Tweedens  het hy die Franse ballade laat herleef met “Skoppensboer”.

“Mabalel” en “Skoppensboer” handel albei oor die dood. Die Germaanse meer epies, verhalend, die Franse meer bespiegelend en woordryk. Laasgenoemde is om die klawers-spel gebou. Hierin styg hy tot die algemeen menslike leed:

’n Druppel gal is in die soetste wyn; ’n traan is op elk ‘vrolik’ snaar, in elke lag ’n sug van pyn, in elke roos ’n dowwe blaar.

of in die Duitse vertaling deur Helmut Erbe:

Ein Tropfen Galle ist im süss’sten Wein Und keine Saite tränenlos, In jedem Lachen seufzt die Pein, Ein mattes Blatt in jeder Ros.

Hoe jammer tog dat hy net een maal ’n genre beproef en dit dan daarby laat.

Die eerste vrye vers wat in Afrikaans geskryf is en wat, volgens Dirk Opperman, vandag nog die hoogtepunt van ons vrye vers vorm, kom uit die pen van Eugène Marais nl. “Die Dans van die Reën”. Weer eens word die natuur die bron – die reën word persoonlik. Daar is geen digter in Afrikaans wat so min gedigte geskryf het en wat so ’n hoë bewondering verwek het – ’n bewondering wat nog steeds toeneem.

Hy het sy prosa telkens gebaseer op ’n besondere natuurverskynsel, soos die parende skilpaaie in “Dieprivier”. In sy “Dwaalstories” het hy ’n hoogtepunt in die Afrikaanse vertelkuns bereik.

So skryf Van Wyk Louw in “Vernuwing in die Prosa”(1961):

“Ek het, ná die herlees van die bespreekte werke, ook weer ’n slag Marais se ‘Dwaalstories’ herlees. Moet ek erken: heel vroeg was hierdie stories vir my ‘oulik’, nie ‘onaardig’ nie, ‘fyn’? Eers baie, baie later ‘sjarmant’, fassinerend. Vandag sou ek sê: hierdie vier stukke is van die grootste prosa in ons taal. Vreemd tog, dat ’n mens dit nóu sê. So groei literêre oordeel.”

As kritikus het Marais se maatstaf vir goeie letterkunde “natuurgetrouheid” as voorwaarde gestel, soos bv. in die bespreking van “Lentestemme” van Kleinjan van Bruggen.

Hy het daarop gewys dat ons heeltemal ’n ander lente het.

Marais het ook Generaal Smuts se “Holisme” op natuurkundige gronde gekritiseer in ’n artikel in “Die Huisgenoot” van 24 September 1926.

Eugène Marais was dus beide een van die wêreld se begaafste maar miskende natuurkenners asook een van ons begaafste maar miskende digters.

In een van sy artikels in Die Vaderland skryf Marais dat Franciscus van Assisi, die sagmoedige heilige, die voëls as sy “liewe gevleuelde boeties” beskou het. Marais self het ook die voëls met liefde waargeneem.

In ’n artikel, “My sonderlinge Buurman”, skryf Adinda Eyssen:

“Marais was ’n liefhebber van die natuur en diere. Net soos hy ’n studie van die siel van die mier gemaak het, so het hy ook ’n studie van die siel van die aap gemaak, soos blyk uit sy boek ‘Burgers van die Berge’. Hy kon ure lank vertel van sy ondervindings met ape.”

“Een aand het hy ons vertel hoedat hy eendag, toe hy in Londen was, by die dieretuin aankom en ontdek dat een van die klein sjimpanseetjies longontsteking het. Hy het die opsigter gevra of hy die diertjie mag saamneem huis toe om dit te versorg en verpleeg – Marais het ook ’n tyd lank in die medisyne gestudeer. Hy vertel dat die dertjie net soos ’n kind kon huil en dat die mense hom gevra het van wanneer af hy dan ’n baba by hom in die kamer het.”

“Die sjimpanseetjie het gesond geword, maar Marais kon nie dadelik van hom afsien nie. Hy het die diertjie toe by hom gehou en die meneertjie geleer om met hom aan tafel te eet. Hy kon die kleinding alles leer, maar het nooit daarin geslaag om hom te leer om nie ’n bietjie suiker of konfyt uit die potjie te steel, sodra sy baas sy rug gedraai het nie. Hy het die aap ook tot by drie leer tel, maar verder wou dit maar nie vorder nie. Hy het ook vertel dat ape nooit ’n groep van meer as drie mense aanval nie. Dat ape so ’n rekenkundige registreerpersoonlikheid het, het ek nooit geweet nie.”

