Eugène Marais dramatiseer Koranna-dwaalstorie oor inheemse musiek

Koina se musiekinstrumente verwant aan Europa s’n
Augustus 9, 2016
Waar Boer en Boesman se musiek harmonieer
Augustus 31, 2016

Marthinus van Bart

[email protected]

Afrikanergeskiedenis Eugene Marais

Eugène Marais, wetenskaplike, digter en skrywer

Afrikanergeskiedenis Boesman Ou Hendrik deur ERICH MAYER

Die Boesman-storieverteller Ou Hendrik, soos in 1913 deur Erich Mayer geskets.

Die digter, skrywer, joernalis en natuurwetenskaplike Eugène Marais se Koranna-dwaalstories is sekerlik die uniekste vertolking van die Koina en Boesmans se verhale en sages wat hy in sy joernalistieke omgang versamel het. En as dit by die poëtiese beskrywing van hul musiek en instrumente kom, is daar niemand wat hierby kan kers vashou nie. Dit is veral met die dwaalstorie “Die Lied van die Reën”, wat in een van die voortreflikste gedigte in Afrikaans kulmineer, dat hy die leser betowerend meevoer. Een van sy bronne was inderdaad ’n bejaarde Boesman wat ouer as honderd jaar geword het, Ou Hendrik, van wie Erich Mayer in 1913 ’n skets gemaak het.

Die verhaal (die kerngedagtes word weens gebrek aan ruimte hier in fragmente weergegee) speel af in die tyd van die Groot Droogte: Dit was die tyd toe Krom Joggom Konterdans van Das-se-kant die eerste viool [lees: ramkie] met vier snare gemaak het. En toe die reën baie wegbly, roep Tuit-Miershoop, die Voorman van Das-se-kant, die Groot Raad bymekaar.

En Krom Joggom Konterdans werk aan die viool [ramkie]. Hy het die oues by die vuur hoor vertel dat die Baas-geluidmakers vanmelewe fyn snare gedraai het uit garingvlees van die witrugratel, en dat elkeen vir ’n maand gestryk word met elandswortel tot elke draad ’n spinnerak is. En die horinghout wat in die klipskeure groei, word met wit sandklip geskuur totdat dit in die wind gons, en dan word die gate oor ’n tambotiehoutvuur gebrand, en dit was die viool [ramkie] van die Baasspelers wat die Grootrivier deurgetrek het met Jonkman Afrikaner.

En Klein Joggom Konterdans het die ratelsening gevat, en lank in die gebergte gesoek; en saans, as die kleingoed uintjies grou, dan haal hy elandswortels uit in die sandvlakte; en hy het die snare gedraai en gestryk tot dit soos haeldrade lyk; en snags op die slaapmat vryf hy die horinghoutdop totdat dit dreun soos wind in die groot spelonk.

En toe die Raad binne woel, het Krom Joggom Konterdans ’n vuurtjie van tambotietakkies agter die bokskerm gemaak, en vir laas stryk hy sy snare met die vars sop van elandswortel, totdat dit lyk soos die reën wat deur die vuurlig skiet, en hy kleur die horinghout in die tambotierook, en hy rek sy strykstok van kwaggastert, en hy span sy snare en draai die ore vas, en hy stryk saggies met die boog.

Afrikanergeskiedenis EgbertvBart3

Egbert van Bart van Groot-Marico met sy Ystervarkie, ’n variasie van die inheemse ramkie. Foto’s: Teresa Smith

En toe die rooidag kom, toe hoor hulle Leeu Makding blaas op sy tromp onder op die werf van die Bessiebome. En hulle hoor die speel van die viool [ramkie], en hulle begin stamp met die voete, en die oues staan op, en hulle sê: “Arrie! Is daar ’n bruilof in die land?” En toe hy naby kom, stamp almal met die voete.

En Konterdans sing “Die Lied van die Reën”, en hy speel op sy viool [ramkie]. En dit was Krom Joggom Konterdans wat die water uitgedeel het …

“Die Lied van die Reën”

(Van Krom Joggom Konterdans)

Eers oor die bergtop loer sy skelm,

en haar oë is skaam;

en sy lag saggies.

En van ver af wink sy met die een hand.

 

Haar armbande blink en haar krale skitter;

saggies roep sy.

Sy vertel die winde van die dans.

En sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.

 

Die grootwild jaag uit die vlakte.

Hulle dam op die bulttop.

Wyd rek hulle die neusgate,

en hulle sluk die wind;

en hulle buk, om haar fyn spore op die sand te sien.

Die kleinvolk diep onder die grond

hoor die sleep van haar voete,

en hulle kruip nader en sing saggies:

“Ons Ousus! Ons Ousus! Jy’t gekom! Jy’t gekom!”

 

En haar krale skud,

tot die oudstes op die slaapmatte wakker skrik in die nag

en gesels in die donker;

en haar koperring blink in die wegraak van die son.

 

Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;

sy trap af van die hoogte;

sy sprei die vaal karos met altwee arms uit;

die asem van die wind raak weg.

O, die dans van ons Ousus!