“Marais moes na Parys en neem toe die sjimpanseetjie terug na die dieretuin. ’n Paar jaar later, op ’n openbare vakansiedag, toe die dieretuin van besoekers wemel, gaan hy weer soheentoe. Toe hy tussen die menigte mense ’n ent van die sjimpansee se hok af op ’n bank gaan staan, het die dier hom reeds gewaar en byna die tralies van sy hok gebreek om by sy baas te kom. Die dier was so onkeerbaar dat die opsigter Marais toegelaat het om in die hok in te gaan, waar die sjimpansee hom net soos ’n mens omhels het en hom nie weer wou loslaat nie.”

As Eugène Marais sy bevindings in Engels sou geskryf het, sou die wêreld vroeg reeds bewus gewees het van sy “eerstelingskap”. Dit sou sestig jaar neem voordat opgeleide wetenskaplikes hom sou volg in die studie van die bobbejaan in die natuurlike staat. Voorheen was hulle altoos besig met studie van die abnormale – die gevangene.

Eers in 1961 het S.L. Washburn en Irven De Vore in hul publikasie “The Social Life of the Baboon” die dier in natuurlike staat beskryf. En hulle word in die sestigerjare gevolg deur talle ander wetenskaplikes wat alle soorte primate in natuurstaat bestudeer. Almal bevestig die ingewikkeldheid van die primatelewe soos reeds in 1922 deur Marais opgeteken.

Marais was die voorloper van wêreldbekendes. Ook van Konrad Lorenz, vandag bekend as die vader van “Etologie”, die snelgroeiende wetenskap wat handel oor die “biologie van die gedrag”. “As Lorenz die vader van Etologie was, was Marais die profeet daarvan”, sê Robert Ardrey.

Foto: ’n Faksimilee van ’n bladsy uit een van Eugène Marais se aantekeningboeke. Dié besondere bladsy bevat enige van sy waarnemings oor die bobbejane wat in hul natuurlike staat bestudeer het.

Vandag kan u boeke oor die onderwerp selfs op lughawes koop. “Human Aggression” van Anthony Storr, “Man meets Dog” en “The Companion in the Birds’ World” van Konrad Lorenz, “Study of Instinct” en “Social Behaviour of Animals” van Tinbergen, “The Human Zoo” en “The Naked Ape” van Desmond Morris, om maar ’n paar te noem.

“His was the first human mind to penetrate the secrets of the wonderful world of the animal and to apprehend the legitimate mysteries of the wonderful world of man”, sê Ardrey.

Maar soos Marais nooit die vertalings van sy gedigte in Italiaans of Duits sou beleef nie, sou hy onbewus van die erkenning van sy pionierskap sterf.

Marais was digter, advokaat, joernalis, sielkundige, storieverteller en natuurkundige. Ongelukkig was hy slagoffer van malaria en lyer aan neuritis wat hy met doofmiddels bekamp het.

Miskien sou dit anders gewees het as hy sy jong vroutjie nie so vroeg, by die geboorte van sy enigste seun, verloor het nie. Wie weet? Sy laaste veertig jaar was een van eb en vloed.

In die woorde van M.E.R. in Die Burger van 6 April 1936, kort na sy dood:

“So neem ons van die kunstenaar die goeie en die verwarde, net wat hy sin en wil het om aan ons te gee. Solank hy leef sien ons die verwarde; en ons betreur dit; en ons dwing altyd om te se: ‘Ag’ as daardie verwarring nou nie daar was nie, hoe skoon sou dan nie wees die gifte en gawe wat ons van hom ontvang! ‘So het ek eendag aan Langenhoven gesê, en hy het ’n antwoord gegee wat ek nooit vergeet het nie. Hy was ’n innige bewonderaar van Eugène Marais se gedigte, wat hy hoër gestel het as dié van enigeen. Hy antwoord toe, soos ek dit naastenby reg onthou: ‘Sulke mense is maar so; jy moet ook die deurmekaar kant aanneem; en nie vergeet nie dat jy sonder daardie kant ook nie die ander kant sou kry nie’.”

“Wie weet”, sê ds. F.G.M. du Toit in sy proefskrif, ‘Eugène Marais – sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde’ (1940) “as Langenhoven se woorde vroeër meer ingang gevind het, of daar nie tydens sy lewe reeds meer opregte waardering vir Marais se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde sou gewees het nie.”

Wie weet, vra ek nou, hoe wêreldberoemd hy sou gewees het as hy sy natuurstudies in dié vir hom makliker Engels gepubliseer het?

Wat ek wel weet, is dat Robert Ardrey groot waarheid ken as hy sê:

“As no gallery of modern art can fail to be haunted by the burning eyes of Vincent van Gogh, so the pages of no future science can fail to be haunted by the brooding, solitary, less definable presence of Eugène Marais.”

Reeds op 26 April 1962 het ek in ’n toespraak voor die African Affairs Society of America in New York, getiteld “Ek pleit vir my land en al sy mense”, my soos volg uitgelaat:

“Mag ek herinner aan Eugène Marais, regsgeleerde, digter en wysgeer wat ‘Die Siel van die Mier’ geskryf het, ’n man wat deur een van u (Amerikaanse) wetenskaplikes beskryf is as die grootste natuurnavorser van ons eeu.”

Ek vra u dus, my ou Alma Mater–gedenk die grootste natuurkundige onder ons deur in die jaar van die honderdste herdenking van sy geboortedag hierdie eerste leerstoel in sy soort te noem “DIE EUGÈNE MARAIS LEERSTOEL IN NATUURBEWARING”.

Ek dank u.

 

KORT LEWENSKETS

Eugène Nielen Marais is op 9 Januarie 1871 in Pretoria gebore. Marais se moeder, Sophia van Niekerk, was ’n agterkleindogter van die suster van kommissaris-generaal J.N. de Mist. Die suster was getroud met Jacob van Reenen, eienaar van Ganzekraal, die familieplaas van moederskant, in die distrik Malmesbury. Sy grootmoeder was van vaderskant ’n kleindogter van Van Rheede van Oudtshoorn, wat as goewerneur op die uitreis na ons land oorlede is.

Sy eerste skoolonderrig het Marais in Pretoria ontvang, eers van mej. Anna Pttger, toe van ’n Engelse predikant, aartsdeken A. Roberts, en later van ds. A.J. Begemann. Kort ná die Eerste Vryheidsoorlog in 1881 het sy moeder hom op tienjarige leeftyd saam met ’n handelaar vir verdere onderrig na Boshof in die Vrystaat gestuur, waar hy by sy oudste broer, Charles Marais, die latere voorsitter van die Unie-volksraad en senator, ingewoon het. In 1884 is hy na die Paarl om daar verder te studeer, en toe hy skaars sestien jaar oud was, het hy die matrikulasie-eksamen afgelê.

Marais is terug na Pretoria en werk eers as klerk in ’n prokureurs-kantoor om vervolgens verslaggewer te word by die Transvaal Advertiser. In 1890 word hy redakteur van Land en Volk, en mederedakteur van The Press, ’n Engelse dagblad in Pretoria, wat ook ’n Hollandse weekblad, De Pers, uitgegee het. In 1892 het hy die enigste eienaar van Land en Volk geword en die blad geredigeer as vertolker van die sienswyse van die volgelinge van genl. Piet Joubert. Hierdeur het Marais betrokke geraak in ’n reeks opsienbare lasteraksies, sommige waarvan hy gewen en ander waarvan hy verloor het.

Eugène Marais is in 1894 aan die Klein-Toegela getroud met Aletta Beyers, ’n kleinniggie van die latere genl. Christiaan Beyers. Die jaar daarop het die bitterste slag van sy lewe hom getref, toe sy vrou oorlede is met die geboorte van hul eerste kind. “Tydelike uitkoms uit sy lewensmart en die gevoel van troosteloosheid van sy bestaan het Marais daarna altyd weer kon vind, maar die dure prys wat hy daarvoor moes betaal, is nie te bereken nie. En hier is ook die sleutel van die hoofingang tot die gebou wat mens die geheime openbaar van die tragiese verloop van Marais se latere lewe,” aldus F.G.M. du Toit.

In 1898 is Marais na Londen, waar hy eers in die medisyne studeer en hom toe as advokaat bekwaam op aandrang van Ewald Esselen. Hy het baie reise na die vasteland van Europa onderneem. Die verloop van die Tweede Vryheidsoorlog het hom na die geleentheid Iaat gryp om saam met ’n klein Duitse ekspedisie ’n poging aan te wend om langs die Ooskus ’n hoeveelheid ontploffingstowwe, ammunisie en medisyne na die vegtende kommando’s te bring. Hulle was egter te laat, want in Beira het die tyding hulle bereik dat die Vrede van Vereeniging gesluit was. Op hierdie reis het Marais gevaarlik siek geword aan malaria, wat sy gesondheid ’n gevoelige slag toegedien het.

Ná die vrede het hy weer ’n tydlank Land en Volk uitgegee, en toe in Pretoria en Johannesburg as advokaat gepraktiseer. Daarna is hy na Waterberg, waar hy aangestel is tot resident-vrederegter, met hof en tronk op die plaas Rietfontein 1638. Hy het ook in die geneeskundige behoeftes van ’n groot streek gratis voorsien. Dit is hier waar hy ’n deeglike studie van miere en bobbejane gemaak het.

Sy gesondheid het so agteruitgegaan dat hy in Januarie 1917 terug na Pretoria is. Hy het hier weer as advokaat gepraktiseer, maar sy gesondheid het gaandeweg so verswak dat daar van ’n regspraktyk nie veel tereggekom het nie. Hy moes dit prysgee en was van 1 Oktober 1921 tot 30 Mei 1922 die vennoot van prokureur S.J. van Wyk (Oom Fanie) op Erasmus (Bronkhorstspruit).

Marais word later prokureurs-vennoot van mnr. R.G. Coetsee op Heidelberg, Transvaal, maar sy aandeel aan die regspraktyk was gering. Hy bly ongeveer ses jaar op Heidelberg, waar hy sy aansienlike beterskap grotendeels te danke het aan dr. A.G. Visser. Marais moedig Visser aan om van sy gedigte te publiseer en ontdek op dié wyse die beskeie volksdigter aan die Afrikaanse volk.

Begin 1927 is Marais terug in Pretoria en woon geruime tyd by sy vriend Gustav Preller. Hoewel sy toestand sodanig is dat hy nie meer praktiseer nie, bied hy tog gewaardeerde hulp aan die redaksie van Ons Vaderland, waarvan sy vriend hoofredakteur is. Hy bly ’n gereelde medewerker van die blad totdat een van sy bydraes in die voorjaar van 1934 deur die redaksie afgewys is, waarná hy sporadies nog ’n paar bydraes in Die Volkstem plaas.

Foto: In hierdie huis van wyle Gustav Preller te Pelindaba het Eugène Marais ’n ruk lank gewoon.

Op 29 Maart 1936, op ’n groue winternag, ná ’n reënbui, het Eugène Marais, onder ’n doringboom op die plaas Pelindaba van sy vriend Preller, naby Pretoria, alleen die donker nag tegemoet gegaan. ’n Haelgeweer is naby die Iyk gevind. Sy verminkte oorskot is in die ou Pretoriase kerkhof gelê naas die graf van sy vroeg gestorwe eggenote.

Foto: Eugène Marais se graf in die heldeakker van die ou Pretoriase kerkhof

Werke uit die pen van Eugène Marais is:

Magriet van Laastelust; Die Weerwraak van Sannie; Gedigte; Dwaalstories en Ander Vertellings; Natuurkundige en Wetenskaplike Studies; Versamelde Gedigte; Die Swart Verraad–’n Drama in Vyf Bedrywe; Waar die Blomme Geur – ’n Toneelspel vir Kinders in Een Bedryf; Die Huis van die Vier Winde en Ander Verhale; Die Leeus van Magoeba en Ander Verhale; Die Siel van die Mier; Die Mielies van Nooitgedacht; Nag – Drama in Vier Bedrywe; Burgers van die Berge.

 

Bron: Rupert, Anton. 1971. Eugène Marais kom dié eer toe. ’n Huldeblyk. Lantern, Desember, pp. 41-46.